Ek is in die baie gelukkige posisie om elke dag met kinders te kan werk. Ek kry die geleentheid om 'n positiewe persoon in kinders se lewens te wees en hulle te help met die ontwikkeling van 'n goeie selfbeeld. In my praktyk kry ek egter ook te doen met talle volwassenes en ek sien die skade wat 'n slegte selfbeeld aan hulle en hulle verhoudings doen.

Ons lees en hoor gereeld van selfbeeld en hoe belangrik dit is, maar wat kan ons doen om ons kinders se selfbeeld te bou. Kom ons gaan kyk eerstens wat bedoel word met “selfbeeld”. Selfbeeld kan beskryf word as 'n persoon se siening van hom/haarself en sluit kognitiewe, emosionele en sosiale elemente in. In eenvoudige terme beteken selfbeed hoe jy jouself as mens evalueer en hoe jy jou rol in die wereld sal beskryf.

Kinders word ongelukkig nie met ‘n goeie selfbeeld gebore nie en talle aspekte kan die ontwikkeling van ‘n goeie selfbeeld in kinders benadeel. Dit is grootliks die taak van die ouers om ‘n goeie selfbeeld in kinders te bou. Soos kinders egter ouer raak, speel ander persone soos onderwysers en maats ook 'n rol in selfbeeld ontwikkeling. Hierdie aspekte is moeilik vir ouers om te beheer, maar indien ouers reeds 'n positiewe selfbeeld in hul kinders ontwikkel het, sal dit vir kinders makliker wees om negatiewe aspekte van buite positief te hanteer.

Hoe kan jy help in die ontwikkeling van 'n goeie selfbeeld in jou kind? Hier is ‘n paar wenke hoe jy as ouers ‘n aktiewe rol in die ontwikkeling van jou kind se selfbeeld kan speel:

  • Wees bewus daarvan dat jou kind ‘n unieke individu is. Dit is belangrik om individuele sterktes te motiveer. Kinders moet die geleentheid kry om hulself te wees. Jou kind is nie 'n klein replika van jou nie en jy kan nie jou eie lewe deur jou kinders uitleef nie.
  • Hou jou verwagtinge van jou kinders realisties en gee erkenning en motivering op 'n daaglikse basis. Kinders reageer baie beter op positiewe versterking, as negatiewe kritiek.
  • Gee vir jou kind die vryheid om ouderdomsgepaste keuses te maak en los spasie vir foute maak. Kinders moet besef dat almal foute maak en dat dit geleenthede vir leer is. Gee ook vir jou kind ouderdomsgepaste verantwoordelikhede. Dit help om jou kind te bematig en lei na die bemeerstering van take.
  • Aanvaar jou kind se negatiewe emosies en leer hom/haar hoe om daaroor te praat en hoe om dit te hanteer. Wees 'n goeie rolmodel vir die effektiewe hantering van emosies.
  • Maak pret, lag, speel en kreatiwiteit 'n daaglikse aktiwiteit in jou gesin.Gee vir jou kinders onvoorwaardelike aanvaarding en liefde en maak dit vir hulle so maklik as moontklik om met jou te praat. Jou kinders moet weet dat jy altyd vir hulle lief is, maak nie saak wat nie. 

Indien ouers die bogenoemde wenke implimenteer, speel hulle ‘n aktiewe rol in die ontwikkeling van 'n goeie selfbeeld in hul kinders. Hoekom is dit egter belangrik vir kinders om 'n goeie selfbeeld te he? Selfbeeld speel 'n belangrike rol op alle vorme van ontwikkeling. Kinders met ‘n swak selfbeeld is bang om kanse te vat, bang om maats te maak en bang om hulself te wees. Wanneer kinders voel dat hulle nie goed genoeg is nie, gaan hulle ophou probeer “goed” wees. Ouers kan dan gedragsprobleme waarneem. Sommige kinders probeer oorkompenseer en word baie “pleasing” sodat almal van hulle moet hou. Hulle sal alles doen om populer te wees, selfs verkeerde maats maak. Dit plaas kinders in 'n baie kwesbare rol tydens sosialisering. Kinders kan ook begin om sosiaal te onttrek wat hulle sosiale ontwikkeling en die ontwikkeling van selfvertroue negatief beinvloed. Kinders met swak selfbeelde kyk ook nie mooi na hulself nie. Hulle is nie lief vir wie hulle is, hoe hulle lyk en wat hulle kan doen nie. Erge gevoelens van selfhaat kan lei na gemoeds en gedragsversteurings soos eetversteurings, self mutilasie en depressie. 

'n Kind met 'n swak selfbeeld ontwikkel in 'n volwassene met 'n swak selfbeeld. Dit het 'n negatiewe impak op die volwassene se verhoudings, werk en emosionele welstand. Een van die kwessies wat ek gereeld in berading met egpare waarneem, is swak selfbeeld. 'n Swak selfbeeld in volwassenes lei dikwels na gevoelens van wantroue, onsekerheid en oorafhanklikheid van jou maat om jou gelukkig te maak. Dit kan ongelooflike druk op die verhouding plaas en onrealistiese verwagtige skep.

Ter samevatting is dit baie duidelik dat 'n negatiewe selfbeeld die ontwikkeling van kinders op alle vlakke negatief beinvloed. Die kind ontwikkel in ‘n klein mensie wat homself haat en nooit goed genoeg voel nie. Hierdie klein mensie ontwikkel in 'n volwassene wat steeds presies dieselfe voel en spoel oor in die volwassene se verhoudings met ander.

Pas dus jou kinders mooi op en begin vandag om 'n goeie selfbeeld in jou kind te bou. Ons almal is spesiale, unieke geskenkies met baie waarde en 'n plek in die wereld.

 

Lees ook My Kind en Selfbeeld