Published on Thursday, January 22, 2015

Wat is die "ROL" van oupas en oumas in ’n kind se lewe - kan ons die rol definieer?

Wat is die "ROL" van oupas en oumas in ’n kind se lewe - kan ons die rol definieer?

Elke familie bestaan uit n sisteem waar gedragsgewoontes en verhoudingspatrone al vir jare en generasies op n sekere manier funksioneer. Wat die een generasie leer word aan die volgende generasie oorgedra. Dit is dus baie moeilik om n baie spesifieke en beperkte rol vir oupas en oumas te definieer. Party families is emosioneel baie geheg aan mekaar en daar is patrone waar nabyheid en daaglikse hulp aan die orde van die dag is. Ander families of grootfamilies verkies weer meer afstand en fokus veral om elkeen spasie te gee om hom of haarself uit te leef. Dan kom die individuele faktore ook nog by waar elke familielid sy of haar persoonlikheid en styl van verhoudings handhaaf. 

Daar is tog eienskappe in die rol van grootouers wat ons kan definieer. As ons kyk na hoe mense voor die industriele rewolusie en die aanvang van moderne vervoer funksioneer het – met ander woorde vir duisende jare tot en met omtrent n honderd jaar gelede - dan is dit duidelik dat oumas, oupas, ooms en tannies almal saam n aktiewe rol gespeel het in die famliekinders se lewens. Moeders (en vaders) het hulp nodig met hul kinders en die wat die taak van ouerskap stoksielalleen aanpak sonder enige emosionele of funksionele ondersteuning kry dikwels baie swaar en ly maar in stilte. 

Oor die algemeen kan oupas en oumas se rol in hul kleinkinders se lewens dus insluit:

  • Gereelde emosionele ondersteuning vir die kleinkind en die ouer. Kinders het liefde en aandag broodnodig vir hulle eie gesonde ontwikkeling en om nog n bron (grootouer) te he wat die ouer kan vertrou en wat werklik opreg belangstel en opgewonde is oor die kind se lewe is n groot plus. Ouers het ook tyd nodig om werk en ander stres te hanteer en het n behoefte om emosioneel te herlaai. n Grootouer wat kan luister met empatie of kan instaan met die kleinkinders gee die ouers kans om hul eie emosies beter te bestuur.

  • Funksionele (taakgerigte) ondersteuning wat die volwasse kinders (ouers) weer n kans gee om die beste te maak van hul reeds beperkte vrye tyd, soos byvoorbeeld waar ouma of oupa na die kleinkinders kyk wanneer pa en ma vir n tydjie wegbreek om hul huweliksverhouding te koester of om vir n slag by hul eie vriende uit te kom. Of waar die grootouer dalk help om kinders na sekere aktiwiteite aan te ry wanneer pa of ma vasbrand by die werk.


Hoe dikwels sien julle dat grootouers die grense oorskry...maw dat hulle ma of pa se rol oorneem;  kinders uitermatig bederf; ens? 

Dit kom redelik gereeld voor in huweliksterapie waar een maat kla oor die “oorbetrokkenheid” van  grootouers. Dis interessant dat dit gewoonlik raakgesien en gevoel  word in die skoonfamilie en nie in die persoon se eie familie nie. Dit is redelik veilig om te aanvaar dat as n grootouer in hul volwasse kinders se lewens grense oorskry dan gebeur dit ook in die verhoudinge met die kleinkinders. Ander kere is dit n geval waar die oupa of ouma reeds baie vriende oor die jare verloor het of reeds afgetree het en uit eensaamheid fokus hulle nou sterk op die kleinkinders om die teenwoordigheid van hulle eie swaarkry weg te neem. 

In sekere gevalle word kleinkinders uitermatig bederf, maar die mees algemene probleem is egter  dat oupas en oumas nie die styl van ouerskap van hul volwasse kinders verstaan nie en dat hulle nie die “huisreels” of dissipplinne toepas soos die ouers van die kleindkinders dit wil he nie. Baie keer doen grootouers presies dieselfde soos hulle ouerskap uitgeleef het al het die tye baie verander of hulle doen amper presies die teenoorgestelde van wat hulle as ouers gedoen het: die baie streng pa het in Kersvader verander met die koms van die eerste kleinkind; of ouma laat die kleinkind wegkom met dinge wat haar eie dogter nooit mee sou kon wegkom nie. 


Hoe maak ek as ek ongemaklik raak met my eie ouers, of skoonouers, se manier van doen as dit by my kinders kom? hoe spreek ek dit aan sonder om verhoudings te laat skade ly? 

Hier moet die een wat praat en die een wat luister aangemoedig word. Vir die ouer: onthou dat jou ouers ongelooflik lief is vir jou en die kleinkinders. Uit opgewondenheid wil hulle net help en bedoel dit goed in meeste gevalle. Ouers selfs van volwasse kinders gaan ook automaties of uit nature hul ouerskap en beskermende of raadgewende rol aktiveer sodra hul kinders probleme het of hulp nodig benodig– dis juis die rede waarom ons so hard werk om huwelikspare te help om nie hul ouers in hul persoonlike probleme te betrek nie. As volwasse mense is ons verantwoordelik vir ons eie probleme en om dit suksesvol op te los en te groei in die proses moet ons nie toelaat dat ander (soos grootouers) ons probleme vir ons oplos nie. Ouerskap val ook onder hierdie beginsel. 

Tenspyte van n paar uitsonderings is dit altyd beter dat die volwasse kind self met sy of haar eie ma en pa praat oor hoe die kleinkinders hanteer moet word. Benader jou ouer met respek en liefde en praat uit jou eie verwysingsraamwerk hoe jy dinge sien en wil doen. Vertel hulle van jou filosofie as pa of ma. Sinne moet hier begin met “ek voel” of “ek dink” en glad nie met n beskuldiging of kritiese aantyging nie. Laat weet jou ouers dat jy wel hulle hulp nodig het maar dat jy sal vra wanneer jy dit nodig het. Bedank hulle vir die ondersteunign wat jou gesin en kleinkinders reeds ontvang. Dit voel dalk vir jou dat jou ouers dink hulle word weggeskuif en dat hulle dalk nie jou waardeering ter harte neem nie. Onthou dat enige verandering word werklik ervaar in die herhaling van aksies wat die woorde wat gespreek is vervul. Dalk gaan dit tyd vat voor dit wat gese is ook so ervaar word.  Dit is dus belangrik om dit wat jy se deur te voer en om vir jou ouers te wys hoe waardeer jy hulle hulp met die kleinkinders. Neem leiding en vra vir hulp soos jy dit wil he, moenie sit en wag dat iets gebeur en dan reaktief optree nie. 

Vir die oupas en oumas: Grootouers het jare se ondervinding as ouers en ervaar dalk n sterk behoefte om raad te gee aan hul eie volwasse kinders wat nou vir die eerste keer deur die ouerskap fase gaan. Onthou dit is die ouer se werk om ouerskap te bestuur en verantwoordelikeheid daarvoor te neem. Om daardie verantwoordelikheid op jou (die oupa of ouma) te neem kan baie frustrasie and ongemaklike gevoelens meebring. Gun jou kinders die geleentheid om te leer en te leef as ouer. Sien jou seun of dogter en skoonkind en hul kinders as n gesin op sy eie. Dit maak dit net soveel makliker vir almal. 


Wat is die moets en moenies vir grootouers as dit by hul kleinkinders kom? 

  • Wat baie kan help is om jou eie struwelinge as ouer te deel met jou volwasse kind as hy of sy moedeloos lyk of kontak by jou soek – die boodskap wat jy uitstuur is: “my kind, ek weet hoe jy voel ek was ook daar eens op n tyd,  ek respekteer dat ouerskap jou primere rol is maar laat weet waar ek van hulp kan wees.” 

  • Dit is goed om te vra waar jy kan help; dit is beter om nie advies of hulp te volunteer nie. Dit kan jou kind selfs meer onseker of ontbloot laat voel. 

  • Maak seker jy weet wat jou kinders verwag in terme van dissipline en huisreels en pas dit toe soos hulle dit verkies. Hier is dit veral belangrik rondom etes en etenstye, TV tyd en bedtyd. 

  • As jy die kleinkinders nie op n daaglikse of weeklikse basis sien nie vermei liewer om dissipline toe te pas vir veral die meer ernstige oortredinge. Dit is beter om dan die ouer self te betrek. Vir oupas en oumas wat n primere rol speel in die kind se daaglikse lewe is dit belangrik om gereeld met jou kind (ouer) te kommunikeer en te vra wat jy moet doen in die meer ernstige situasies. 

  • Daar is niks verkeerd om op n mooi maar kort manier “NEE” vir kleinkinders te se nie. Veral jong kinders moet die grense van die lewe op n daaglikse basis leer. Die goue reel is om liewer nee te se as jy onseker is oor n situasie of n vraag wat jou kleinkind vra. As jy later die “nee” na n “ja” verander is jy die held. As jy die aanvanklike “ja” na n “nee” verander is jy die verraaier. 

  • Onthou jou kind en skoonkind en hul kinders het hul eie gesin gevorm, al is almal hoe naby aan mekaar. Om hierdie grens te handhaaf help dat kommunikasie van behoeftes, verwagtinge en die beplanning van aktiwiteite, veral groot familie geleenthede beter verloop. 

  • Dit is goed om jou kleinkind so nou en dan te bederf. Kinders het liefde en aandag nodig en dit is goed vir hulle selfbeeldontwikkeling om spesiaal te voel. In dieselfde asem is dit nie nodig om elke keer n sjokolade of n persent vir jou kleinkind te gee nie, veral as jy die kleinkinders gereeld (weekliks) sien. Jou opgewondenheid oor die kleinkind as persoon en positiewe teenwoordigheid doen meer as genoeg. Pasop veral vir “geskenke” wat duur is en wat groot omstredenheid kan veroorsaak. Byvoorbeeld, om n nuwe selfoon vir n 10 jarige te koop wie se ouers besluit het dat die kind nog te jonk is vir n selfoon kan maklik vermei word deur oop en gereelde kommunikasie. 

  • As jou jong kleinkind n woedeuitbarsting (tantrum) kies as n manier om te kry wat hy of sy wil he, MOENIE op daardie oomblik impulsief die kind probeer troos of aandag gee of nog erger gee wat die kind wil he nie. Dit leer die kind dat dit in orde is om beheer te verloor, en heel moontlik kry die kind ook nog wat hy os sy wil he! Dit is beter om n kalm teenwoordigheid te toon en aandag aan die kind te gee sodra die woedeuitbarsting verby is. Dit leer jou kleinkind dat as jy jou eie emosies reguleer en kalmeer dan is ek daar vir jou om te help, te luiser en aandag te gee. 

Reaksie op die storie: 

Dit is baie moeilik om vinnig advies vir die persoon te gee aangesien dit lyk of die patroon van haar ouers se betrokkenheid in haar lewe reeds al jare afspeel soos dit nou gebeur. Die kleinkind is basies net n nuwe persoon in die familie wat haar ouers nou ook by oorbetrokke geword het. Haar eerste vraag is regig aan haarself: hoekom het ek al vir so lank toegelaat dat ma en pa aanvaar dat hulle betrokke kan wees in my lewe sonder om my grense te respekteer en hoekom het ek hulle nie al vroeer daarvan bewus gemaak nie. 

Wat haar baie kan help is om saam met haar man n gesprek te beplan en dan saam met haar ouers te gaan praat. Haar man se teenwoordigheid en die feit dat hy waarskynlik nie so emosioneel aan die grootouers gekoppel is nie kan haar ondersteun om sterk te staan en haar grens te stel en te verhoed dat emosies nie wild op die loop gaan nie. Sy kan dan toepas wat hierbo genoem is as sy met haar ouers praat. Familieterapie waar sy en haar ma byvoorbeeld saam n familieterapeut gaan sien kan ook vrese en onsekerhede uitbring sodat dit bespreek kan word. Die feit dat haar ouers net een kind van hul eie  en so op hul dogter gefokus het omdat sy die enigste kind was in die huis het waarskynlik nou net oorgeskuif na die kleinkind. Die grootouers kan duidelik baat by vriendskappe en verhoudinge buite die gesin om hul eie emosionele behoeftes te bevredig maar so iets moet baie versigtig en in liefde hanteer word. 

Rate this article:
4.5
Comments (-)Number of views (7122)

Author: Louis Steenkamp

Categories: Children, Parenting, Afrikaans

Tags:

Print
Louis Steenkamp
Louis Steenkamp>

Louis Steenkamp

Louis focuses on Family Counselling, Substance abuse, Trauma and Relationship Counseling in Pretoria. "Working with people is my passion. I am professionally registered in both South Africa and the United States of America as psychological Counselor and marriage and family therapist."

Other posts by Louis Steenkamp
Contact author Full biography
blog comments powered by Disqus

Search

Workshops

Upcoming events Events RSSiCalendar export

New article email