Aanwysings kom nie saam met ouerskap nie. Ouers wonder dikwels of hulle hul kinders op die regte manier grootmaak. Ouers doen die beste in hul vermoë maar soms sit hul vol trane, angs en kommer. Gehegtheid of ‘n gehegte band is een van die belangrikste geskenke wat jy aan jou kind kan gee. Gehegtheid is die band tussen ‘n baba en sy versorger. ‘n Gesonde, vaste gehegtheid sal die grootste invloed op ‘n kind se emosionele ontwikkeling as baba, kind, tiener en later as volwassene hê. Die ervarings van vroeë gehegtheid het lewenslank ‘n uitwerking op ‘n kind se emosionele ontwikkeling. ‘n Gesonde, vaste gehegtheid is noodsaaklik vir ‘n individu, om ‘n funksionele lewe te lei.

Hoe vorm gehegtheid / ‘attachment’ ?

Gehegtheid vorm gedurende die eerste paar jaar van ‘n kind se lewe. ‘n Ouer of versorger se emosionele beskikbaarheid vir ‘n kind, van die dag van sy/haar geboorte, is dus ongelooflik belangrik. Gehegtheid vorm wanneer ‘n kind se versorger sensitief is vir en op die behoeftes van hul kind reageer. Die eerste 4 jaar van ‘n kind se lewe word gesien as die fondament waartydens gehegtheid vorm. Die manier waarop versorgers kommunikeer met hul kind, beide op ‘n verbale en nie-verbale manier, het grootliks ‘n invloed op die kind se uitkyk op die wêreld. Die tipe gehegtheid wat jou kind ontwikkel, beinvloed die gehegtheid (gesond of ongesonde) wat jou kind met jou en ander in die wêreld sal hê. Versorgers of ouers is die hoofspelers in ‘n kind se lewe en bepaal dikwels of ‘n kind ‘n gesonde of ‘n ongesonde gehegtheid sal ontwikkel.

Gehegtheid bepaal hoe kinders en later volwassenes optree in verhoudings met ander individue, of hulle ander sal verwyt en wegstoot en of hulle die wêreld en ander sal vertrou.
Daar bestaan vier soorte gehegtheid:

  1. gesonde gehegtheid;
  2. onveilige vermyende gehegtheid;
  3. onveilige ambivalente gehegtheid; en
  4. disorganiseerde gehegtheid.
Parent Child Attachment

Kinders wat ‘n gesonde gehegtheid ontwikkel het ‘n gesonde verhouding met hulle ouers of versorgers. Hulle maak staat op hulle ouers wat hulle veilige hawe is. Die kinders weet daar is iemand in die wêreld wat betroubaar is, iemand op wie hulle fisies kan vertrou en staatmaak. Hierdie innerlike basiese model wat vorm is die ‘template’ waarmee hulle ander verhoudings en interaksies interpreteer. Kinders met ‘n gesonder gehegtheid floreer sosiaal, maak maklik maats en ontwikkel gesonde effektiewe verhoudings met ander.

Kinders met ‘n onveilge vermyende/ – ambivalente of disorganiseerde gehegtheid ervaar die wêreld as onbetroubaar  omdat hulle ouers of versorgers nie konsekwent op hulle behoeftes gereageer nie. Dus kinders wat hierdie ongesonde gehegtheid ontwikkel voel altyd onseker, onsteld of anstig rondom ander mense. Kinders wat hulle ouers as afwesig ervaar sal nie vertoue in ander ontwikkel nie, dus die kind se innerlike basiese model, is gegrond op wantroue, onsekerheid en angstigheid. Hierdie kind sukkel dikwels om maats te maak, hulle het gewoonlik oppervlakkige emosionele verhoudings as volwassenes.

Ouers of versorgers is dikwels onbewustelik onbewus van die impak wat hulle op hul kinders se emosionele ontwikkeling het. Die kwaliteit van ‘n kind se emosionele welstand word bepaal deur die gehegtheid wat ontwikkel deur die verhouding tussen ‘n kind en sy ouer of versorger. Gehegtheid bepaal dus die kwaliteit van jou kind se verhoudings met jou, hul maats en met die samelewing.

Hierdie artikel oor gehegtheid of ‘attachment’ is bloot ‘n inleiding en ouers mag sit met die volgende vrae:

Watter invloed het die versorger (kleuterskool) op die ontwikkeling van my kind se emosionele ontwikkeling?

Hoe kan ek as ‘n ouer wat voldag werk ‘n positiewe rol speel op die emosionele ontwikkeling van my kind?

Indien jy meer riglyne wil hê om ‘n vaste gesonde gehegthei met jou kind te ontwikkel, kontak my gerus by Vita Nova Counselling services. Ek bied werkswinkels vir ouers en versorgers aan.