Artikel 1: Jaag jou eie drome!!!

As ek sit en tel hoeveel tyd mens per dag spandeer aan bekommernisse, voel dit amper vir my of ons heeldag sit en dink: dink aan werk, dink aan jou gesin, dink aan finansies, dink aan jou gesondheid, dink aan jou toekoms, dink aan jou verlede…dink, dink en dink. Ons is soms so besig om te dink, dat ons vergeet van vandag. Ons leef nie meer vir vandag nie, maar vir more. Hiermee sê ek nie dat beplanning ‘n slegte konsep is nie, maar dat ons soms so weggevoer raak in beplanning dat ons vergeet om die planne wat ons maak uit te leef. In die volgende reeks artikels wil ek graag praat oor Graham Yoko se boek “Get out of your rut and into your groove”. Ek wil graag met julle die waardevolle lesse deel wat Graham in sy boek bespreek.

As volwassenes kan ons onsself geniet (en verantwoordelik wees) op dieselfde tyd. Hoeveel mense sit vandag in werke wat hulle nie geniet nie? Meer as 80% van mense! Jou werk is ‘n groot gedeelte van jou dag en as jy nie ‘n passie of liefde daarvoor het nie, is meer as helfte van jou dag negatief. In sy boek stel Graham dat ons moet lewe en nie net ‘n lewe maak nie. Indien ons nie van ons werk hou nie gaan ons moeg, ongesond en leeg voel. Vind jou passie en waarmee jy goed is en doen dit elke dag – al kan jy dit nie jou loopbaan maak nie. Wanneer ons nie doen wat ons geniet nie, jaag ons iemand anders se drome. Ons raak so gemaklik in ons eie ongemak, dat groei onmoontlik is.

Die eerste stap wat jy kan volg om jouself uit die gat te kry is om jouself beter te leer ken. Hoe doen ons dit? Ons begin met ‘n reeks vrae wat jy jouself moet vra. Die eerste vraag is: “Wie is ek?”Ons is almal wonderlik en uniek gemaak. Ons is nie per ongeluk hier nie. Ons het elkeen ‘n baie spesifieke plek in die lewe. Vat ‘n oomblik en dink oor wie jy is? Wat is jou gawes en talente? Wat is jou slegte eienskappe? Waarvan hou jy? Waarvan hou jy nie? Hoe meer jy oor jouself kan neerskryf, hoe makliker is dit om te ontdek wat jou gelukkig sal maak en om jou droom in aksie te sit.

Die volgende vraag wat jy jouself moet vra is “Waar kom ek vandaan?”As jy nie weet waar jy vandaan kom nie, is dit aansienlik moeiliker om te weet waarheen jy oppad is. Ons het almal ‘n verlede, soms wil ons dit vergeet, maar ons verlede het ons gevorm in die mense wat ons vandag is. Gebruik die foute wat jy al gemaak het om te leer. Niemand is perfek nie, ons almal maak foute. Dit is wat ons mens maak. Wees onvoorwaardelik lief vir jouself.

Wanneer jy ‘n goeie idee het waar jy vandaan kom, gaan dink bietjie “Waarheen is ek oppad?”Is jy besig om jou eie drome te jaag, of die drome van iemand anders. Maak seker dat jy weet wat jou eie drome is. Ek onthou my droom as kind was om stories te skryf. Ek was MAL oor stories. Tot vandag toe is kinderstories vir my ‘n passie. Ek skryf nie kinderstories as beroep nie, maar ek kry in my beroep (as kinderberader) baie die geleentheid om stories vir kinders op te maak en te lees. Dit maak my gelukkig. Met ander woorde jy kan nogsteeds jou drome volg – al is dit net ‘n klein gedeelte daarvan.

Moenie jou energie mors deur ‘n leun te lewe nie. Gebruik daardie energie om te kan verander wat jy kan en aanvaar die dinge wat jy nie kan verander nie. Wees wie jy gemaak is om te wees – want daardie persoon is uniek en wonderlik. Maak weer kontak met jouself. Maak tyd in jou besige dag vir jouself. Dit is die eerste stap in jou reis na geluk. Dit is nie selfsugtig om tyd vir jouself te maak nie, ook nie om goed te wees vir jouself nie. Neem hierdie week en gaan doen iets “goed”vir jouself – dit is hoe ons begin om ons eie lewens vol te maak. Dit begin alles by ‘n keuse om gelukkig te wees en daardie keuse begin by jou……

“There is nothing more beautiful than seeing a person being themselves. Imagine going through your day being unapologetically you.” Steve Maraboli