In my praktyk kry ek gereeld vrae van ouers rakende hulle kinders se ontwikkeling. Ouers stel belang daarin om te weet wat om van hulle kinders te verwag en verkeerde inligting kan beide die ouers en die kinders se ontwikkeling benadeel. Met hierdie reeks artikels wil ek graag vir ouers goed nagevorsde inligting gee ten einde hulle vrae te beantwoord en hul by te staan in die verstaan van hul kinders.

Ek begin die storie aan die begin: “Eendag was daar ‘n babatjie gevorm in ‘n mamma se maag…” Jou kind se ontwikkeling begin die oomblik wat sy hartjie begin klop. Die ontwikkeling van die fetus is belangrik en dit is waarom swanger mammas baie mooi na hulself moet kyk. Jou baba begin al in die uterus sensoriese geheue te ontwikkel, wat beteken dat die fetus al van sy sintuie kan gebruik maak om sy wêreld te leer ken. Die fetus is veilig en het toegang tot suurstof en kos wanneer hy/sy dit nodig het. Alhoewel primitief, kan die fetus ook al toegang tot emosies hê en kan ook die mamma se emosies aanvoel.  

Wanneer daar pre-natale trauma plaasvind, soos byvoorbeeld die mamma misbruik substanse, die mamma het baie spanning in haar lewe, of die mamma (en fetus) raak siek, kan dit ‘n negatiewe impak op die fetus se ontwikkeling hê. Die fetus kan spanning aanvoel en soms voel hulle verwerp nog voordat hulle gebore is. Die geboorte proses op sig self kan ook vir die baba baie traumaties wees. Dit is waarom dit baie belangrik is vir die baba om so gou moontlik na geboorte ‘n sekure binding met sy primêre versorger te vorm. Dit gebeur egter soms dat daar trauma tydens of na geboorte plaasvind en dat dit die bindingsproses negatief kan beinvloed. In hierdie geval moet daar groter fokus geplaas word om die bindingsproses tussen die versorger en die baba te herstel. Wat ek graag hier wil oordra is dat dit belangrik is om te onthou dat jou fetus kan voel. Indien jy ‘n moeilike swangerskap gehad het, of geboorte probleme kan dit veroorsaak dat jou baba meer aandag gaan nodig hê. Onthou dat jou fetus kan voel wat jy voel: as jy baie spanning ervaar, is die kanse groot dat jy geboorte aan ‘n anstige/gespanne kind kan gee. Pas jouself en jou fetus mooi op – ‘n goeie fondasie is belangrik vir die kind se toekomstige onwikkelingsfases.

“Nadat die babatjie in mamma se magie groot geword het, besluit hy dat dit nou tyd is vir hom om die wereld daar buite aan te pak. Hy is bang want hier binne mamma maak alles sin en hy het alles wat hy nodig het, maar hy weet dat daar buite vir hom baie avonture wag…” Wanneer jou baba gebore word, is dit in meeste gevalle een van die gelukkigste dae van jou lewe. Ek het al met baie mammas gepraat en hulle deel dat wanneer hulle daai eerste huiltjie hoor, hulle harte oorloop van blydskap. Wanneer mammas hulle babas vir die eerste keer vashou, en die hele lyfie waarneem en bekyk, belowe hulle daardie baba om hulle altyd te beskerm en om die beste mamma ooit te wees. Hier is waar die eerste probleem inkom: daar is geen ouer wat nie foute maak nie!! Daar is geen boek wat heeltemaal aan jou gaan verduidelik hoe om daai spesifieke mensie groot te maak nie. Lees en berei voor vir wat jy kan en onthou dat kinders-grootmaak ‘n lewenslange leerskool en proses gaan wees. Ek sal egter ‘n kort beskrywing ten opsigte van jou baba se ontwikkeling van geboorte tot twee jaar oud gee. Wanneer ons gaan kyk na ontwikkeling is dit belangrik om te onthou dat ontwikkeling op fisiese, kognitiewe, emosionele, sosiale en morele vlak plaasvind.

Volgens kindersontwikkelingsteoreë kan die eerste ontwikkelingsfase (geboorte tot twee jaar oud) beskryf word as die sensories-motoriese fase. Babas leer deur middel van beweging. ‘n Baba ontwikkel deur rond te kyk, later arms en bene te beweeg en later sy hele lyfie te kan gebruik om sy wêreld te verken. Kogntiewe, emosionele, sosiale en morele vermoëns is beperk en een van die belangrikste take vir die baba is om fisies te groei en om ‘n sekure binding met sy primêre versorger  te vorm. Hoekom is dit belangrik? Tydens die eerste twee lewensjare vorm jou kind sy persepsie oor die wêreld. ‘n Sekure bindingspatroon is nodig ten einde jou kind te help om ‘n gesonde balans tussen vertroue en wantroue te ontwikkel. Jou baba het nodig om veilig te voel en om sy wêreld as veilig te beleef. Wanneer babas nie veilig voel nie, belemmer dit ontwikkeling en die kind kan talle gedragsprobleme tydens latere ontwikkelingsfases toon (soos skeidingsangs).

Hoe bou ‘n mens ‘n sekure binding met jou baba? Babas kan nie hulself verbaal (in woorde) uitdruk nie. Babas huil om te sê dat hulle ongemaklik is – hierdie ongemak kan honger, vaak, siek, ens, wees. Wanneer jy as ouer nie reageer op jou baba se behoeftes nie, ontwikkeling hulle ‘n persepsie dat hulle nie hulle wêreld kan vertrou nie. Babas het ook nog nie “objek permanensie” ontwikkel nie.

Dit beteken dat hulle nie besef dat iets kan terugkom as dit weg gegaan het nie. Hulle raak dus angstig as hulle primêre vesorger hulle sig verlaat – hulle besef nie dat jy weer gaan terugkom nie. Met konsekwente patrone ontwikkel babas objek permanensie op 7 tot 9 maande. Jy moet dus op jou babas se behoeftes reageer en van vroeg af struktuur en voorspelbaarheid in hulle lewens plaas.  

Ek is van die opinie dat babas nie hulself kan “sooth”nie – dit beteken dat jou baba hom/haarself aan die slaap gaan skree/huil, nie omdat hy later vanself beter voel nie, maar omdat hy so anstig is dat hy slaap om homself te beskerm. Hulle kan nie vir hulself laat beter voel en koester nie. Hulle is heeltemaal afhanklik van jou vir liefde en koestering. Jou baba ervaar angs wanneer jy nie kom as hy/sy jou roep nie. Dit is dus belangrik om te onthou dat jy nie jou baba met liefde en aandag kan bederf nie. Vir die eerste twee jaar, het daai kind jou en die mense in sy lewe nodig.

Die volgende aspek wat die bindingsproses aanhelp, is voorspelbaarheid en struktuur. Wanneer die baba se daaglikse roetine voorspelbaar en gestruktureerd is weet hulle wat om van hulle wêreld te verwag. Dit is hoekom selfs die kleinste verandering ‘n baba kan affekteer. Hulle kan soms moeiliker en meer huilerig raak. Dit kan so ongeveer drie weke vir jou baba neem om gewoond te raak aan ‘n nuwe roetine. Maak seker dat jou baba ‘n goeie eet, slaap en speel roetine het.

Babas kan ook nie reaksies voorspel nie – Dit maak sin aangesien ‘n baba geen verwysingsraamwerk het nie. Hulle eksperimenteer dus deurgans met nuwe gedrag. Hulle vat aan alles en sit alles in hulle mond. Hulle moet leer, en dit is hoe hulle leer. Die baba se ontwikkeling kan negatief beinvloed word wanneer die ouers die kind se bewegings beperk. Die kind moet die geleentheid gegee word om te kan beweeg en te kan leer – binne veilige grense natuurlik. Kinders begin eers hier van ongeveer 8 jaar oud moreel te ontwikkel. ‘n Baba is nie stout as hy mamma se kas uitpak en speelgoed rondgooi nie, hy wil bloot kyk wat gaan gebeur as hy dit doen. Kinders wat so jonk is, sal alles probeer om te kyk watter reaksie hulle kry. Mens kan van ongeveer 1 jaar af begin om jou baba te leer dat slaan, skop en byt nie “Ok” is nie – hulle het egter swak impuls beheer en sal soms aggressief optree om frustrasie te wys. Die baba se sosiale ontwikkeling is dus baie primitief en beperk tot sy verhouding met sy primêre versorger. Kinders kan ook van ongeveer twee jaar oud begin om oudersodomsgepaste verantwoordelikhede en keuses te maak.

Onthou dat jou baba vir ‘n lang tyd na geboorte nog nie besef dat hy/sy ‘n mensie op sy eie is nie. Die baba het jou nodig vir die vervulling van al sy behoeftes. As ‘n versorger is dit jou verantwoordelikheid om seker te maak dat die baba reg eet en slaap, en ook dat jou baba die geleenthede kry om te leer. As jou baba grootword met die persepsie dat hy nie sy wêreld kan vertrou nie, is die kanse goed dat jou kind skeidingsangs en ander sosiale/emosionele probleme kan ontwikkel. Vat aan, speel, versorg en wees lief vir jou baba – jy is sy HELE wêreld. Daar is genoeg wantroue in die wêreld. Ek sien weekliks volwassenes wat sukkel met vertroue as gevolg van hulle kinderdae en ek sien die verskeidenheid probleme wat dit kan veroorsaak. My versoek is dat jy jou baba sal oppas en seker maak dat hy/sy die mylpale (soos sit, kruip, praat) sal bereik. Indien jy onseker oor sekere aspekte van jou baba se ontwikkeling is, is dit jou verantwoordelikheid om uit te vind – daar is talle proffesionele persone wat oor kennis op die verskillende velde beskik om jou te kan help.

Die volgende artikel sal verder met die storie aangaan en ons sal spesifiek gaan kyk na die ontwikkelingsfase van kleuters en die uitdagings wat daarmee gepaart gaan.

“Babies are soft. Anyone looking at them can see the tender, fragile skin and know it for the rose-leaf softness that invites a finger's touch. But when you live with them and love them, you feel the softness going inward, the round-cheeked flesh wobbly as custard, the boneless splay of the tiny hands. Their joints are melted rubber, and even when you kiss them hard, in the passion of loving their existence, your lips sink down and seem never to find bone. Holding them against you, they melt and mould, as though they might at any moment flow back into your body.

But from the very start, there is that small streak of steel within each child. That thing that says “I am,” and forms the core of personality.” Diana Gabaldon, Dragonfly in Amber.

[EasyDNNnewsLink|3]

[EasyDNNnewsLink|4]