Die eerste maand van die jaar is al amper verby. Jy kan jou kalender amper al na Februarie omswaai. Dalk het jy nuwejaarsvoornemens vir jouself gemaak en het jy vol hoop beloftes gemaak dat 2016 die jaar sal wees waarin jy jou drome vervul, gaan reis, kookklasse neem, meer tyd aan jouself bestee, aan jou verhoudings gaan werk of ‘n nuwe stokperdjie beoefen. Dalk het jy die jaar ingestap met geen vooropgestelde idees of voornemens nie. Waar jy ookal op die kontinuum lê, is ek seker jy het hoop dat die jaar wat voorlê vol opwinding, sukses, goeie gesondheid, liefde en vrede sal wees, maar hoeveel beheer het jy nou eintlik oor wat die jaar vir jou inhou?

Met ‘n glimlag en selfversekerheid kan ek vir jou sê: ‘ongelooflik baie!’ Jy kan die beste uit die jaar haal deur jou aandag op een aspek te spits. Die aspek  is jou gedagtes. Die gedagtes wat jy kweek en die interne dialoog wat jy met jouself het, het ‘n merkwaardige invloed op jou uitkyk van die lewe en beinvloed jou vlak van geluk op ‘n daaglikse basis.

Jou gedagtes het ‘n groot impak op jou emosies en jou emosies het ‘n groot impak op jou energie en motiveringsvlakke asook jou frustrasie toleransie.

Kom ons kyk na twee scenarios: As jy in die oggend wakker word en hoor hoe die voëltjies buite sing en jou eerste gedagtes is: ‘Ag ek is so moeg, ek wens ek hoef nie werk toe te gaan nie. Ek wil nie nou kosblikke maak of eers mooi aantrek nie, ek is nie reg vir die dag nie’, gaan jou gedagtes jou emosies, energie, motivering en frustrasie toleransie vlakke negatief beinvloed. Jy gaan terneergedruk of depressief voel, take stadiger verrig, nie wil deelneem aan aktiwteite wat jy normaal weg sou afhandel en ook vinnig geirriteerd en frustreerd raak as dinge nie verloop soos jy dit sou wou hê nie. Dit gaan ‘n baie lang en moeilike dag wees vir jou.

Die tweede senario speel dieselfde af: jy wakker en hoor hoe die voëltjies buite sing en jou gedagtes is: ‘Ek is moeg maar het ‘n goeie nag rus in. Ek is reg vir die dag en al sy uitdagings en ek voel gelukkig om te kan wakker word en net ‘n paar minute te kan luister hoe mooi die voëltjies sing.’ Jy kan opstaan met ‘n glimlag, met dankbaarheid in jou hart en jy kan die dag se take verrig met energie, motivering en saligheid. Jou gedagtes wat jy vorm, help jou om die wêreld om jou in ‘n positiewe  of negatiewe lig te sien en sal jou uitkyk beinvloed. Jou gedagte beinvloed nie net watter chemise stowwe in jou brein vrygelaat word nie, maar beinvloed ook jou liggaam en gemoed elke oomblik van elke dag. Jy is die skepper van jou interne wêreld en jy alleen besluit of jy in ‘n tronk of ‘n paradys wil lewe.

As jy klaar jou lysie vir 2016 se doelwitte teen jou yskas geplak het, hoop ek jy las die raad by. Raak bewus van jou gedagtes en die interne dialoog wat jy met jou jouself het, want dit kan letterlik jou wêreld verander en jou help om die beste uit die jaar te kry.

Dus; jou innerlike welstand is die eerste aspek waaraan jy moet werk, want dan gaan jy soveel meer vreugde uithaal uit jou kookklasse, jou planne om te reis, hoe jy verhoudinge benader of die nuwe stokperdjie wat jy wil begin.