“Wat is ‘n spelterapeut? Help jy kinders met spelling?” is vragies wat ek gereeld in my praktyk (in Pretoria Oos) hoor. Die konsep van spel kan verwarrend wees vir ouers en met hierdie artikel wil ek poog om spelterapie, asook die terapeutiese proses wat ek met kinders volg te bespreek. Ek sal ook die verskil tussen spelterapie, arbeidsterapie en spraakterapie uitlig.

Spel kan gesien word as die universiële taal van kinders reg oor die wêreld. Kinders gebruik spel op dieselfde manier as wat volwassenes woorde gebruik – om te kommunikeer. Daar word gevind dat  kinders hul probleme op ‘n simboliese manier uitspeel en so hulle emosies uitdruk en hulself beter verstaan. Die kind leer ook hoe om ‘n vertrouensverhouding met ‘n volwasenne te bou sodat sy/haar interpersoonlike verhoudings kan verbeter. Spelterapie is dus ‘n terapeutiese benadering waar die terapeut van verskeie speltegnieke soos poppe, stories, klei, speletjies, kunsmateriaal en rollespel gebruik maak ten einde die kind te help om emosies effektief uit te druk en te hanteer. Deur spel gee die terapeut dus vir die kind die geleentheid om haarself/homself verbaal en/of nie verbaal uit te druk en om ‘n ontspanne en lekker verhouding met ‘n volwassene te bou.  

Die spesifiek verduideliking van spelterapie sal egter afhang uit watter teoretiese benadering die terapeut werk. Tydens my intervensie met kinders, werk ek vanuit die beginsels, en terapeutiese proses van gestaltspelterapie. Tydens my terapeutiese proses met kinders fokus ek dus sterk op die bou van die terapeutiese verhouding die fasilitering van bewustheid (sensories en emosioneel), die kind se vermoë om te planne te maak, die hantering van “unfinished business” (onafgehandelde emosies) en die hantering van herhaaldelike ontoepaslike gedrag. Ek sal elk van hierdie beginsels kortliks bespreek.

Die bou van die terapeutiese verhouding met die kind is vir my een van die belangrikste stappe in die proses en geniet voorkeur bo die ander. Die kind moenie vir my of die speelkamer as bedreigend ervaar nie. Die bou van die terapeutiese verhouding geskied deurlopend maar geniet voorkeur tydens die eerste drie sessies met die kind. Kinders geniet gewoontlik die speelkamer en ervaar die sessies as positief en pret. Ek speel dus speletjies wat bekend aan die kind is, of wat pret is,soos balspeletjies, bubbles blaas, bordspeletjies en kaartspeletjies.   

Die volgende deel van die proses, is om die kind se sensoriese en emosionele bewustheid te assesseer, en indien nodig te verbeter. Kinders se sensoriese geheue begin reeds pre-nataal en het nodig om tydens spelterapie gestimuleer te word ten einde bewustheid van “unfinished business” te fasiliteer. Kinders ervaar hierdie aktiwiteite as pret aangesien dit al die kind se sintuie en liggaamsbeweging behels. 

Ten einde die kind te help om ongemaklike emosies uit te druk te, is dit ook nodig dat die kind emosionele bewustheid ontwikkel. Hier gaan kyk ek of die kind emosies kan identifiseer, toepaslike redes kan verskaf vir emosies en of hulle dit binne hulle eie lewe kan identifiseer. Ek maak gebruik van ‘n verskeidenheid emosie gesiggies om emosionele bewustheid te skep en kinders te help met hulle emosionele woordeskat.

‘n Belangrike deel van die proses is om die kind se sin van self te versterk. Die kind moet die geleentheid gegee word om “ek stellings” te maak en beheer en keuses uit te oefen. Dit help die kind om aan opsies te dink en ontwikkel sy/haar beplanningsvermoë. Tydens my spelsessies met kinders skep ek geleenthede waar die kinders planne moet maak en ook leiding moet neem. Dis belangrik dat kinders ouderdomsgepaste keuses kan maak en ook verantwoordelikheid vir hierdie keuses kan neem. Grense en struktuur skep ook veiligheid in die speelkamer en help die kind om binne gesonde grense te speel. Sommige kinders sukkel met grense en struktuur en sukkel dus om hulle gedagtes en emosies te orden. Die skep van grense, struktuur en voorspelbaarheid in die speelkamer help die kind om emosies binne ‘n veilige omgewing uit te speel en/of te verbaliseer. Kreatiwiteit, humor en pret is tydens elke sessie teenwoordig en is ‘n belangrike deel van die sessies.  

Tydens sensoriese/emosionele bewustheid begin die kind ook bewustheid van sy/haar “unfinished business” te ontwikkel. Dit is egter belangrik om te onthou dat kinders soms nie emosioneel en/of kognitief reg is om hierdie emosies te hanteer nie en hulle sal in die lig daarvan vir my weerstand toon. Dit is nie gewoontlik verbaal nie en word deur middel van gedrag weerspieël. Die kind sal byvoorbeeld kontak met my breek en iets anders wil speel, of sukkel om op aktiwiteite te fokus. Indien ek waarneem dat die kind weerstand toon fokus ek weer op die bou van die terapeutiese verhouding. Ek forseer nooit ‘n kind om met my inligting te deel waarmee hulle nie gemaklik is nie. Die kind sal vir my wys wanneer hy/sy gereed is om die emosies verder te hanteer. Tydens my proses met kinders leer ek ook vir hulle om lief vir hulself te wees en om hulself en ander te koester.  

Aangesien gestaltspelterapie op die kind in die speelkamer fokus, konfronteer ek nie kinders direk met ontoepaslike gedrag soos jok, aggressie, steel, ensovoorts nie. Deur middel van bewustwording en die hantering van emosies, verander kinders se gedrag gewoontlik vanself. Indien die kind se ontoepaslike gedrag egter voorduur, maak ek gebruik van spel wat die spesifieke gedrag as tema het, byvoorbeeld poppespel met poppe wat aggressief teenoor mekaar optree, of ‘n storie van ‘n krokodil wat jok. So word die kind bewus gemaak van ontoepaslike gedrag en vorm deel van die proses om planne te maak om die “poppe” of “karakter” se gedrag te verander. Dit is vir kinders minders bedreigend en leer vind meer spontaan plaas.   

Tydens my totale intervensie met kinders is die betrokkenheid en samewerking van die kind se ouers baie belangrik. Ek kan nie met ‘n kind werk sonder die ouers te betrokkenheid nie. Ouers moet my help om gesonde grense en struktuur in hul kind se lewe te plaas, en ook om voorspelbaarheid te fasiliteer. Genesing vind nie net in die speelkamer plaas nie, maar ook binne die gesin. Ek help die ouers om ook ‘n aktiewe rol in hul kind se emosionele welstand te speel.

Ek het tot dusver spelterapie en die terapeutiese proses wat ek met kinders deurgaan, bespreek. Hierdie proses sal verskil in terme van die teorietiese proses wat die terapeut verkies. Maar hoe verskil dit van arbeids-en spraakterapie?

Ek kry gereeld ook die vraag wat die verskil tussen spelterapie, arbeidsterapie en spraakterapie met kinders is. Arbeidsterapie verwys na terapeute wat kinders met fisiese en/of verstandelike agterstande bystaan in hul ontwikkeling ten einde hul allerdaagse funksionering te verbeter. Arbeidsterapeute help dus kinders met sensoriese integrasie, fyn motoriese vaardighede, balans en ander arbeidsfunksies. Alhoewel die arbeidsterapeut die kind se emosionele ontwikkeling in ag neem, word daar egter nie daarop gefokus nie en die hantering van trauma maak nie deel van die proses uit nie. Spraakterapie word benut wanneer kinders dit moeilik vind om spesifieke spraakklanke uit te spreek of indien die kind ‘n spraak agterstand het. Die spraakterapeut fokus op die ontwikkeling van die kind se luistervaardighede  en spesifieke vaardighede wat ‘n rol speel tydens lees en skryf. Daar word dus nie op die kind se emosionele ontwikkeling gefokus nie.

In sommige gevalle is dit nodig vir kinders om al drie vorme van terapie te ontvang. Ek verkies dit om in samewerking met ander profesionele persone te werk ten einde kinders se lewens te verbeter. Indien ek arbeids- of spraak probleme by die kind waarneem sal ek die ouers verwys na die gepaste professionele persone toe ten einde die beste moontlike hulp te kry. Net saam, spelterapeute, arbeidsterapeute, spraakterapeute, onderwysers en ouers kan ons werklik ‘n positiewe verskil in kinders te lewens maak. Ek voel geseend om elke dag met kinders te kan speel. Ek sien hoe die liggies in hul ogies terugkom en weet dit is as gevolg van speel, pret, voorspelbaarheid en ‘n positiewe verhouding met ‘n volwasse persoon.

“Man is most nearly himself when he achieves the seriousness of a child at play”

“You can discover more about a person in an hour of play than in a year of conversation” – Plato, Greek philosopher.