Selfsorg vir beraders, sielkundiges, maatskaplike werkers en terapeute

Vita Nova is genader om ‘n bydra te lewer vir ‘n artikel oor selfsorg, vir solidariteit. Hiermee ons bydra:

Geskryf deur Anri, Anschel en Alicia. 

Ons as beraders, sielkundiges, maatskaplike werkers en terapeute het een van die grootste voorregte; om saam met iemand deur hul emosies, hul vrese en onsekerhede te werk en te wandel ten einde die lig aan die anderkant van die tonnel saam te ontdek of te kan ontgin, maar dit is ook ‘n ontsaglike verantwoordelikheid. Die gene wat hul lewens aan hierdie beroepe wei sal almal weet – hierdie is ‘n uitputtende roeping. Om daagliks, uur na uur saam met iemand deur hul diepste seer, hul donkerste vrese en hul grootste teleurstellings te werk, eis sy tol.

Om emosioneel en fisies na jouself om te sien is ongelooflik belangrik. Wie ons is, maak ‘n groot deel uit van wat ons ons kliënte bied en daarom, as ons emosioneel nie op ‘n goeie plek is nie of uitgebrand is kan ons onmoontlik nie in die beste belang van ons kliënte optree nie. Inteendeel, dit kan baie skade veroorsaak as ‘n berader of terapeut hul eie trauma of emosies na die sessie toe bring.

Ons word geleer om ons eie “goed” eenkant toe te skuif wanneer ons kliënte sien, maar ons is ook maar net mens! Die lewe spaar ons nie van ons eie hartseer, trauma, uitdagings en die alle daagse stampe en stote nie. Ons as beraders ervaar ook ons eie struikelblokke, ons en/of ons kinders word ook siek, ons verhoudings raak ook krapperig en ons is soms net emosioneel nie op ‘n goeie plek nie. Soms is dit nie slegs ons eie, privaat lewens wat ons effe leeg tap nie, soos vroeër genoem, is hierdie ‘n emosioneel veeleisende beroep. Ons kliënte se ervaringe en seer kruip soms, sonder ons toestemming, tot diep binne in ons menswees. Dit is daarom baie belangrik om op ‘n gereelde basis, werklik introspeksie te doen, om bewus te bly van ons eie emosies, van wat in ons koppe en in ons harte aan die gang is. Dit is belangrik om in beheer daarvan te kan bly om sodoende aksie te kan neem wanneer dit dalk met tye voel of ons nie in staat daartoe is om die beste vir ons kliënte kan bied nie. Om bewus te wees van ons eie perke en grense in terme van die dienste wat ons lewer asook die hoeveelheid sessies wat ons gemaklik op ‘n dag kan hanteer, en om waarde te ag aan selfsorg aktiwiteite wat ons weer volmaak en opbou; is van uiterse belang.

Wat maak jou emmertjie vol?

Eleanor Brown sê: “ Wanneer jy tyd afstaan daaraan om jou siel te verkwik, stel dit jou in staat om ander te bedien deur die oorvloed wat jy ervaar. Jy kan nie vanuit ‘n leë houer skep nie” Dit is daarom belangrik vir ons om te weet wat ons eie emmers volmaak en om tyd daarvoor in te ruim.

Vir sommige van ons beteken dit ‘n lekker familie aand met Romans pizza’s op die spyskaart. Vir ander van ons kan dit ‘n gesellige braai wees saam met vriende. Oefening, stokperdjies, uitstappies in die natuur kan ook alles deel vorm van “emmertjie-vol-maak” aktiwiteite.

Dit is uiters belangrik dat jy, wat ook al jou siel voed as uiters noodsaaklik ag en doelbewus en proaktief daarvoor tyd in jou roetine inruim.

‘n Uiterse belangrike aspek van selfsorg is supervisie.

Ons maak ‘n baie groot fout as ons supervisie bloot sien as “raad inwin en begeleiding vra rondom moeilike sake by ander terapeute.” Dit is wel so dat supervisie dikwels mens se persepsie van sekere aspekte rondom sake kan verbreed wat daartoe lei dat ons die saak/geval met nuwe energie en idees kan aanpak. Supervisie bied ook ‘n ondersteuningsnetwerk waar kollegas mekaar se emosies kan reflekteer en waar ons mekaar kan bemoedig, maar ons kan mekaar ook aanspreek indien nodig.

Onthou waar jou verantwoordelikheid begin en eindig. Ons kan nie namens ons kliënte aan hul situasie verander of werk nie. Ons kan nie vir hulle of hul situasies volle verantwoordelikheid neem nie. Onthou om jou kliënt se eie selfaktualisering in ag te neem, sodat jy nie die las van jou kliënt se situasie op jou skouers laai nie. Dit is baie belangrik vir beraders en terapeute om bewustelik af te sluit van die emosies van die dag, en met ʼn skoon bladsy huis toe te gaan. ‘n Kollega het altyd gesê; as sy haar skoene uittrek sodra sy by die huis kom en haar voete die gras voel, weet haar kop sy is by die huis, en voel sy “grounded”.

Tesame met die ontspannings aktiwiteite, supervisie, introspeksie en afsluiting na ‘n dag; is dit soms ook baie noodsaaklik om tyd af te vat van “werk”, weg te gaan vir ʼn naweek of net ‘n vorm van “af-tyd” te ervaar om werklik weer jou energie vlakke op te bou.

Spandeer vandag, persoonlik bietjie tyd aan jou eie selfsorg. Vra jouself bietjie af;

Wat voed my siel?

Wat maak my emmer vol?

Vra jouself eerlik of jy genoeg aandag en tyd spandeer daaraan om seker te maak dat jy ander kan bedien vanuit jou oorvloed, of is jy dalk besig om die laaste paar druppeltjies van jou emmertjie se bodem af te skraap, om sodoende vir almal om jou te kan gee…maar dit ten koste van jouself te doen.

Soms kan dit help, om sommer net die raad wat ons vir kliënte gee, self te volg!