Mojo is my 1.5kg Yorkshire terrier. Hy is een bondeltjie energie, liefde en aanvaarding. Ek het Mojo tydens my terapeutiese proses met kinders begin gebruik toe hy drie maande oud was. Hy is baie klein, sy ore lyk soms heeltemaal te groot vir sy lyfie en sy stert is krom. Maar, elke keer wanneer ‘n kind hier by my aankom, jonk of oud, swaai daai krom stertjie en gaan ontmoet hy die kinders by die deur. Die kinders lag gewoontlik dadelik en vra of hulle aan hom mag vat. Mojo help my om dadelik die kinders meer gemaklik te maak. Die jong kinders skei makliker van hul ouers om agter Mojo aan te hardloop. Met hierdie artikel wil ek graag die waarde wat Mojo aan my terapeutiese proses met kinders bied, met julle deel.

Mojo speel ‘n belangrike rol in die bou van die terapeutiese verhouding met die kinders. Hy maak die eerste kontak met die kinders gemakliker en meer ontspanne. Die kinders kom dadelik minder skaam, bang en angstig voor. Wanneer kinders meer ontspanne is, maak hulle makliker kontak met die terapeut en hulle ervaar die speelkamer as veilig en fun. Nie net help Mojo my om kontak met die kinders te maak nie, maar ook om dadelik ‘n atmosfeer van onvoorwaardelike aanvaarding te fasiliteer. Mojo vra nie vir die kinders waarom hulle by terapie ingeskakel het nie, hy speel net dood eenvoudig met hulle en sit op hulle skoot vir ‘n lekker vryf. Hy gee nie om hoe hulle lyk of hoe oud hulle is nie. Hy gee onvoorwaardelike liefde, solank hy net aandag kry.

‘n Belangrike deel van die terapeutiese proses is egter ook om emosionele veiligheid vir kinders te skep deur middel van grense, voorspelbaarheid en keuses en beheer. Ek maak die kinders saam met my verantwoordelik om seker te maak dat Mojo homself geniet en dat hy nie seerkry of ongemaklik is nie. Die kinders weet dat daar reëls in terme van Mojo ingestel word en hoe hulle hierdie grense respekteer is ‘n aanduiding vir my van hoe hulle grense by die huis respekteer. Die voorspelbaarheid wat die grense en reëls aan die kinders bied, fasiliteer emosionele veiligheid wat dit vir hulle makliker maak om te ontspan en hulself uit te druk.

Die volgende aspek wat Mojo help fasliliteer is die ontwikkleing van bewustheid. Tydens die terapeutiese proses is dit belangrik dat kinders sensories/liggaamlike bewustheid moet ervaar. Dit is ‘n voorvereiste vir emosionele bewustheid. Kinders se bewustheid van Mojo se sensoriese funksies en behoeftes verhoog hul bewustheid van hul eie sensoriese funksies en bewustheid. Ons sal byvoorbeeld gesels oor wat Mojo mag eet en waarvan hy baie hou om te eet. Ten einde polariteite te eksploreer kan ons ook praat oor wat Mojo nie mag eet nie en waarvan hy nie hou nie. ‘n Bespreking oor Mojo se behoeftes, voorkeure en afkeure dien as ‘n brug na ‘n bespreking van die kind se eie behoeftes, voorkeure en afkeure. Aangesien Mojo ook emosies soos opwinding wys, betrek ek hom ook om gesprekke rakende emosies te begin. Mojo help kinders dus met emosionele bewustheid en uitdrukking.

Kinders moet ook tydens die terapeutiese proses leer hoe om probleme op te los deur die maak van planne en die eksperimentering met alternatiewe. Hier betrek ek vir Mojo op ‘n meer praktiese vlak. Ek sal ook soms probleme skep, soos byvoorbeeld dat Mojo se waterbak leeg is, om te kyk of die kinders die probleem kan oplos. Hier help ek ook kinders om te identifiseer watter deel van die plan hulle self kan maak (die kind kan die waterbakkie na die kraan toe vat) en watter deel hulle hulp mee nodig het (die terapeut maak die kraan oop en toe wanneer die bakkie vol is). Wanneer kinders op ‘n praktiese vlak leer hoe om planne te maak en probleme op te los, word dit vir hulle makliker om op ‘n emosionele vlak probleme op te los.

Aangesien Mojo nog jonk is, en self in die proses is om vaardighede soos bly, sit en poot gee te leer, hou ek daarvan om die kinders te betrek by die versterking van hierdie gedrag. Kinders leer hoe om vir Mojo iets lekkers te gee, maar hy moet sit daarvoor. So gee ek vir die kind die geleentheid om beheer en verantwoordelikheid te neem. ‘n Groot deel van die terapeutiese proses is bemeestering en bemagtiging. Wanneer kinders voel dat hulle ‘n mate van beheer het, voel hulle emosioneel veiliger en hulle kry die geleentheid om oorsaak-gevolg denke  en ‘n verantwoordelikheid sin te ontwikkel.

Een van die mooiste take waarmee Mojo my help is om kinders te leer hoe om hulself te koester. Wanneer Mojo take reg doen, kry hy erkenning. ‘n Bespreking oor Mojo se koestering en versorgingsbehoeftes, fasiliteer ‘n gesprek oor die kind se eie behoeftes en wie dit tans aanspreek (of nie aanspreek nie).

Die kinders hou daarvan om vir Mojo op te stel, op hulle skoot te laat dit, te streel en te soen. Dit is koesterende gedrag en hulle ontwikkel hulle vermoë tot empatie. Kinders kan soms rof met my speel, maar da nook vir Mojo optel en hom koester. Mojo gee liefde aan kinders wat soms voel dat hulle dit nie by die huis kry nie.  

Mojo se teenwoordigheid in die speelkamer vind egter nie sonder duidelike grense plaas nie. Ek sal nie vir Mojo by ‘n sessie betrek wanneer die kind bang is vir honde nie. Ook nie wanneer ek met baie aggressiewe kinders werk nie. Ek neem ook die kind se kulturele oortuigings in ag. Beide die kinders en Mojo se welstand is belangrik en beide moet die sessies geniet. Ek maak ook seker dat Mojo gereeld gebad word en skoon is. Hy besoek ook gereeld die veearts om seker te maak dat hy al sy immuniserings kry en ontwurming ontvang. Ek sal nie ook vir Mojo betrek wannneer hy siek is of nie lekker voel nie.

Ter samevatting: Mojo is nie net my hond nie, Mojo is ook my assistent terapeut. Ek sien hoe die lig weer in kinders se ogies terugkom wanneer hulle hom sien, rond jaag en vashou. Ek is gelukkig dat Mojo ‘n natuurlike goeie terapiehondjie is. Hy geniet die kinders net so baie soos wat hulle hom geniet. Ek, die kind en Mojo vorm ‘n spannetjie: ‘n spannetjie wat lag, wat leer en wat ontwikkel. Dankie Mojo vir al jou bystand tydens die genesingsproses met die kinders waarmee ons werk.

*Ek wil graag hierdie artikel opdra aan Mojo en ook aan Dr. Marietjie Yssel wat my bygestaan en opgelei het om diere by die spelterapeutiese proses te betrek, dankie vir julle altwee se bydra.*