Die tekens dat winter nader kruip is al duidelik sigbaar. Die sonopkoms groet ons later elke oggend en die son gaan slaap vroeer en vroeer. Die aande begin al koeler raak. Dalk het jy al die winter komberse uit die kas gaan haal of jou winter pantoffels nader getrek.

Die winter word beskryf as 'n tydperk van rus. Die bome verkleur en pragtige geel, oranje en rooi blare le op die grond soos 'n lappieskombers. Sommige bome staan nakend en ontbloot deur die koue winter. Die swaeltjies trek weg Europa toe en sommige diere hiberneer. Soms voel mens asof jy net wil wegkruip deur die winter en eers weer aan die lewe wil deelneem wanneer lente aan jou voordeur kom klop…

Baie mense se gemoed word beinvloed deur die seisoene wat verander, veral vanaf herfs na winter. Die dae voel korter, lui lekker Sondae op die grasperk, by die braai of rondom die swembad is iets van die verlede. Dis is koud en mens voel soms mislik… Met die seisoene wat verander, is mens meer kwesbaar vir 'n verkoue, hooikoors of sinus, en ook vir seisoenale depressie. As jou gemoed primêr beinvloed word deur die seisoene wat verander mag jy dalk aan seisoenale depressie ly. Voor jy verstik aan jou koffie of jouself diagnoseer lees gerus verder.

Die voorkoms van seisoenale depressie meer algemeen as wat mens sal wil glo. Seisoenale depressie moet nie verwar word met tydelike hartseer of ‘blues’ nie. Seisoenale depressie word gedefineer in die Diagnostiese en Statistiese handleiding van Geestes Versteurings  wat gepubliseer word deur die Amerikaanse psigiatriese assosiasie (APA). 'n Professionele diagnose moet eers verkry word deur 'n deeglike assessering by 'n kliniese sielkundige of psigiater.

Individue met seisoenale depressie se funksionering word erg belemmer. Daar moet duidelike veranderinge op tenminste vyf van die volgende kriterias waargeneem word:

  1.  'n depressiewe gemoed vir meeste van die dag, meeste dae van die week;
  2. geen of baie min belangstelling in aktiwteite wat voorheen plesier verskaf het, vir meeste van die dag, meeste dae van die week;
  3. merkwaardige gewigsverlies sonder om 'n diet plan te volg of toename aan gewig moet waar geneem word  (5{97fa4f7e3f90de63208dbf923bf7383c3bb584adf96b64fde63584d1e00110d6} gewigs verandering in 'n maand);
  4. 'n individu kan slaapversteurings ervaar of voel hulle wil elke dag, heeldag slaap;
  5. stadiger psigomotoriese beweging. Jou liggaam vereis meer moeite vir normale dag take. Hierdie psigomotoriese frustrasie word op 'n daaglikse basis ervaar;
  6. Individue mag voel of hulle konstant moeg is, of dat hulle geen energie het om aktiwiteite te verrig wat hulle gewoonlik sonder moeite verrig nie;
  7. gevoelens van waardeloosheid of gevoelens van ekstreme skuld word ervaar;
  8. jou vermoë om te konsentreer word beinvloed, jy vind dit moeilik om besluite te maak en sukkel om flink te dink meeste van die tyd, meeste dae van die week;
  9. jy koester gedagtes van die dood of selfmoord (nie dat jy noodwendig 'n plan beraam het nie, maar die ideaal van selfmoord oorweeg jy in jou gedagtes).

As jy identifiseer met meeste van die bogenoemde simptome, en jou simptome is meer prominent gedurende die winter maande,  kan jy miskien aan seisoenale depressie ly. Dit is baie belangrik dat jy hulp soek, jy hoef nie te ly nie. Raadpleeg jou huisdokter vir 'n verwysing na of kontak self 'n kliniese sielkundige of psigiater.

Daar is wel alternatiewe metodes om van die ‘blou gevoel’ van die winter ontslae te raak. As jy kan vereenselwig met sommige van die simptome, maar dit belemmer nie jou funksionering nie, kan jy wel die volgende aktiwiteite probeer om die winter maande meer geriefliker te maak:

1) Oefening:

Navorsing bewys dat gemiddelde oefening net so effektief is as ligte antidepressante. Dit raak dalk moeiliker om soggens op te staan en die gimnasium te besoek of jou tekkies aan te trek en te gaan stap in die donker. Jy kan wel oefeninge in die huis doen. Daar is baie dvd’s in die winkels wat verskillende oefenprogramme aanbied. Jy kan joga of pilates in jou sitkamer oefen, of as jy 'n meer aktiewe sportsman of vrou is, gaan doen navorsing oor die nike plus kinect xbox of playstation oefenprogram. Jou gesin kan deelneem aan die oefening en dit kan 'n gesonde gesinstydverdryf word.

2) Vitamiene D:

Die son verskaf vitamiene D wat ons goed laat voel. Maak tyd in jou dag en gaan sit buite in die sonskyn vir 5 – 10 minute (tydens jou middag ete of net voor die son sak). Kyk rondom jou en neem die wolke, die blou lug, en die natuur rondom jou waar (dis tog gratis). Jy sal kalm voel en die vitamiene D sal aan jou energie verskaf. Wees net versigtig om nie te lank in die son te wees nie, die sonstrale is nog steeds gevaarlik, al is dit winter. Smeer sonskerm aan en verhoed dat jy skade aan jou vel verrig.

3) Gesels:

Maak tyd vir jou geliefdes. Spandeer tyd met diegene wat 'n positiewe impak op jou lewe het. Die gevoel van isolasie het 'n baie sterk verbintenis met geestesversteurings. Gesels met jou familie, jou vriende of 'n terapeut. Soms kort mens net 'n oor wat kan luister en daarna het jy weer moed om aan te gaan. Soms voel jy vasgedruk in jou omstandighede en kort hulp om jou daar uit te help. Gesprekke met jou geliefdes of 'n terapeut kan jou nuwe strategiee aanleer, sodat jy jou uitdagings beter kan aanpak.

In opsomming:

Seisoenale depressie is 'n algemene gemoedstoestand waarmee baie mense sukkel. Die toestand word veral in die winter maande ervaar. Mense met seisoenale depressie vind dit moeilk om te funksioneer op die vlak waaraan hulle gewoond is. Indien jy vermoed jy ly aan seisoenale depressie, konsulteer met 'n sielkundige of 'n psigiater sodat die winter maande jou nie insluk nie.