Vanaf ongeveer die ouderdom van twee/drie jaar oud begin kinders wegbeweeg van hulle ouers af en hulle begin meer te fokus op die ander persone in hulle lewens. Dit is hier wanneer jou kind se sosiale ontwikkeling teen ‘n vinnige tempo begin toeneem en ongelukkig het alle persone nie ‘n positiewe uitwerking op jou kind se sosiale ontwikkeling nie. Dit is egter ongelooflik belangrik vir jou kind om sosiale vaardighede te ontwikkel en probleme hier kan langtermyn negatiewe gevolge vir jou kind inhou. Kinders moet leer om te sosialiseer met ander en ‘n mens kan hulle nie beskerm daarteen nie. Die grootste gedeelte van sosialisering geskied gewoonlik by jou kind se skool waar hy met ander kinders in kontak tree. Met hierdie artikel wil ek graag praat oor jou kind se sosiale ontwikkeling en die belangrikheid van maats in jou kind se lewe.

 

Kinders word gebore; elk met hul eie temperament en persoonlikheid. Hierdie persoonlikhede kan verskil van hul ouers sin wat dit soms vir ouers moeilik maak om hulle kinders te verstaan. Jou kind mag dalk spontaan en maklik maats maak, of jou kind is dalk meer skaam en gereserveerd. Wanneer jy van jou kind verskil, sien mens soms probleme raak waar daar nie eintlik probleme is nie. Jou kind gaan nie noodwendig soos jy sosialiseer nie en dit is reg. Jou kind werk teen sy eie tempo – moet dus nie jou kind binne ‘n boks probeer druk en voel dat jy hom moet forseer om te sosialiseer nie. Met die nodige ondersteuning en motivering sal jou kind wel begin sosialiseer soos en wanneer dit hom pas.   

 

Wanneer jou kind egter skool toe gaan, gaan ‘n hele nuwe wêreld vir hulle oop. Daar is nuwe mense, aktiwteite en geleenthede en meeste kinders reageer positief teenoor dit (al is hulle aanvanklik bang). Omdat jong kinders (onder 5 jaar oud) nog nie heeltemaal beheer oor hul impulse het nie, kan daar egter ook probleme in sosialisering voorkom. ‘n Jong kind (onder die ouderdom van 4 jaar oud) sal byvoorbeeld ‘n maat slaan, skop of byt om ‘n speelding te kry. Dit maak hulle nie noodwendig sleg of stout nie, maar toon juis hulle onvermoë om sosiale situasies effekftief te hanteer. Hulle sal eksperimenteer met talle gedragstipes totdat hulle leer wat toepaslik is en wat nie is nie. Hier kom struktuur en dissipline in – ouers moet hul kinders leer wat toepaslike sosiale gedrag is. Onthou jou kind gaan nie noodwendig doen wat jy sê nie, maar hulle gaan doen wat jy doen. Toepaslike sosiale gedrag moet dus eerstens by die huis getoon word en ouers moet besef dat hoe hulle met mekaar praat, hulle kind se sosiale ontwikkeling kan beinvloed.

 

Wanneer jou kind met maats begin sosialiseer, leer hulle gewoonlik talle nuwe gedragsvorme aan (waarvan almal nie noodwendig goed is nie). Dit is egter belangrik dat hulle die geleenheid moet kry om maats te maak en dit moet aangemoedig word. Nie alle kinders word dieselfde grootgemaak nie en jou kind mag dalk verskil van ander kinders. Alle kinders het egter een belangrike ding in gemeen – speel!! Spel is die universiële taal van kinders. Hulle verstaan en leer by mekaar deur te speel. Selfs kinders van verskillende rasse kan saam speel en mekaar heeltemaal verstaan daardeur. Hoe meer jou kind speel, hoe beter is dit vir sy totale ontwikkeling (sosiaal, emosioneel en kognitief).

 

Dit gebeur egter soms ook dat kinders wat destruktiewe gedrag toon mekaar aantrek. Kinders wat gewoontlik nie ‘n sterk sin van self het nie, neig om maklik beinvloed te word deur hierdie kinders. Ongelukkig kom nie alle kinders uit goeie huise uit nie. Hierdie kinders het gewoontlik swak sosiale vaardighede en sukkel om positiewe verhoudings te bou. Hulle vorm gereeld ‘n groepie aangesien die groepie vir hulle ‘n sin van behoort en aanvaarding gee. So leer hulle nooit regtig hoe om effektief met ander te speel nie. Boelie gedrag kan ook hier voorkom. Hiervolgens is gedragstekens wat kan lei na swak sosiale interaksie met ander:

  • Algemene aggressie teenoor mense (ouers, maats, broers en susters)
  • Aggressiewiteit teenoor diere
  • Impulsiewe gedrag soos om te byt en te skop (kinders ouer as 5 jaar oud)
  • Geneigdheid om nie die waarheid te vertel nie
  • Kinders met ‘n swak sin van self – hulle kan beide die slagoffer of die boelie wees aangesien hulle beheer soek, maar hulle kan ook die kind wees wat maklik in ‘n negatiewe portuurgroep betrokke sal raak
  • Kinders met swak gesinsbande, supervisie en dissipliene
  • Kinders wat uit geweldadige gesinne uit kom
  • Kinders wat vroeg by misdaad, soos vandalisme en diefstal betrokke raak
  • Middelmisbruik (dwelms, gom, drank, ens) 

 

Wanneer kinders ‘n kombinasie van die bogenoemde gedrag toon moet dit as gevaartekens vir ouers optree. Kinders word nie stout of aggressief gebore nie. Kinders se sensitiwiteit verskil egter van mekaar. Hoe meer sensitief jou kind is, hoe meer aggressief kan hulle optree. Maar hierdie gedrag kan aangespreek, hanteer en verander word. Een van die belangrikste aspekte hier is goeie struktuur, dissipliene en supervisie deur die kind se ouers. As jy jou kind gaan los om te maak net wat hy wil gaan hy nooit leer wat toepaslike gedrag is nie. Dit is jou verantwoordelikheid om vir jou kind goeie waardes, norme en gedrag te leer. Dit is jou as ouer se rol om jou kind se sin van self te bou en om nie bang en onseker kinders groot te maak nie. Leer jou kind om op te staan vir homself, al kan dit soms as negatief deur volwassenes beskou word. My goeie reël is dat voorkoming beter is as krisis intervensie – ek bedoel dus dat dit beter is om jou kind voor te berei vir sosialisering en die gevare wat saam met dit gepaart gaan, as om te wag todat jou kind reeds deel van ‘n negatiewe portuurgroep is. Wanneer jou kind reeds deel van die groep is, is dit aansienlik moeiliker om in te tree. Indien jy voel dat jou kind se maats nie toepaslik is nie, probeer om meer tyd saam met jou kind te spandeer en maak seker dat jou kind weet dat hy aanvaar word in die gesin. Die geringste teken van verwerping kan kinders motiveer om deel te vorm van negatiewe portuurgroepe. Dit is egter belangrik om ernstig in te tree wanneer jou kind betrokke raak by misdaad en/of middelmisbruik.

 

Neem in ag dat jou kind nie noodwending saam met jou gaan stem oor sy maats nie. Ek beveel dus nie aan om jou kind te verbied om maats te hê nie. Dit is beter om vroeg al jou kind te leer hoe om goeie besluite te maak en wat toepaslike sosiale gedrag is as wat jy dit probeer stop wanneer jou kind reeds deel van die groep is. Onthou dat jou kind ‘n sin van aanvaarding en behoort binne die groep kry. Jou kind gaan dus glad nie die groep as negatief beskou nie, maak nie saak wat jy sê nie. Hoe ouer jou kind is, hoe moeiliker gaan dit raak om jou kind se besluit te beinvloed. ‘n Tiener gaan byvoorbeeld nooit vir sy ouers luister as dit kom by maats nie. Onthou hoe meer verbode jy dit maak hoe lekkerder is dit om te doen. Probeer eerder om jou kind van vroegs af te leer wat goeie maats en gedrag is en poog om jou kind se identiteit te versterk sodat hulle nie voel dat hulle so 'n groep nodig het nie.

 

Ten slotte: dit is belangrik vir jou kind om maats te maak. Maats is ‘n groot deel van jou kind se sosiale ontwikkeling en kan nie weerhou word nie. Indien jy bekommerd is oor die invloed wat jou kind se maats op hom het, is dit belangrik om jou kind te leer dat hy nogsteeds ‘n individu is en nie saam met hulle hoef te stem nie. Maak jou kind met ‘n sterk sin van self groot en leer jou kind van vroegs af om keuses te maak. In die lewe gaan jou kind talle uitdagings deurgaan en om jou kind se sosiale vaardighede te help ontwikkel sal hom help in die hantering van hierdie uitdagings. Om jou kind heeltyd te beskerm en weg te hou van mense af is nie in jou kind se beste belange nie. Jou kind gaan nooit weet waartoe hy instaat is as hy nie toegelaat word om sy eie keuses te maak nie. Ja hulle gaan foute maak, maar dit is deel van die leer proses. Solank jy as ouer goeie kommunikasie tussen jou en jou kind aanmoedig, goeie supervisie en grense toepas en jou kind ondersteun, kan hulle die uitdagings daar buite hanteer. Maats kan vir jou kind ‘n wonderlike leerskool wees en jou kinders het dit nodig ten einde te voel dat hulle behoort, dat hulle ondersteuning het en dat hulle nie alleen is nie.

 

“The glory of friendship is not the outstretched hand, not the kindly smile, nor the joy of companionship; it is the spiritual inspiration that comes to one when you discover that someone else believes in you and is willing to trust you with a friendship.” Ralph Waldo Emerson