Die meeste mense gee bitter min aandag aan die funksionering van hulle liggaam. Ons staan in die oggend op en aanvaar vanselfsprekend dat ons liggame ons deur die dag gaan bring, sodat al die verskillende dagtake afgehandel kan word. Ons eet twee of drie maaltye ‘n dag en dalk nog ‘n paar peuselhappies tussendeur. Ons neem deel aan oefeninge, ons werk en sosialiseer. Ons fokus nie op ons ligaamlike funksionering totdat daar ‘n ontwrigting as gevolg van ‘n siekte kom nie. Wanneer ‘n individu aan ‘n eetversteuring ly, beinvloed dit nie net hulle maaltye, oefening en soasialiseering nie, maar elke aspek van hulle lewe. Hierdie is die eerste van 6 artikels wat sal fokus op verskillende eetversteurings.

Om te eet word gesien as ‘n automatiese gedrag. Jou eetpatroon word deur verskeie faktore bepaal soos byvoorbeeld die beskikbaarheid van kos, die assosiasie met kos, sosiale geleenthede (soos Kersfeesetes saam met die gesin) asook die samelewing en kultuur waarmee jy identifiseer. Eet is belangrik, voedsel hou ons tog aan die lewe. Maar wanneer ‘n individu ‘n versteuring in hulle eetgewoontes ontwikkel kan dit so ’n groot impak hê dat die res van hul funksionering negatief beinvloed sal word. Vir ‘n individu wat met ’n eetversteuring worstel, is dit dikwels ’n baie moeilike, eensame pad na herstel. Behalwe dat dit normaalweg intensiewe behandeling van dokters, dieetkundiges en sielkundiges vereis, is die inskakeling by ’n samelewing (soos vandag) wat baie voorkomsbewus is, besonders moeilik.

Navorsing beklemtoon die wydverspreide voorkoms van eetversteurings wêreldwyd wat in verskillende kulture en samelewings bevind word. In die Westerse kultuur word eetversteurings al vanaf 1960 gedokumenteer. Klem word geplaas op die negatiewe impak wat ‘n eetversteuring op ‘n individu se liggaamlike en verstandelike funksionering het. Die voorkoms van eetversteurings kom mees algemeen voor tydens die adolesente periode van ouderdon 14 tot 20 jaar, maar dit sluit nie die ander ouderdoms groepe uit nie. Sekere tipe eetversteurings word tipies deur sekere ouderdomsgroepe ervaar en sal verder aangespreek word in die artikels wat volg.

Eetversteurings gaan baie maal gepaard met ander sielkundige versteurings soos depressie en angstoestande. Die individu met ‘n eetversteuring voel meestal geïsoleer van hulle vriende en familie, wat ly tot depressie. ‘n Individu met ‘n eetversteuring voel hulle pas nie in nie, en lewe met ‘n geheim wat hulle nie aan ander wil ontbloot nie, as gevolg van die skuldgevoel en verwerping wat aan eetversteurings gekoppel word. Geleenthede waartydens kos ‘n rol speel maak hierdie individue baie angstig en kan ly tot angstoestande waar hulle nie wil uitgaan en aan die lewe deelneem nie. Die sterftesyfer van eetversteurings is baie hoog en daarom word dit dus gesien as ‘n baie ernstige versteuring wat dadelik ‘n intervensie nodig het omdat eetversteurings ook gepaard gaan met ernstige ligaamlike probleme soos hartsiekte en nierversaking.

Die Diagnostiese en Statistiese Handleiding van Geestes Versteurings wat Sielkundiges en Psigiaters gebruik om ‘n individu te diagnoseer, noem 8 verskillende eetversteurings. Die 8 verskillende eetversteurings is PICA versteuring, Herkou versteuring (rumination disorder),  Vermydende/beperkende voedseliname versteuring (avoidant/restrictive food intake disorder), Anorexia nervosa versteuring, Bulimia nervosa versteuring,Impulsiewe ooreet versteuring (binge-eating disorder), ander gespesifiseerde eetversteurings en laastens Onidentifiseerbare eetversteurings. Die reeks artikels sal ‘n lig op elkeen van die eetversteurings laat skyn. Maar voor ons na die verskillende tipes eetversteurings kyk, is dit baie belangrik om sekere feite en mites in konteks te plaas:

Mite #1: Eetversteurings affekteer meestal jong, wit, tiener meisies

Feit: Eetversteurings affekteer beide geslagte, in alle ouderdomsgroepe en van elke ras en kultuurgroep. Die afgelope 7 jaar beklemtoon navorsing ‘n toename in jonger seuns wat eetversteurings ontwikkel.

Mite #2: Eetversteurings is ‘n keuse, en vir party mense ‘n leefstyl.

Feit: Mense kies nie om ‘n eetversteuring te ontwikkel nie. Pogings om maerder of gesonder te wees kan in ‘n obsessie verander waar die individu beheer verloor.

Mite #3: Eetversteurings is ‘n hulpkreet vir aandag soek

Feit: Om gewig te verloor kan aanvanklik positiewe aandag bring, maar dit verander gou na negatiewe en ongewenste aandag met verloop van tyd.

Mite #4: Individue met eetversteurings wil hulle familie straf

Feit: Dit is algemeen dat die ouers en familielede hulleself blameer wanneer ‘n individu ‘n eetversteuring ontwikkel, maar dit is baie skaars dat die ontwikkeling van die gedrag kwaadwillig of aspris is.

Mite #5: Jy kan nie ‘n normale gewig handhaaf terwyl jy aan ‘n eetversteuring ly nie.

Feit: Eetversteuring gaan nie uitsluitlik/aleenlik oor gewig nie. Eetversteurings gaan veral oor ‘n individu se eiewaarde. Eetversteurings gaan oor ‘n verwronge selfbeeld en obsessiewe gedagtes oor hoe om gewig te verloor. Individue met ‘n gesonde gewig sukkel meer omdat hulle nie erkenning van hulle siekte ontvang nie.

Mite #6: As mense met eetversteurings net kan eet, dan sal hulle beter raak.

Feit: Eetversteurings gaan nie net oor kos nie. Die herstel van ‘n eetversteuring behels baie meer as die herstel van normale eetpatrone: die onderliggende dinamika moet ook geidentifiseer en aangespreek word. Dit verg tyd en dikwels is die eetgedrag en gewig die laaste aspek wat verander.

Mite #7: Eetversteurings is net ‘n tienerfase wat sal weggaan.

Feit: Meeste eetversteurings ontwikkel gedurende die adolesente jare wanneer identiteit en onafhanklikheid gevestig word. Eetversteurings is nie ‘n normale fase van groot word nie. Om ongesonde gewoontes te ignoreer kan baie gevaarlik wees.

Indien jy bekommerd is oor jouself:

  • Neem iemand in jou vertroue: ’n vriend/vriendin, onderwyser, ‘n ouer of familielid.
  • Spreek ‘n professioneel-opgeleide persoon wat ervaring en begrip het van eetversteurings.
  • Moenie lank uitstel om hulp te soek nie: hoe gouer jy die probleem aanspreek, hoe gouer kan jy daarvan begin herstel.
  • Maak gebruik van ‘n ondersteuningsnetwerk om jou by te staan met die herstelproses, mense wie jy kan vertrou.

Indien jy vermoed iemand naby aan jou ly aan ‘n eetversteuring, probeer die persoon aanmoedig om ‘n professionele persoon (sielkundige, diëetkundige, dokter of ‘n psigiater) te raadpleeg. Indien die persoon baie onseker is, probeer die persoon aanmoedig om ten minste vir ‘n evaluasie te gaan. Indien die persoon reeds besig is met behandeling, moedig haar/hom aan om daarmee voort te gaan.