Kinders is ongelooflike, unieke skepsels. Hulle kan soms 'n ding sê nes dit is (teen die ouers se spyt), maar daar is egter tye wanneer hulle nie kan verbaliseer wat hulle nodig het nie. Liefde is 'n abstrakte konsep wat soms vir kinders moeilik is om te verstaan. Ek het gereeld vir kinders gevra hoe hulle weet hul ouers vir hulle lief is. Kinders se antwoorde het verskil ten opsigte van dit wat vir hulle belangrik is. Sommige kinders sal sê: “hulle koop vir my speelgoed”, terwyl ander kinders sal sê: “my ma speel saam met my”. Ek het dit interessant gevind dat kinders se antwoorde so verskil en het op 'n boek afgekom wat dit vir my in perspektief geplaas het. Die boek se naam is “The Five Love Languages of Children” deur Gary Chapman en Ross Cambell. In hierdie artikel bespreek ek kortlik die vyf liefdestale van kinders en hoe ouers dit kan benut om hulle kinders se emosionele behoeftes te vervul.

As 'n klein dogtertjie het ek elke aand wanneer my ma my in die bed gesit het, opgekyk na haar en gevra: “Mamma, is mamma nog lief vir my?” Ek onthou sy het gelag en gese “Ja natuurlik is ek.” Ek het dan gevra vir 'n soen en het met n geruste hart gaan slaap dat my ma vir my lief is. Nou dat ek ouer is, is dit duidelik dat my liefdes taal “opbouende woorde” is en dat ek gereeld moes hoor dat hulle vir my lief is en dat ek spesiaal en goed is.

In sy boek verduidelik Gary Chapman dat kinders; nes volwassenes, ook 'n emosionele emmer het wat volgemaak moet word. Hierdie emosionele emmer word volgemaak wanneer die kind liefde vanuit sy liefdestaal ontvang. Hy identifiseer vyf tale van liefde wat op kinders en volwassenes van toepassing is. Ek sal elk van die vyf tale kortliks bespreek en verduidelik hoe dit op jou kinders van toepassing kan wees. 

1. Fisiese aanraking

Fisiese aanraking geskied wanneer die kind liefde ervaar deur aanraking byvoorbeeld drukkies, soentjies, fisiese speletjies, 'n motiverende klop op die rug, 'n gerusde vat aan die arm, ens. Die antwoord op die vraag sal wees “mamma is lief vir my want sy gee my drukkies en soen my”.

Dit is vir my sleg dat daar deesdae 'n negatiewe stigma op fisiese aanraking geplaas word. Ouers is baie bewus van seksueel ontoepaslike gedrag wat lei daartoe dat pappa's byvoorbeeld ophou om vir hulle dogtertjies drukkies te gee of te soen (en andersom met mammas en seuntjies). Met fisiese aanraking bedoel ek nie ontoepaslike aanraking wat vir die kind ongemaklik sal wees nie, ek praat van kinders wat aanraking vir sekuriteit nodig het.

Ouers, dit is belangrik dat daar vir 'n kind wie se liefdestaal fisiese aanraking is, gereelde geleenthede vir aanraking geskep word. Hierdie geleenthede kan die volgende insluit:

  • Drukkies en soentjies;
  • As jou kind spanning ervaar, vryf sy/haar hare;
  • Vryf jou kind se rug wanneer hy/sy met jou praat;
  • Sit naby aan jou kind terwyl julle take verrig;
  • Speel speletjies waar fisiese aanraking nodig is;
  • Lees vir jou kind stories met hom/haar op jou skoot.

 

Daar is talle aktiwiteit wat fisiese aanraking behels en jou kind sal help met die volmaak van sy/haar emosionele emmer. Onthou egter dat jou kind ten alle tye gemaklik met die aanraking moet wees.

 

2. Opbouende woorde

Wanneer kinders van opbouende woorde afhanklik is om hulle emosionele emmer te vul, sal hulle antwoord “my mamma/pappa is lief vir my want elke aand voor ek gaan slaap sê hulle dat hulle vir my lief is” of “my mamma sê altyd vir my ek moet net my beste doen en dat sy trots is op my”. Vir hierdie kinders is opbouende woorde 'n belangrike behoefte. Ongelukkig aan die ander kant, kan afbrekende woorde vir hierdie kinders baie skadelik wees. Kinders wat van opbouende woorde afhanklik is, is uiters sensitief vir wat mense vir hulle sê en kan negatief reageer teenoor afbrekende woorde.

Hier is voorbeelde van geleenthede om opbouende woorde teenoor jou kind te gebruik:

  • Gebruik aanmoedigende woorde voordat die kind sy/haar dag begin;
  • Stel die kind met woorde gerus dat jy hom/haar lief het en dat hy/sy spesiaal is;
  • Los vir jou kind opbouende boodskappies in sy/haar kosblik en rondom die huis;
  • As jou kind vir jou iets maak, hou dit en skryf jou kind se naam onder aan en hoe trots jy op hom/haar is.

Wees kreatief en vul jou kind se emosionele emmer met opbouende woorde eerder as kritiek.

 

3. Kwaliteit tyd

Kwaliteit tyd verwys na spesiale tyd tussen jou en jou kind. 'n Kind wat van kwaliteit tyd afhanklik is vir sekuriteit sal antwoord: “my mamma is lief vir my want sy speel saam met my”. Dit is belangrik dat ouers tyd maak vir elke kind. Ek besef dit is moeilik deesdae, maar selfs 10 minute kwaliteit tyd saam met elke kind kan 'n verskil maak. Vir hierdie kinders is dit belangrik om jou aandag te hê en indien hulle voel dat hulle dit nie kry nie, sal hulle aandring daarop, al is dit op negatiewe maniere. Wanneer die kind egter voel dat hy/sy spesiale tyd saam met jou het, vervul jy sy/haar behoefte aan kwaliteit tyd.

Hier is voorbeelde van kwaliteit tyd wat jy met jou kind kan deurbring:

  • Spandeer tyd saam met elke individuele kind
  • Sluit jou kind in by allerdaagse aktiwiteit wat jy moet doen soos bywoorbeeld skottelgoed was, kos kook, ens. Laat jou kind voel dat hy/sy deel is van die aktiwiteite.
  • SPEEL saam met jou kind. Nie net is hierdie sy/haar liefdestaal nie, maar spel is die universiele taal van kinders oor die algemeen. Speel is 'n belangrike aktiwiteit vir alle kinders en moet op 'n daaglikse basis geskied.
  • Vertel vir jou kind stories en praat gereeld met jou kind (kwaliteit gesprekke).
  • Wanneer jou kind met jou praat, maak oogkontak sodat hy/sy voel dat hulle jou aandag het.

 

Moet nooit die belangrikheid van tyd saam met jou kinders vergeet nie. Dit is soms vir hulle lekkerder om saam met jou te speel as om met 'n nuwe speelding te speel. Luister vir jou kind, jy mag dalk iets leer oor jou kind wat jou verbaas.

 

4. Dienslewering

Vir kinders wat van dienslewering afhanklik is om hulle emosionele emmer vol te maak, is dit belangrik dat toepaslike en ouderdomsgepaste take vir hulle verrig word. Hulle antwoord sal wees: “my pappa is lief vir ons want hy werk hard en mamma is lief vir ons want sy maak vir ons kos en bak koekies as ons sleg voel”. Hiermee stel ek nie voor dat die ouers alles vir hulle kinders moet doen nie. Kinders moet sekere verantwoordelikhede he, soos om hulle bed op te maak en kamer skoon te hou. Dienslewering kan insluit om jou kind te help met sy/haar huiswerk. Dit sluit ook in om jou kind by te staan in take verrig en ook om hulle deel te maak as jy take verrig.

Hier is voorbeelde van dienslewering wat jou kind se emosionele emmer kan vul:

  • Help jou kind met take en huiswerk
  • Help jou kind oefen vir sport
    Indien jou kind nog jonk is, tel hom/haar op vir bed tyd en sit hom/haar in die bed
  • Doen ekstra moeite om jou kind se gunsteling kos voor te berei
  • Bederf jou kinders met aktiwiteite wat vir hulle lekker is

 

Daar is 'n verskil tussen bederf en liefde gee deur dienslewering. Hou dit in gedagte wanneer jou kind liefde benodig.

 

5. Geskenke 

Die laaste liefdestaal wat geidentifiseer kan word, is geskenke. Aangesien kinders baie konkreet is, is geskenke ook van toepassing op kinders. Moet egter nie die fout maak deur te dink dat jou kinders slegs van geskenke afhanklik is nie. Ek ken 'n tiener seun wat my vertel het dat sy pa vir hom alles gekoop het wat sy hart begeer. Op my vraag of hy dink sy ouers hom lief het, het hy gese: “my pa doen dit net om my stil te maak en uit die pad te hou.” Om te vermei dat geskenke nie ligtelik gebruik word om liefde te wys nie, moet die ander liefdestale saam met hierdie een gebruik word. 

Die gee en ontvang van geskenke kan 'n baie sterk uitdrukking van liefde wees. Hierdie kinders sal antwoord: “my mamma het vir my hierdie spesiale pop gekoop”. Om geskenke as liefdestaal te gebruik het niks te doen met die prys van die geskenk nie, maar die betekenis agter elke geskenk.

Hier is voorbeelde van die toepaslike benutting van geskenke:

  • Hou klein geskenkies in jou besitting en gee dit aan jou kind tydens 'n spesiale geleentheid
  • Kies geskenke wat by die belangstelling van jou kind pas
    Maak spesiale etes wat jou kind geniet met spesiale nagereg
    Gee vir jou kind 'n verrassing in sy/haar kos blik
    Versamel geskenke wat jou kind se naam op het

 

Soos reeds genoem stel geskenke as liefestaal nie voor dat jy jou kinders moet bederf nie, maar dat klein geskenkies, met 'n spesiale konnetasie, soms baie kan beteken.

Nou dat ek die vyf liefdestale kortliks bespreek het, is dit belangrik om te onthou dat die liefdestale in kombinasie gebruik moet word. Net omdat jou kind se liefdestaal byvoorbeeld fisiese aanraking is, beteken dit nie dat hy/sy nie ook opbouende woorde, kwaliteit tyd, dienslewering en/of geskenke benodig nie. In die waarneming van jou kind, sal jy egter agter kom dat daar gewoontlik so twee primere liefdestale sal uitstaan. Jou kind se primere liefdestaal sal sy/haar emosionele emmer vinniger volmaak, maar moet in kombinasie met die ander liefdestale benut word.

Kinders wat se emosionele emmer vol is, het minder probleme met hulle emosionele ontwikkeling. Hulle leer dat hulle ouers vir hulle onvoorwaardelik lief is en ervaar hulle wereld as veilig. Wanneer 'n kind sy wereld as veilig ervaar, het hy/sy die selfvertroue om die wereld te leer ken en om te ontwikkel in verantwoordelike volwassenes.

Om die vraag te beantwoord: Kan 'n mens jou kinders bederf met liefde? In my opinie kan jy nooit te lief vir jou kinders wees nie. Om jou kind se emosionele emmer vol te maak deur die gebruik van die liefdestale is nie bederf nie, dit is 'n goeie voorbeeld van onvoorwaardelike liefde and aanvaarding en in my opinie 'n goeie gedagte om vir ons kinders na te laat…

Lausanne