Wanneer ek aan ‘n prentjie van laerskoolkinders dink, dink ek aan energieke kinders wat by die skool rondhardloop, speel en leer. Ek dink aan kinders wat gereeld vir hul ouers vra “hoekom” en wat begin besef dat dit lekker kan wees om aan iemand anders, behalwe jouself, te dink. Die middelkinderjare kan van die lekkerste en meer stabiele tye in jou kind se lewe wees.

Die tydperk tussen 7 en 12 jaar oud staan as die middelkinderjare bekend. Vanaf sewe beweeg jou kind vanaf ‘n egosentriese kleuter na ‘n logiese laerskoolkind. In hierdie fase is kinders se denke meer logies en georganiseerd. Hulle ontwikkel die vermoë om konkrete probleme op te los en is meer stabiel en redelik. Vir kinders in hierdie fase is sosialisering en leer baie belangrik en hulle begin besef dat mense dinge verskillend kan beleef.

Tydens die middelkinderjare is jou kind se fisiese ontwikkeling stadiger as in die vorige fases. Hulle ervaar egter ‘n versterking in fisiese krag en ook verbeterde motoriese beheer. Jou kind het in hierdie fase meer selfvertroue ten opsigte van wat hulle met hul lyfies kan doen. Dit is gewoontlik die fase waar jou kind sal begin belangstel in aktiwiteite soos sport, dans en gimnastiek.   Dit is belangrik hier dat jou kind ‘n veilige plek het waar hulle hierdie fisiese aktiwiteite kan beoefen  – dit vind gewoontlik by die skool plaas, waar dit dan ook gemonitor kan word. Wees bewus van jou kind se fisiese groei – kinders geniet dit om gereeld gemeet te word sodat hulle kan sien hoe lank hulle geword het – dit help ook jou kind met sy sin van self ontwikkeling. Tydens hierdie fase begin meisies en seuns se voorkoms ook van mekaar te verskil.

Vir kinders in die middelkinderjare is skool gaan een van die belangrikste take. Jou kind begin nou leer hoe om te lees, te skryf, beter te praat en somme te doen. Soos jou kind se kogntiewe vermoens verbeter, verbeter sy vermoë om homself uit te druk en ook om die wêreld beter te verstaan. Soos reeds genoem is laerskoolkinders ook baie logies en konkreet. Hulle kan dus nie abstrak (in terme van moontlikhede) dink nie. Jou kind se morele ontwikkeling verander ook van onmiddelike behoefte bevrediging na sosiaal aanvaarbare gedrag.

Kinders in hierdie fase kan baie “tegemoegkomend” voorkom: hulle wil graag hê dat ander van hulle moet hou. Kinders kan dus hier al kwesbaar vir negatiewe portuurgroepinvloede wees. Kinders kan ook maklik verantwoordelik vir hul ouers se geluk voel en sal beide wil tevrede stel. Gee dus vir jou kind gereelde erkenning vir take reggedoen en motivering om dit waarmee hy sukkel weer te probeer doen. Stel ook jou kind gerus dat hulle jou nie gelukkig hoef te maak nie en dat hulle nie verantwoordelik vir jou gevoelens is nie. In hierdie fase sal ‘n dogter begin om meer met haar mamma te assosieer en seuns met hul pappa’s. Onthou dat jou kind die reg het tot ‘n goeie verhouding met beide sy ouers.

In die middelkinderjare begin jou kind se egosentrisme verminder en dit word vir hulle belangrik om in te pas. Hulle word meer bewus van verskillende sosiale rolle en begin van hierdie rolle aanneem.  Jou kind wil dus deel van die gesin voel. Kinders wil help met verskillende take en dit is belangrik dat hulle doen aangesien dit hulle selfbeeld goed doen. Kinders het spasie nodig om te groei en te ontwikkel. Hulle het egter steeds voorspelbaarheid en goeie grense nodig ten einde veilig te voel om te eksperimenteer met gedrag en denke. Wanneer jou kind voel dat hy nie behoort nie, of nie deel van die gesin is nie, vorm hy ‘n swak sin van self en dit kan lei na verdere interpersoonlike probleme in sy toekoms. Jou kind kan ook uitreagerende gedrag toon ten einde raak gesien of aanvaar te word.  ‘n Goeie verhouding met ouers en ander volwassenes is dus baie belangrik vir jou kind se ontwikkeling.

Aangesien kinders in die middelkinderjare baie logies en konkreet dink, kan spelterapie van waarde wees in die hantering van trauma. Tydens die spelterapeutiese proses maak die terapeut van talle praktiese en konkrete hulpmiddels gebruik om kinders te help om hulself uit te druk. Die terapeutiese verhouding wat ek met die kinders bou is baie waardevol vir kinders in die fase aangesien ek ‘n gesonde, betroubare volwassene in hul lewens word. Deur grense en struktuur binne die sessie in te stel, kry die kinders ook die emosionele veiligheid wat hulle nodig het om hulself uit te druk en ook met nuwe gedrag te eksperimenteer. Aangesien spel ook op die aanleer van vaardighede fokus, kan dit waardevol wees om vir kinders beter hanteringsvaardighede aan te leer.

Kinders in die middelkinderjare is op ‘n manier “makliker” om te hanteer as kleuters en tieners. Hulle het ‘n ongelooflike  passie vir leer en om ‘n aktiewe deel van hul omgewing te vorm. Hulle wil help en deel wees van hulle gesin, al is dit net om vir mamma n koppie tee te maak, of n koek te bak. Gee vir jou kind al die geleenthede om vaardighede te ontwikkel – help jou kind om daardie koek te bak, al is dit ‘n gemors. Motiveer jou kind om te speel en om maats te maak – wees deel daarvan. Geniet hierdie tydperk saam met jou kind…… die tiener fase kom volgende en dit kan ‘n groter uitdaging vir ouers wees aangesien jou kind kan verander van ‘n maklike, toegewende kind na ‘n hardkoppige en emosionele tiener.  

 “Your children are the greatest gift God will give to you, and their souls the heaviest responsibility He will place in your hands. Take time with them, teach them to have faith in God. Be a person in whom they can have faith. When you are old, nothing else you've done will have mattered as much.”
Lisa Wingate

[EasyDNNnewsLink|7]

[EasyDNNnewsLink|8]