Ons kyk tong tong in die kies na matriekskryf en dan so ‘n bietjie ernstiger na die realiteit van die uitslae… Wat staan jou as ouer te doen?

Die begin van een van jou kroos se matriekjaar bring mos so ‘n snaakse kol op ‘n ma se maag. Tot as jy nou al twee of drie deur die meule gehad het, bly daai gevoel. So snaakse hol kol; iets tussen opgewonde en bang.

Hier klop jou pienkvoet dan nou aan die grootmenslewe se deur. Maar daar is 12 lange maande – wat verby spoed – tussenin.

‘n Mens kan een van hoofsaaklik twee situasies in jou huis hê. Alle matrikulante is; hoe sal ‘n mens sê, nie so leergierig as die ander nie… terwyl ander dag en nag studeer. Tot so ‘n mate dat die hele gesin naderhand gespanne is.  Wanneer ‘n mens ‘n paar jaar later terugkyk, giggel jy in jou mou, maar defnitief nie terwyl dit aan die gebeur is nie.

Situasie 1:

Aan die begin praat mens mooi. “Dis so belangrike jaar die. Jy gaan seker darem jou alles gee.” Dan onthou jy van nie ‘te veel’druk te plaas nie en dan volg jy vining op: “Sjoe ja…dis so opwindend: matriekafskeid, rugby, krieket. Jy gaan maar jou tyd moet goedbestuur.”

Maart wil jy al mal word. Die kêrel lê nog elke middag na sport met sy vuil rugbylyf voor die televisie en as jy instap vra meneer nonchalant: “Waneer eet ons?” Jy praat met jou man. “Liefie, ons moet seker met hom oor sy toekoms begin gesels jy weet…”

Later gesels julle: “So wat is jou passie?”, “Rugby ma.” Jy dink net: Ag genade, red nou ‘n nasie. “Ja nee, ma hoor jou, maar wat wil jy word? Wat wil jy gaan swot jy weet? Ek hoor Herman gaan aansoek doen vir medies en Belinda beplan drama.” Jy kyk moedeloos hoe hy die vurk een na die ander ophoop met die macaroni en kaas en eet asof alles anders gaan staan het. Jy voel effe geirreteerd. “Nee man, praat nou ernstig met ons? Na watter universiteit se ope dag wil jy gaan? En wat dink jy van daardie nuwe graad wat ek nou die dag…” Hy stoot die stoel agteruit: “Ek weet nie ma. Ek het nou al hope kere vir julle gesê ek weet nie. So, mag ek nou maar verskoon word?”

Jy kyk na jou man. Verslae. Jou oë skiet vol trane. Wat gaan ons maak met hom? “Ontspan.” sê hy. Ontspan?? Jy gaan lê in die bad en dink tranerig waar jy dan nou verkeerd gegaan het.

Jy gaan oueraand toe. “Nee,” sê die onderwyser. “Dis normaal. Hulle sukkel maar almal om aan die gang te kom. Veral die seunskinders; maar hy kan baie beter doen. Julle moet maar motiveer. Is alles reg tuis?” Jy vererre jou oombliklik vir die knapie wat homself ‘n meneer noem – lyk skaars 23.

Dir rapport kom aan en dit lyk nie te goed nie. Boeta, hierdie vakansie gaan jy moet leer. “Jaaaaa ma. Onthou net ek is ook moeg.” Jy sluk amper jou tong in. Moegggg????

As jy tuiskom smiddae hang hy nog in die pyjamabroek en ‘n kombers voor die televisie uit. Die jonger sussie kan nie wag om te vertel “Boetie het NIKS geleer het nie.”

Dan begin ‘n mens smeek, raas en baklei. Maar dis om soos met ‘n boom te praat. Selfs manlief begin tekens van stress toon. Boeta dink nou aan ‘n ‘gapjaar’. “Ís jy nou stapelgek? Jy vat al die hele jaar ‘n gapjaar. Nee, nee. Kom broer ons is in die pylvak.”

Skielik is hy regtig minder in die tv-kamer. Hallelujah, dink jy. Tot jy by die deur inloer met Milo en koekies vir die arme bloedjie en hy sit lekker agteroor met die selfoon. Boek toe op die tafel.

Jy begin die onderwerp vermy met jou vriendinne, maar hoor darem hier en daar iemand kla ook oor so paar goedjies. Toe die matriekafskeid klaar is, wil jy juig. Uiteindelik. Nou is dit sulke tyd. Proefeksamen en dan die finale eksamen. Intussen het broer onder pa se druk darem aansoeke ingestuur vir so paar universiteite, maar ‘hy weet nog steeds nie”.

Almal loop op eiers in die volgende paar weke. Die spanning het skielik soos ‘n groot swart doek oor die huis neergedaal, want “Boetie skryf eksamen”.

As jy aflaai in die oggend voor die eksamen, bid jy al die pad werk toe nog weer ‘n keer. Dan die oproep. Jy probeer so kalm as moontlik vra… “Hoe was dit my kind?” Soms hoor jy “dit was ‘n killer” ander dae hoor jy “Okay”. Jy waag dit om soms versigtig te vra, “Dink jy darem jy sal deurkom?” om net te hoor…”Ek weet nie, okay ma.”

Met die finale eksamen is jy al ‘n wrak van die spanning, maar jy het dit nou al gelate aanvaar. Nie die res van die huis nie. “Ek wens net boetie wil nou klaar skryf, almal is heeltyd in ‘n slegte bui.”  Uiteindelik is dit klaar en die joligheid is aan die broei vir die matriek webreek na die eksamen. Asof die jaar nie genoeg was nie, sien jy hom af saam met ewe ‘happy’ pelle, wat vir ‘n week of so gaan chaos veroorsaak aan die kus.

Jy en manlief kan die spanning nie afskud nie. Wat as hy nie deurkom nie; nie goed genoeg doen nie…

Situasie 2:

Sy sit in haar kamer voor haar boeke – pal. Jy loer so elke uur in: sus, wil jy nie maar ‘n ruskansie vat nie? Jy loop jou in die leeu se bek vas as sy vir jou sis: “Ma sal nie verstaan nie: om vandag ‘n plek te kry op universiteit moet ‘n mens uitblink. Dinge is so anders as in julle tyd”.

Maart-vakansie gaan julle bietjie weg. Sy sit en opsommings maak op die bank en as jy haar forseer om die boeke bietjie weg te sit, ‘ontspan’ sy deur haar voorgeskrewe boeke te lees.

Laatnag brand haar liggie nog. Jy probeer met ‘n vriendin praat, wat letterlik oopmond vir jou staar. “Waaroor kla jy suster? My Anneke sit heeldag op haar selfoon?”

Jy moet jou eens sosiale dogter forseer om bietjie uit te kom. Jy wonder of die depressie haar geslaan het. By die oueraand is hulle vol lof; dinge kan nie beter gaan nie. Maar die onderwyser waarsku tog dat die senuwees ‘n probleem kan wees. “Sy is so perfeksionisties.”

Tuis is daar ‘n nuwe angs. Aansoeke is weggestuur en die wagperiode begin. Vir haar is daar net een opsie: Die graad waarop sy haar kop gesit het. Jy lê snags vir haar part wakker.

Toe die eksamen uiteindelik aanbreek is almal senuweewrakke. Sy skryf en kom met ‘n strak gesig tuis. Dit het “okay” gegaan. Nooit meer nie, nooit minder nie.

En skielik is dit sulke tyd…

Die punte word amper bekend gemaak. Julle hou vakansie, maar niemand ontspan regtig nie – nie voor daardie punte uit is nie. Selfs boeta sit so effe benoud rond.

Ja, dis die tyd van die jaar. Vir ‘n hele jaar het die angs so stadig opgebou en nou hang dit soos ‘n wolk oor elke gesin wat ‘n kind in matriek het.

Dis die feesseisoen wat dikwels gepaard gaan met groot teleurstellings. Die dag van die uitslae is daar gewoonlik drie kategoriee: Die “high-fivers wat uitstekend gevaar het; die wat matriekvrystelling net-net gemis het en die ongelukkiges wat dit nie gemaak het nie.

Die groot vraag bly: hoe hanteer ek as ouer my kind se teleurstelling as dinge verkeerd geloop het?

  1. Ondersteun

Wees daar vir jou kind. Nie net na die tyd nie, maar ook in die in die weke terwyl ons wag vir die gewraakte punte. Laat hulle verstaan dat julle daar sal wees vir hom/haar maak nie saak wat die uitslag is nie. As ouer van Boeta in Situasie 1, voel mens dikwels om dadelik te verwyt – “As jy tog maar geluister het….” Dis nie nou die tyd of die plek nie. Hy sal self diep bewus wees van hoe hy homself in die steek gelaat het. Later, veel later, as die see gaan lê het en nuwe planne gemaak is, kan julle dalk daaroor praat. Vir nou het jou kind jou aanvaarding nodig.

  1. Jou reaksie

Maak nie saak hoe jou kind vaar nie, jy gaan baie hard moet werk daaraan om nie jou teleurstelling te wys nie. Hoe seer dit ookal is, nou is die tyd wat jou kind jou op sy nodigste het.

Tieners is emosioneel sensitief en angstig op die stadium en selfs die kleinste negatiewe reaksie van ‘n ouer kan sy selfbeeld en motivering vernietig. Ek lees nou die dag, Andy Murray, een van die wêreld se top tennisspelers het uitgeval in ‘n groot tennistoernooi deur te verloor teen ‘n speler op ‘n veel laer posisie op die wêreldranglys. Tot almal se verbasing het hy gesê: “Niemand is dood hier nie. Ek het net ‘n wedstryd verloor”. So waar.

  1. Aanvaarding

As die uitslae swak was, is dit miskien een van die eerste groot lewensteleurstellings wat jou kind moet tot op hede moes hanteer. Dis jou werk en jou voorreg om hulle hiermee te help. “Dis verby. Ons kyk nou vorentoe”, is wat moet plaasvind. Dis nou wanneer jy jou kind moet help om sy vaardighede en sterk punte te help identifiseer.  As die trane opgedroog het, is dit tyd om mooi rasioneel saam met jou kind te dink. ‘n Loopbaan moet nog steeds uitgekap word. Maar hou jou kind goed dop. As dit vir jou lyk asof jou kind nie tot aanvaarding kan kom nie, gaan soek professionele raad. Miskien het jou kind nodig om met ‘n terapeut te praat oor sy gevoel van mislukking en saam met iemand wat objektief staan, na nuwe moontlikhede te kyk. Die terapeut sal ook in staat wees om die ouer te verwys vir mediese hulp as daar ‘n onderliggende depressie is wat posgevat het en medikasie dalk nodig is. Dit is nie nou die tyd om jou liefde aan jou kind te onttrek nie.

  1. Moontlikhede

Help jou kind kyk na moontlikhede, bv:

  • Skryf aanvullende eksamens;
  • Stuur vraestelle vir hernasien;
  • Gaan terug skool toe en herregistreer vir matriek;
  • Registreer by ‘n ander skool vir matriek;
  • Voltooi matriek deur aftstandsonderrig.

Die bogenoemde is maar net tradisionele of voor die handliggende oplossings in ‘n wêreld waar die oplossings eindeloos is. Soveel leerlinge gaan studeer bloot omdat dit soos ‘die regte ding’ lyk om te doen en gee dan moed op halfpad deur hulle studies. Dit kan dus ‘n geleentheid skep om terug te staan en saam met jou kind te besin. Nie alle matrieks is emosioneel ewe volwasse nie en hulle is dikwels deur die loop van hulle matriekjaar so gespanne oor hulle toekoms dat dit hulle eintlik afsit van leer en droom oor die toekoms – met ander woorde dat daar ‘n hopeloosheid begin posvat nog voor die jaar behoorlik begin het.

Dis ‘n groot jaar in elke kind en ouer se lewe. Sterkte vir alle matrieks van 2019!

As jou kind in 2020 gaan matriek skryf – alle sterkte! Maak gebruik van die ontspanne vakansie atmosfeer om reeds te praat oor die jaar wat voorlê – verwagtinge, drome, onsekerhede. Beplan nou reeds vir aanlegtoetse as dit nodig is en hou maar die humor hoog.