Daar bestaan verskillende soorte terapie. Gewoonlik voel individue skrikkerig om met terapie te begin. Meeste mense maak eers gebruik van hulle vriende of familie vir raad sodra daar ‘n krisis in hulle lewe ontstaan. Party mense hou al hul bekommernisse vir hulleself en maak nie van hulle ondersteuningsstelsel gebruik. Hulle sukkel dan om te slaap, is konstant angstig, geirreteerd en buierig. Het jy al groepterapie oorweeg? Afhangende van die aard van jou probleem, kan groepsterapie ‘n ideale keuse wees vir die aanspreek van jou bekommernisse en jou help om positiewe veranderinge in jou lewe te maak.

Meeste mense is bewus van individuele, verhoudings of familie terapie, maar nie baie mense is bewus van groepterapie nie. Groepe word saamgestel om ‘n spesifieke probleem, soos depressie, paniekversteurings, sosiale angs, dwelmmisbruik of eetversteurings aan te spreek. Ander groepe fokus meer algemeen op die verbetering van sosiale vaardighede soos om mense te help wat sukkel met kwessies soos woede, skaamte, eensaamheid en ‘n lae selfbeeld.

Groepterapie is ‘n uistekende vorm van terapie wat hoofsaaklik op ondersteuning fokus, so wel as om nuwe kennis en tegnieke aan te leer om sodoende die kwaliteit van jou lewe positief te beinvloed.

So wat kan ek verwag?

Daar bestaan verskillende tipes groepterapie. Mens kry oop groepe en geslote groepe, groepe wat volgens ‘n seker aantal weke verloop asook groepe wat nie ‘n spesifieke tydlyn het nie. Oop groepe is ‘n soort groep waar enigeiemand kan kom deelneem aan die groep enigetyd gedurende die groep se bestaan. Geslote groepe laat net ‘n aantal individue toe vir die periode wat die groep aktief is. Meeste groepe het ‘n tydlyn waarmee gewerk word soos byvoorbeeld ‘n groep wat vir 12 weke sal duur waar mense met depressie ondersteuning kan kry by ander individue wat ook aan depressie ly, asook tegnieke kan aanleer om hulle te help om hulle depressie beter te hanteer.

Groepterapie vind plaas op ‘n weeklikse basis of elke tweede week en duur ‘n uur en 30 minute per sessie. ‘n Sielkundige of sosiale werker begelei die sessies en verskaf ondersteuning aan die groep.

Voordele van groepterapie?

  • Groepterapie is baie meer koste effektief as individuele terapie. Dit hang af van die tipe groep en tydperk van die groep.
  • Groepe kan optree as ‘n ondersteuningsnetwerk en ‘n klankbord. Ander lede van die groep kom dikwels met spesifieke idees na vore vir die verbetering van ‘n moeilike situasie of uitdaging en hou jou verantwoordelik vir jou besluite.
  • Gereelde praat of luister na ander help ook om jou eie probleme in perspektief te sien.
  • Baie mense ervaar geestelike gesondheids probleme, maar min mense is bereid om openlik oor hulle uitdagings te praat. Lede wat almal dieselfe uitdagings ervaar, vind  verligting in die vorm van groepe waar hulle verstaan en ondersteun word. Dikwels kan jy voel asof jy die enigste een is wat sukkel – maar jy is nie.
  • Diversiteit is nog ‘n belangrike voordeel van groepterapie. Lede met verskillende persoonlikhede van verskillende agtergronde, kyk verskillend na uitdagings en so so kan dit jou inspireer om te sien hoe ‘n lid van die groep positiewe veranderinge in hul lewe gemaak het en jou help om nuwe strategieë te ontwikkel om jou uitdaging te hanteer.