Jare terug was daar `n lawwe Afrikaanse liedjie oor `n vrou wat dokter toe gegaan het. Sy het geweet sy makeer iets, maar was nie seker wat sy onder lede het nie. “Sit die siekte bo of onder, het sy griep of het sy rumatiek?” Haar dokter het verklaar dat sy `n tekort aan liefde het en “sy lei gebrek aan soene.”

Ons lag lekker vir sulke grappige stellings, maar dit is eintlik `n ernstige probleem vir baie paartjies.

Melissa het hierdie einste stelling aan haar man, Johan, gemaak.

“Hoekom wil jy van Johan skei?” het hulle huweliksberader gedurende hulle eerste sessie gevra.

“Ek is nie meer lief vir hom nie,” het Melissa geantwoord.

“Wat het geword van for better or worse?” het Johan bitter gevra. “Wat van ons twaalf jaar saam, het dit dan niks beteken nie? Wat van al die opofferings wat ons gemaak het?”

Melissa het net haar kop geskud.

“Ek kan nie iemand lief hê wat nie daar is as ek hom nodig het nie. Jy is altyd besig om te werk en jy skeep my en die kinders af. Wanneer jy by die huis is, peuter jy alewig aan die motor se binnegoed. Ek dink vandag dat ons te jonk getrou het.”

“En as ons gewag het?” vra Johan.

“Dan sou ons heel moontlik nooit getrou het nie. Ek is jammer, maar jy het my net te veel kere al teleurgestel. Ek sien nie meer kans nie!”

Ons weet almal dat jy jou huweliksmaat onvoorwaardelik moet lief hê, maar dit is soms só moeilik! Hoeveel keer het jy al met voorwaardes en dreigemente na jou maat gekom as julle nie saamstem oor `n saak nie? Hoe baie kraak jy jou maat af omdat hy nie so bedagsaam soos jou vriendin se oulike hubby is nie? Hoeveel keer het jou man al geskimp dat as jy meer soos Angelina Jolie gelyk het, dinge baie warmer tussen die lakens sou gewees het?

Niemand is perfek nie, nie jy of jou huweliksmaat nie. Ons is maar net mense – elkeen met ons eie nukke, grille en snaakse gewoontes.

Is dit dan ooit moontlik om iemand onvoorwaardelik lief te hê? Wat beteken onvoorwaardelike liefde anyway?

Anri van den Berg, sielkundige berader van Pretoria, beantwoord die volgende brandende vrae oor die wonder van (en te kort aan) onvoorwaardelike liefde:

Wat is onvoorwaardelike liefde in die huwelik?

Dit is belangrik om eers stil te staan by “liefde” self. Ons is geneig om aan liefde te dink as `n gevoel wat ons ervaar, en in die geval is dit dus heeltemal te verstane dat dit iets is wat kan kom en kan gaan, wat een dag daar kan wees en die volgende dag bloot net kan verdwyn.

As ons hierdie definisie van die liefde aanvaar, is dit amper asof ons as te ware aan die liefde oorgelewer word, asof dit iets is wat buite ons beheer is. Dus is dit heel normaal om in die praktyk te hoor “die liefde wat daar tussen ons was, is net nie meer daar nie” of “ek is net nie meer lief vir haar nie” – so asof ons niks aan die feit kan doen of verander nie!

Liefde is alles behalwe `n blote gevoel. Liefde is `n keuse, dit is `n besluit wat jy elke dag opnuut moet neem, veral wanneer dit swaar gaan! Liefde is` n werkwoord! Anders as verliefdheid, is liefde nie `n “toestand” waaraan ons uitgelewer is nie. Wanneer ons verlief is, is die wêreld `n pragtige plek, daardie persoon is die “beste ding wat ooit met ons kon gebeur”, hy het geen foute nie en sal ook nooit hê nie.

Verliefdheid verf alles in ‘n sagte wasige pastel-pallet, en dit is reg so, ons is so geskape. Verliefdheid is nodig sodat ons mekaar se mooi kante kan leer ken sodat ons die potensiaal in ons verhouding kan raaksien en sodat ons kan oorgaan na die keuse van onvoorwaardelik liefhê.

Op grond hiervan, is “onvoorwaardelike liefde”  dus om vir jouself en jou eie keuses verantwoordelikheid te neem. Jy moet elke dag opnuut kies om vir jou huweliksmaat lief te wees, ten spyte van sy foute, en nie as gevolg van dit wat jy van hom af kry nie.

Wat is onvoorwaardelike liefde níe?

Onvoorwaardelike liefde is nie iets waarvoor jou maat moet hoef te werk of iets waarmee jy hom kan manipuleer nie, dit is ‘n keuse wat jý maak. Dis jóu ingesteldheid teenoor jou maat.

Maar om onvoorwaardelik lief te hê, beteken ook baie beslis nie dat jy `n vloerlap is nie! Omdat jy onvoorwaardelik lief het, beteken dit nie dat jy ander pad moet kyk as jou maat droogmaak nie.

As daar dinge is wat krap en pla, is dit uiters noodsaaklik dat julle dit uitsorteer op `n gesonde en effektiewe manier. Om jou grense te stel en jou eie persoonlike behoeftes duidelik te maak en om bekommernisse met jou huweliksmaat te deel, beteken nie dat jy nie onvoorwaardelik lief het nie. `n Gesonde verhouding is een waarin ongeveer 80{97fa4f7e3f90de63208dbf923bf7383c3bb584adf96b64fde63584d1e00110d6} van beide partye se behoeftes bevredig word, so dit is belangrik vir paartjies om te kommunikeer oor alle aspekte van hul verhouding.

Hoekom is dit so moeilik om onvoorwaardelike liefde teenoor jou lewensmaat te toon?

Want verhoudings is moeilik en ons is selfsugtig. As jy mooi daaroor dink, stap ons almal `n verhouding binne met die hoop en verwagting dat daardie persoon op die een of ander wonderbaarlike manier in al ons behoeftes gaan voorsien. Hy/sy gaan wees wie en wat ons wil hê hulle moet wees wanneer ons wil hê hulle moet dit wees.

Ons besluit iemand is die moeite werd om mee te trou gebasseer op hoe die persoon ons oor onsself laat voel en dink en oor wat die persoon vir ons doen, gee of beteken. En dan gee realiteit ons `n uitklophou! Die bril van verliefdheid gly stadig van ons neuse af en ons besef dat hierdie ander persoon `n totale unieke individu is – iemand met `n unieke stel verwagtinge en behoeftes van sy eie. Iemand wat met dieselfde hoop – dat ons aan sy verwagtinge gaan voldoen en in sy behoeftes gaan voorsien – hierdie verhouding binne gestap het!

Twee total unieke mense, met unieke voorbeelde van hoe `n huwelik werk en van wat van man en vrou afsonderlik verwag word, moet nou een gelukkige toekoms saam bou. Ons is totaal ontnugter, want omdat verliefwees so maklik is, het ons vas geglo dat hierdie verhouding maklik gaan wees en ons was nooit voorbereid op hoe moeilik dit in werklikheid is nie!

Omdat ons selfgesentreerd is, is die fokus op die ander party se foute en tekortkominge. Ons fokus op wat dit is wat ons nie kry nie, wat hy nie is nie, en wat dit is wat hy nie in en om die huis doen nie. Indien dit die geval is, is dit heeltemal te verstane dat onvoorwaardelike liefde `n uiters moeilik haalbare, abstrakte konsep is.

Voor jy sê: “sien, onvoorwaardelike liefde is `n onmoontlik konsep,”en aan die platiekomhulsel  rondom jou nuwe boks sjokolade  begin lek; hier is vyf wenke (volgens Anri van den Berg) om onvoorwaardelike liefde te toon/ toe te pas.

Een: om onvoorwaardelik lief te kan hê, moet paartjies heel eerstens besef dat verhoudings konstante harde werk is; dat dit twee mense vat wat commited is teenoor mekaar. Mens kan nie verwag om die beste krieketspeler te wees as jy nie tyd en moeite insit om jou vaardigehede in die sport te verfyn nie. Net so kan mens nie verwag dat `n verhouding met twee totaal diverse individue sommer vanself `n gesonde paadjie sal loop nie.

Twee: onthou altyd ons is mense en dus per definisie alles behalwe perfek. Jy en jou maat gaan foute maak, keer op keer. Daar gaan tye wees wat jy bitter teleurgesteld gaan wees in jou maat. Dit is wat julle met die foute maak en hoe julle dit hanteer wat van kardinale belang is.

Drie: draai daai vinger wat jy so maklik na jou maat toe wys na jouself en vra jouself `n paar eerlike, moeilike vrae. Hoe kan ek `n beter eggenoot wees vir my maat, waar kan ek verbeter of meer moeite doen, hoe wys ek vir my maat hy/sy is werklik belangrik vir my?

 In 99{97fa4f7e3f90de63208dbf923bf7383c3bb584adf96b64fde63584d1e00110d6} van die gevalle waar individue op hul eie aandeel begin fokus en liefde as `n daaglikse keuse (en n baie besliste werkwoord) begin sien en aanwend in hul verhoudings, is die resultate ongelooflik positief!

Vier: moenie net probleempies onder die mat in vee nie; maak nie saak hoe klein of irrelevant dit dalk mag voorkom nie. Klein probleempies hoop op en raak later groot probleme en maak die keuse van “lief wees” vir iemand later soveel moeiliker. Sorteer goedjies uit soos en wanneer dit opduik.

Vyf: kommunikeer gesond en effektief . Moenie aanval en beskuldig wanneer julle oor kwelsake praat nie. Bly kalm en bespreek eerder die onderliggende emosies wat veroorsaak word jou maat se optredes of keuses. Die oomblik wat iemand voel dat sy/hy aangeval word, klap hulle toe soos `n boek en word daar glad nie meer geluister met die doel om te verstaan nie.

Al waarvoor geluister word, is `n swakplek in die persoon se aanval en dit is dan wanneer mens begin baklei oor of die motor wat verby gery het, rooi of blou was. Die eintlike kwessie gaan totaal verlore. Wanneer mens luister met die doel om die ander persoon te verstaan, gee mens baie duidelik die boodskap: “jy, ons, is vir my belangrik.”

Dit is wanneer ons werklik poog om mekaar te verstaan, wanneer ons mekaar goed leer ken en mekaar kan bystaan deur ons ervaringe en ons verhoudings se up and downs, dat ons agterkom dat al die moeite en die harde werk, dit werd is. En dit is dan dat onvoorwaardelik liefhê vir ons `n voorreg raak.