Lees ook: Afknouery: Wat kan jy doen wanneer jou kind die boelie is?

Ouers kom sien my gereeld met die kommer dat hulle kinders afgeknou word. Afknouery is ongelukkig ‘n groot probleem in ons samelewewing en dit word net erger. Die afknouery vind gewoonlik by die kind se skool plaas wat dit soms moeilik maak om aan te spreek. Dit is baie moeilik vir die ouers en ook vir die kinders om te hanteer. Hulle voel gewoonlik hulpeloos en magteloos om die afknouery te stop en talle ouers weet nie watter kant toe om te gaan nie. Met hierdie artikel wil ek graag vir ouers ‘n paar riglyne gee wat gevolg kan word ten einde die situasie beter te kan hanteer.

Luister na jou kind

Wanneer kinders ondersteunende volwassenes in hul lewens het, is dit vir hulle makliker om oor die afknouery te praat. Jou kind is gewoonlikbang dat jy hom nie gaan glo nie, veral as hy al vir ‘n onderwyser vertel het en nie geglo is nie. Kinders sal baie keer net stilbly, maar jy sal definitief in jou kind se gedrag kan sien dat daar iets verkeerd is. Luister na jou kind wanneer hy jou van die afknouery vertel. Sê vir hom dat jy bly en trots is dat hy jou vertel het. Gee vir jou kind jou volle aandag en ondersteuning.  

Empatiseer en ondersteun jou kind

Reageer empaties teenoor jou kind. Laat jou kind weet dat afknouery nie reg is nie en dat dit nie haar skuld is nie. Kinders voel baie vining skuldig oor die dinge wat met hulle gebeur – veral baie jong kinders. Dit is belangrik dat hulle weet dat dit nie hulle skuld is nie en dat hulle dit nie verdien het nie.        

Wees geduldig met jou kind

Sommige kinders vind dit baie moeilik om oop te maak – veral die introvert kinders. Dit is nie vir hulle maklik om jou van die afknouery te vertel nie. Ek het reeds genoem dat jou kind se gedrag moontlik sal verander. Van hierdie veranderinge sluit die volgende in:

  • Sukkel om te slaap en het nagmerries
  • Huil as hy moet skool toe gaan
  • Is meer aggressief by die huis
  • Onttrek van die gesin
  • Sommige kinders sal weer begin bed nat maak
  • Angstige gedrag soos om sy hare uit te trek, erg naels te kou ens.    

Maak planne saam met jou kind om die probleem te hanteer

Kinders voel baie keer dat dit nie help om iemand van die afknouery te vertel nie – hulle is bang dat niks gaan verander nie of dat die waarheid dit net erger gaan maak. Stel jou kind gerus dat julle saam ‘n plan sal maak om die probleem aan te spreek en ook dat dit goed is dat hulle die waarheid gepraat het. Leer vir jou kinders dat dit nooit ‘n goeie idee is om te jok nie, al is dit moeilik om soms die waarheid te vertel. Onthou om vir jou kind te leer dat hierdie gedrag nie ‘n geheim gehou kan word nie. Wanneer kinders in gevaar is moet hulle beskerm word.

Help jou kind dink aan planne om die gedrag te kan hanteer. Dit is belangrik dat kinders bemagtig word met sosiale vaardighede ten einde die uitdagings te kan hanteer. Jou kind moet weet dat hy nie magteloos is om die situasie te kan verander nie. Vra vir jou kind wat hy dink gedoen kan word om die gedrag te stop. Vra vir jou kind of hy al self probeer het om die gedrag te stop. So kan jy uitvind wat jou kind al probeer het en vir hom erkenning daarvoor gee. Daarna kan jy voorstelle maak en jou kind kan die opsies kies waarmee hy die gemaklikste is. 

Kry ondersteuning by jou kind se skool

Die meeste afknouery vind by die kind se skool plaas. Wanneer jou kind reeds al die inligting met jou gedeel het, is dit belangrik om die inligting te gaan deel met die onderwysers. Hulle sien jou kind elke dag by die skool en hulle behoort te kan bydra in terme van wat omtrent die probleem gedoen kan word. Die onderwyser is baie keer ook die persoon vir wie die kind dit eerste gaan vertel het en dit is moontlik dat die onderwyser reeds gepoog het om die gedrag te bekamp.

Vra vir die onderwyser om jou te help dink aan ‘n moontlike oplossing. Dit is egter belangrik om te onthou dat jy as die ouer nie die kind moet konfronteer wat vir die afknouery verantwoordelik is nie.

‘n Beter opsie is om die ouers van die kind in te roep skool toe en die gedrag met hulle te bespreek. Hou egter in gedagte dat die kind wat afknou tien teen een ook ‘n rede het waarom hy uitreagteer. Hanteer dus die situasie sensitief en probeer insig toon in hulle situasie.

Kry professionele ondersteuning

Wanneer jy bekommerd is dat jou kind dalk afgeknou word, kry die hulp van ‘n spelterapeut in. Die spelterapeut se rol is om met jou kind op sy vlak te werk ten einde die inligting te kry wat nodig is om die probleem aan te spreek. Die spelterapeut help die kind ook om aan planne te dink om die gedrag te hanteer en bemagtig jou kind met vaardighede om dit te kan doen. Sommige kinders maak makliker oop teenoor iemand wat nie direk betrokke is by hulle nie. Hoe meer mense kan help met jou kind se situasie, hoe beter.

Ek hoop dat die bogenoemde riglyne lig kon skep op die moontlik stappe wat gevolg kan word wanneer jou kind afgeknou word. Dit is belangrik om vir jou kind die veiligheid te skep om daaroor te kan praat. Moet nooit vir jou kind sê dis nie so erg nie. Vir hulle is dit erg en hulle het vir jou nodig om hulle te beskerm. Jou kind is soms banger om daaroor die praat as om net stil te bly. Maak dit dus maklik vir jou kinders om met jou as ouer te gesels. Onthou dat as jy nie vir jou kinders gaan luister nie mag hulle dalk hul probleme met ander kinders bespreek en hierdie kinders mag dalk nie vir hulle die beste advies gee nie. Om ‘n gemaklike kommunikasie netwerk tussen jou en jou kinders te skep sal ten voordeel van jou en hulle wees en dit sal help om toekomstige negatiewe situasies te bekamp.