Verhoudings is nie altyd maklik nie… en om op te breek is soms bitter swaar; veral as dit ‘n langtermyn verhouding was. Al wil sommige van ons dit dalk graag ontken, is dit tog maar ‘n proses om deur dinge te werk en te kan aanbeweeg. In hierdie artikel, beantwoord ek ‘n paar vrae rondom verhoudinge en ekse.

1) Is jy gereed om aan te beweeg en in ‘n nuwe verhouding betrokke te raak as jy na jou eks hunker?

In my opinie is dit nooit ‘n goeie idee om direk vanuit een verhouding in ‘n volgende in te beweeg nie. Daar is ‘n redelike proses van “sin-maak” en “heel-word” wat in my opinie eers deurleef behoort te word voordat mens aan beweeg na ‘n volgende verhouding toe. Dis ook nie altyd moontlik om ‘n definitiewe tydperk aan hierdie proses te koppel nie, aangesien elkeen se proses anders is.

Ek dink daar sal verseker wel goed wees in elke verhouding waarna ‘n mens terug verlang. Elke verhouding het tog maar sy goed en sy sleg. Maar as jy nie die persoon van die verhoudingslesse en positiewes kan skei nie, en jy hunker na die individu…is jou proses nog nie voltooi nie. En dus is jy nie gereed om aan te beweeg nie.

2) Is dit oor die algemeen eerder vroue as mans wat met hierdie tipe hunkering te doen kry?

Dit maak sin dat ons sal wil dink dat vroue meer hunker na ekse as mans, maar dis myninsiens hoegenaamd nie die geval nie. Mans het maar net ‘n ander manier om deur hulle proses te werk en hul emosies te verwerk.

3) Wat is jou raad aan iemand wat, nadat hulle reeds in ‘n nuwe verhouding betrokke is, weer besef hulle het ‘n hunkering na hul ou liefde?

  • Punt nommer een; bly kalm. Dis ‘n normale gebeurtenis in verhoudings. Dit kan bloot wees dat jou nuwe verhouding positiewe herinneringe van jou vorige verhouding “trigger”.
  • Punt nommer twee; maak baie seker van jou gevoelens. Ons as mense het noggals die vermoe om; wanneer ons uit ‘n slegte situasie uit is, terug te kyk en te dink “was nie rerig so sleg nie”. Asof mens die negatiewes nou alles wegbere en net die positiewes onthou. Vra jouself af waarom julle uit is in die eerste plek.
  • Punt nommer drie: Gaan maak ‘n lys van al die positiewe lewenslesse wat jy as gevolg van jou vorige verhouding geleer het en deurdink dit bietjie in dankbaarheid. Besluit hoe jy hierdie lesse wil aanwend in jou huidige verhouding en verskuif jou fokus vanaf jou vorige verhouding, na jou huidige verhouding – in aksie en daad sowel as in jou gedagtes.

4) Moet jy met jou nuwe verhoudingsmaat hieroor gesels?

Dis ‘n moeilike vraag en een waarvoor ek eintlik meer konteks nodig het voor ek kan antwoord. Dit hang af van te veel goed. Wat ek wel hier kan sê is, wanneer jy weet jy het beslis nog nie aanbeweeg nie en dat jou vorige verhouding jou en jou huidige verhouding negatief begin beinvloed, is eerlikheid jou beste opsie.

5) Is dit raadsaam om met jou ou liefde hieroor te praat?

In my opinie is dit bitterlik selde ‘n goeie idee om met ‘n eks te gesels as jy besig is met ‘n proses waarbinne jy probeer aanbeweeg. Om kontak te hê met ‘n eks wanneer jy probeer vorentoe beweeg, staan drie dubbel en dwars in die pad daarvan. Dit hou jou terug, soos ‘n ketting om jou enkel. Hoe vinniger en meer geheel jy kontak verbreek, hoe beter. Wanneer jy wel besluit het dat jou huidige verhouding nie vir jou werk nie en jy jou en jou eks nog ‘n kans wil gee, sal jy verseker met hom of haar daaroor kan gesels. Maar in hierdie scenario is jou huidige verhouding reeds verby. Of as jy voel jy moet met jou eks kontak maak – lig jou maat in. Geheime van hierdie aard eindig nooit goed nie.

6) Wat is die redes waarom ‘n mens, wanneer jy al reeds weer in ‘n nuwe verhouding betrokke is, na jou eks sal hunker?

  • Jy onthou net die goeie tye en vergeet die redes waarom julle opgebreek het.
  • Jou huidige verhouding is dalk nie heeltemal wat jy verwag het dit gaan wees nie.
  • Jy het nog nie deur die “sin-maak” en “heel – word” proses gewerk nie.
  • Die motivering agter jou huidige verhouding was dalk nie korrek nie; met ander woorde jy is in hierdie nuwe verhouding om:
    • jou eks jaloers te maak
    • oor jou eks te probeer kom
    • omdat jy bang is vir alleen wees.

7) Wanneer weet jy dit is tyd om liewer die nuwe verhouding te beëindig sodat jy jou gevoelens kan verwerk?

(Ek neem aan daar is sekere “grade van hunkering” en dat dit nie in almal se geval ewe sterk is nie, en daarom ook nie altyd nodig is om die nuwe verhouding te beëindig nie)?

Daar is verseker grade ja. In baie gevalle is dit bloot ‘n verlange na ‘n vorige stadium in jou lewe en jou eks was maar net toevallig deel van daardie stadium. Hierdie is ‘n goeie voorbeeld van waarom dit belangrik is om rerig bietjie stil te staan wanneer hierdie emosies opkom en kalm en eerlik selfondersoek in te stel. Verlang ek na hom/haar of die plek waar ek toe in my lewe was, die tipe goed waarmee ek myself besig gehou het ens.

As mens ‘n vreeslike “close” verhouding gehad het en jy wou dalk nie gehad het die vorige verhouding moes eindig nie, maar dit het (vir watter rede okal), maak dit heeltemal sin dat daar goed gaan wees soos liedjies op die radio, sekere plekke, kosse of reuke wat jou aan hom of haar gaan herinner en dat daarmee saam ‘n hartseer/verlange in jou hart gaan inkruip. As jy die vermoe het om dit te erken vir wat dit is, en in dankbaarheid vir daardie tye, wel vorentoe en weg van hom/haar af kan dink en beweeg, is dit verseker nie nodig om jou huidige verhouding te beëindig nie.

Maar

Indien jou eks jou gedagtes annekseer, indien jy jouself bevind in konstante situasies waar jy jou huidige verhouding met jou vorige verhouding vergelyk en heeltyd voel jou eks (as individu) kom bo uit in die vergelykingsproses, indien jy heeltyd in die verlede leef in jou kop, tye saam met hom/haar oor en oor in jou kop herleef, indien jy slaap oor jou eks verloor, indien jy begin vermoed dat jy eintlik besig is om jou eie verhouding te sabbotteer deur middel van jou woorde of aksies of gedagtes, wanneer jy emosioneel en fisies begin ontrek vanaf jou huidige huweliksmaat.

Wanneer jy in die geheim weer kontak maak met jou eks, van watter aard okal, en jy voel jy moet dit van jou lewensmaat af wegsteek…in hierdie gevalle dink ek dis dalk die beter ding om te doen, om eers jou kop en jou hart te gaan uitsorteer.

‘n Mens wil graag in verhoudings wees waar beide individue ten volle “whole heartedly commit” as jy dit nie kan bied nie…is dit onregverdig van jou om nie daaroor eerlik te wees met jou maat nie.

Wanneer jou hunkering na jou eks jou verhoed om “present” te wees en ten volle “committed” te wees aan jou huidige verhouding, moet jy plan maak want; dit berokken skade.

Indien jy vasgevang voel in hierdie aanbeweeg-proses, en sukkel om los te breek van jou eks terwyl jy reeds in ‘n volgende verhouding is, is dit raadsaam om iemand te gaan sien vir berading. In sommige gevalle is die skoen wel aan die ander voet. Indien jy in ‘n verhouding is met iemand wie, volgens jou, nog hunker na ‘n eks, kan verhoudingsberading vir julle van groot waarde wees.