Eweskielik is die vakansie verby! Dit is terug in die alledaagse roetine, die rond skarrel en die bekommernisse, die beplanning en die spanning, 2019 is volspoed aan die gang! Oppad terug van vakansie af, het ons almal so om die beurt, ‘n bietjie gedeel waaroor ons opgewonde voel vir die jaar wat voorle. Na ek my kans gehad het, vra my man my ‘n baie interessante vraag: “Dit klink alles great, An…maar wat gaan jy hierdie jaar minder doen?” Dit het my vir so ‘n oomblikkie effe tot stilstand gebring. Wat gaan ek minder doen in 2019… Kyk, ek weet ek is iemand wat die hooi op my vurk PAK. Ek moet gedurig van alle kante af hoor ek is te besig, ek doen te veel, ek gaan uitbrand. Sy vraag het vir ‘n oomblik in my hart rond gesoek en in my gedagtes probeer vatplek kry. Wat gaan ek minder doen in 2019? “Is dit tog nie ‘n bietjie van wat my “ek” maak nie?” was al wat ek kon antwoord. Ons het lekker daaroor gelag en almal het ingespring met allerhande grappies en sê-goed en ons het verder gesels oor al die nuwe uitdagings en plannetjies wat vir ons gesin voorlê. Tog, het sy vraag bly rondsnuffel in my binneste…wat gaan ek, in 2019, minder doen. In die raar, stil niks-sê tye van die rit huistoe, het ek so ‘n bietjie deur my “ek-wees” geblaai. Ek geniet die dinge waarmee ek besig is. Dit vervul my met ‘n “sense of purpose” – soos die Engelsman sal sê. Is ek bereid om een van die ek-wees goedjies op te gee of kleiner te maak…ek is nie so seker nie. By die huis aangekom, het ons die normale terug van vakansie af goed aangepak – tasse in gesleep, bondels wasgoed in die opwas neer gegooi, gordyne oopgetrek en vensters oopgemaak sodat die vars somerslug deur die effe benoude huis kon waai. Ek het diep ingeasem; dankbaar vir n veilige terugkoms, dankbaar vir die geleentheid en die voorreg om lekker te kon uitrus. Dankbaar vir gesonde kinders en gesonde gesinsverhoudings. Dankbaar vir opgewondenheid oor die jaar wat voorlê… en ‘n besef het so suutjies in my hart kom lê-plek kry. Ek is wie ek is. Ek laai my vurk ‘n bietjie vol; met tye eintelik te vol, ek moet dit erken. Ek besef dat ek soms emosioneel moeg raak, maar dat ek dit nie aan myself erken nie en dat ek dit eers eerlikwaar raaksien, wanneer ek werklik ruskans kry. Ek besef dat ek deur druk en sterk staan en aanhou, wanneer ek eintlik moet stilstaan, terugstaan, asemskep… Wat gaan ek hierdie jaar minder doen?
  • Ek gaan in 2019 minder in ontkenning staan teenoor myself, minder skuldig voel as ek nie okay voel nie en vir myself dus die toestemming gee om bietjie stil te staan en asem te skep.
  • Ek gaan in 2019 minder “JA” sê vir alles en almal en die woorde; “ek kan ongelukkig nie help nie”, deel van my woordeboekie begin maak.
  • Ek gaan in 2019 minder on-georganiseerd wees. My weke beter beplan, sodat my tyd makliker bestuur kan word.
  • Ek gaan minder “wat as” gedagtes koester en elke bekommernis as gebed voor die Almagtige se voete gaan neersit… en dan DAAR LOS.
  • Ek gaan minder aandag gee aan negatiewe gedagtes en al die lelik in die wereld. Ek wil die mooi en die goed raaksien en diep in asem, sodat die mooi en die goed my hele wese vul.
  • Ek gaan minder omgee wat mense van my dink.
  • Ek gaan minder koffie drink… maar wanneer ek koffie drink, moet dit goeie, lekker koffie wees!
  • Ek gaan minder op my eie vermoëns staatmaak en hulp vra waar nodig.
  • Ek gaan minder voorgee dat ek alles onder beheer het, as ek eintlik voel dat my voete bietjie klei trap.
Ek sit hier voor my rekenaar en lees deur my minder-lysie…”tall order” fluister my hart so saggies en ek kan nie help om vir myself te lag nie. “Ek gaan my bes probeer” antwoord ek terug. Maar… ek gaan ook minder skuldig voel en gedruk voel om te verduidelik; wanneer iemand weer vir my sê “jy doen te veel, Anri; jy is te besig, jy gaan uitbrand” want dit is, tog ook, so ‘n bietjie van wat my ek maak.