1. Dink jy dis moontlik om goeie en betekenisvolle vriendskappe met iemand van die teenoorgestelde geslag te he wanneer jy getroud is? (Ek praat nie net van vriendskappe nie; ‘n baie goeie werksverhouding of selfs ‘n partner wanneer jy oefen is hier van belang.)

Jong, hierdie is ‘n “tricky” onderwerp en een waaroor almal se opinies nie noodwendig gaan ooreenstem nie. Ek dink nie dit is so eenvoudig as om net te kyk na of dit moontlik is om so ‘n verhouding te hê al dan nie. Enige iets is moontlik. Ek dink die eintelike vraag is; is dit gesond vir jou huwelik om ‘n betekenisvolle verhouding met iemand van die teenoorgestelde geslag te hê en indien wel, hoe sal so ‘n verhouding lyk.

Vriendskappe is belangrik, dis nodig en dis waardevol. Studies het bewys dat betekenisvolle vriendskappe ‘n persoon se emosionele en fisiese gesondheid positief beinvloed. Vriende is daardie spesiale mense in jou lewe, wat jou deur moeilike tye kan dra en ondersteun, maar ook jou goeie tye saam met jou kan deel en kan vier. Daar is geen tweifel daaroor dat vriendskappe belangrik is nie. Die Bybel is vol van verhale wat dit duidelik maak. Dink maar byvoorbeeld aan Job se vriende, wie gehuil het, gerou het en wie sewe dae en nagte in stilte saam met hom deurgebring het, toe hulle van sy teespoed te hore gekom het. Of aan die besonderse band wat Dawid en Jonatan gedeel het. Ek glo met my hele hart dat God ons geskape het om in vriendskappe te staan.

Oor die algemeen, voel meeste mense dat ‘n man en ‘n vrou wel bloot net vriende kan wees en hiermee stem ek volkome saam. Dit gaan nie oor die feit dat een manlik en die ander een vroulik is nie.

Dit wil vir my voorkom of die kwessie vir sommige mense ietwat waserig raak wanneer dit kom by getroude mense en die rol wat hierdie verhouding/vriendskap, met iemand van die teenoorgestelde geslag, in ‘n mens se lewe speel en die invloed van hierdie verhouding op jou huwelik. En hierin lê die kruks van die saak vir my.

Dit is vreeslik hartseer om te moet erken dat, in omtrent 90{97fa4f7e3f90de63208dbf923bf7383c3bb584adf96b64fde63584d1e00110d6} van die verhoudingsberadingsituasies wat oor my pad kom, daar ‘n derde party betrokke is op die een of ander manier. En in die meeste gevalle waarmee ek oor die afgelope 6 jaar in praktyk werk, het die derde party aanvanklik sy/haar veskyning in die huwelik gemaak, as ‘n onskuldige vriendskap wat tussen twee mense ontstaan het.

‘n Mens moet altyd ontou dat enige huwelik sy op en sy af tye gaan hê. Geen verhouding is konstant fantasties nie. Een van die talle gevare van ‘n diep, betekenisvolle vriendskap met iemand van die teenoorgestelde geslag is, dat wanneer ‘n mens se huwelik so ‘n aftydperk beleef, die versoeking baie groot en baie normaal is om ondersteuning en begrip vanaf die vriendskap te verlang.

Soveel van my kliente se lewensverhale het presies so afgespeel.

“Hy was daar vir my toe ek en my man deur ‘n rowwe tyd gegaan het”

“Sy het nie veroordeel of kritiseer nie, sy het verstaan”

“Dit was so maklik en gemaklik om met hom/haar te gesels”

Wat van daar af gebeur is die emosionele konneksie verdiep en versterk, die betrokke individue spandeer al hoe meer tyd saam en raak al meer en meer afhanklik van mekaar emosioneel. Kommunikasie raak meer en word nou geheim gehou. Hierdie nuwe verhouding het niks van die ou “baggage” van die huidige huwelik nie. Op die ouend sit die twee mense met intense emosies wat nie een kan ontken nie en teen daardie tyd is die koeel allankal deur die kerk. Saam begin hulle ‘n idilliese fantasie-prentjie skep van hoe anders en na aan perfek hulle verhouding is en sal wees.

Ongelukkig is vertroue een van daardie aspekte van die lewe wat ‘n mens totaal vanselfsprekend aanvaar, totdat dit verbreek word. Dis soos suurstof in die lug. ‘n Mens dink nie eers aan asemhaal, of aan die belangrikheid van die suurstof om ons, of ons afhanklikheid daarvan nie. Dis ‘n gegewe, so dit verg nie veel van ons aandag nie. Maar sodra ‘n mens sukkel om asem te kry, is dit ‘n totale ander storie. Vertroue wat verbreek word, is een van die moeilikste goed om terug te wen in ‘n verhouding en, ongelukkig kry baie dit nooit reg nie. My realiteit en my waarheid is dat menige vriendskappe met mense van die teenoorgestelde geslag, al talle huwelike in totaliteit vernietig het.

Maar, ek bly by my vorige standpunt; ek glo wel dat getroude mans en vroue wel gesonde vriendskappe met mense van die teenoorgestelde geslag kan hê.

2. Hoe moet so ‘n vriendskap lyk? Wat is die riglyne en grense wat mens in ag moet neem?

Eerstens dink ek dis baie belangrik om, as paartjie, tyd en aandag aan  “vriendskappe” as onderwerp te spandeer. Maak dit ‘n prioriteitsgesprek in jul huwelik/verhouding. Vind uit hoe jou lewensmaat oor die saak dink en voel. Hoor mekaar se harte en deel met mekaar ervaringe, gedagtes en of vrese wat moontlik mag aanleiding gee tot jul sieninge hierondom.

Besluit dan saam watter standpunt julle in jul huwelik gaan inneem rondom vriendskappe oor die aglemeen en dan spesifiek rondom vriendskappe met mense van die teenoorgestelde geslag. ‘n Goue, on-onderhandelbare reel is; indien jou lewensmaat ongemaklik is met ‘n spesifieke vriendskap tussen jou en iemand van die teenoorgestelde geslag; beiendig die vriendskap. Ek weet, en ek besef dat dit juis hier is waar mense dalk van my mag verskil, so kom ek verduidelik my standpunt.

Jou huwelik is jou heel eerste prioriteit naas jou verhouding met die Here. Indien enige iemand buite jou huwelik vir jou belangriker is as die lewensmaat wie jy gekies het…is dit in my opinie ‘n ongesonde verhouding. Jou lewensmaat is bekommerd of ongelukkig vir ‘n rede. Sy/hy voel bedreig deur ‘n ander persoon wat jul ruimte binnetree. Hierdie situasie nooi jaloesie, ontevredenheid, agterdog, wantroue, bekommernis, hartseer, verwyte, onsekerheid en tweifel, by die voordeur in.

Waarom sal jy kies om hierdie elemente deel te maak van jul verhouding?

Indien jule standpunt is dat individuele vriendskappe met mense van die teenoorgestelde geslag aanvaarbaar is, maak seker dat jou lewensmaat weet van die vriendskap. Wees oop en eerlik daar rondom.

  • Moet geen aspek van hierdie vriendskap geheim hou nie. Ek voel ook dit is uiters belangrik dat jou lewensmaat en jou vriend/vriendin mekaar ook leer ken.
  • Maak seker dat die tyd en die moeite wat jy aan hierdie vriendskap spandeer, nie die tyd en die moeite wat in jou huwelik ingaan oorskry nie.
  • Check gereeld in met jou lewensmaat. Indien sy/haar gevoelens rondom hierdie spesifieke persoon verander, is dit nodig om jou lewensmaat gerus te stel en die nodige stappe te neem om jou huwelik te beskerm.
  • Onthou geen vriendskap kan prioriteit neem bo jou huwelik nie.

Ons self, het in ons huwelik wonderlike vriende; mans en vroue en beide ek en my man kom vreeslik goed oor die weg met beide die mans en die vroue in die verskillende groepe. Ek en my man is dit eens dat hierdie vriendskappe, elkeen, vir ons diep en betekenisvol is. Ek dink wat vir ons so goed werk is dat ons vriende almal ook getroud is en dat ons as paartjies saam kuier. Almal in die groep ken mekaar en weet van mekaar en spandeer tyd saam. Die vroue sal soms alleen kuier en die mans sal soms dieselfde doen, maar dis gemeenskaplike vriendskappe.

3. Wanneer moet die gevaarligte vir jou flikker? Wanneer is hierdie verhouding nie meer vir jou, jou huwelik of dalk jou vriend(in) se huwelik goed nie? Wat is emosionele ontrouheid? En wat moet jy daaraan doen?

Hier kan jy gerus na 2 vorige artikels gaan loer vir meer inligitng hier rondom:
What is the difference between a friendship and an emotional affair?
What is the difference between secrecy and privacy?

Ten slotte:

In voorbereiding vir hierdie artikel het ek sommer vanoggend vir my man gevra of hy dink mans en vrouens kan bloot net vriende wees. Sy antwoord was presies wat enige lewensmaat graag sal wil hoor: “Hoekom het ek enige ander vriendin in my lewe nodig? Ek is met my beste vriendin getroud”

Ek dink ons as christen-egpare moet ‘n doelbewuste, pro-aktiewe standpunt inneem om ons huwelike te beskerm. Dit beteken dat ons vooraf waak teen enige verhoudinge wat moontlik vir ons gevaar mag inhou. Een skrywer het dit so mooi gestel: “the question should not be where is the line and how close can I get to it…the questions should be, where is the line and how far can I get away from it.” Ek besef hierdie is nie ‘n almal se opinie nie en ek respekteer dit. Ek sit wel in ‘n posisie waar ek, op ‘n daagliske basis met stukkende mense en stukkende verhoudinge werk. Spyt kom te laat. Moenie omkant gevang word nie. Gesels met mekaar, hou mekaar op hoogte. Wees waaksaam, op en wakker. Luister na mekaar se behoeftes en respekteer dit. Luister na daai stemmetjie in jou hart wat jou waarsku.

Geniet jou vriendskappe, met mans en vroue, maar hou jou huwelik ten alle tye veilig.

“Do you want to protect your marriage and make it the most exciting, challenging, rewarding thing in your life? If so, then don’t make room for relationships that will cause your spouse to doubt, feel jealous, compare themselves, or even feel like they are missing out.”
– Jeremy Roloff