Kersfees is vir baie van ons ‘n tyd van vrede, vreugde en familie tyd, maar vir sommiges is dit ‘n moeilike tyd, ‘n tyd van tande kners veral vir die van ons wat moeilik oor die weg kom met familie of skoonfamilie. Vir ons Suid Afrikaners is dit amper tradisie om gedurende die feesseisoen, by famillie te kuier. Dit is gewoonlik dan wanneer die konflik kop uit steek. Jy kan helfte van jou salaris spandeer op goeie, effektiewe terapie, maar 20 minute in ‘n familie kuier in en jy is weer ingetrek in dieselfde, disfunksionele gesinsdinamika. Net een kyk na jou suster se “frenzy” oor die nuwe modes en jy wil dit verloor.  Met slegs ‘n ligte sug van jou ouma se kant af het jy reeds alles vergeet rondom grense stel en voor jy jou kon kry het jy haar amper genooi om in te trek! Vir baie mense verg Knersfees goeie strategie beplanning:

Hier volg ‘n paar wenke om die Kners uit die Kersfees te vat:

Wees realisties oor wat om te verwag

Hou op om te dink “hierdie jaar gaan almal verander het”. Dit is ‘n mite. Mense verander nie net sommer nie. Wees dus realisties oor wat om te verwag. As jy weet soos wat jy weet soos wat jy weet daar gaan ‘n geveg losbreek oor die kleinkinders se speelgoed wat oral rond lê, berei jouself voor hoe jy gaan reageer as dit wel gebeur! Deurdink moontlike konflik situasies vooraf en dink na oor hoe jy dit gaan hanteer.

Stel grense

Gegewe dat meeste familielede heel moontlik soos hul normale self gaan optree. Besluit vooraf hoeveel tyd jy werklik met hul wil spandeer. Is daar sekere mense wat jy glad nie kan uitstaan nie, is daar party wat “hanteerbaar” is in ‘n groep maar nie in ‘n meer intieme situasie nie? Bespreek en besluit hierdie vooraf met jou maat. Die middel van ‘n Kersviering is nie die tyd om vir jou maat te sê: “ek kan nie meer dit verdra nie”. Dit gaan lei tot ‘n meer ongemaklike situasie!  Stel dus vooraf grense en besluit vooraf hoeveel tyd jul by wie gaan spandeer.

Breek weg van tradisie

As tradisie die oorsaak is dat jy gespanne en angstig word tydens Kersfees, breek weg. Neem ‘n besluit om dinge anders te doen – wat tot jou voordeel sal strek. Dit kan beteken dat jul sommer net braai op Kersdag of gaan eet uit of dit kan beteken dat jy Kersdag nie met familie spandeer nie. As familie verhoudinge en konflik jou keel laat toe trek, besluit om dit ‘n gesinsdag of –tyd te maak. As die hordes geskenke wat jul moet koop jou op hol jaag, neem ‘n besluit om nie geskenke te koop nie. Die punt is neem besluite wat voordelig is vir jou emosionele- en finansiële  welstand.

Neem mekaar in ag

Knersfees kan veral spanning veroorsaak tussen paartjies as daar konflik is tussen jou en jou skoonmense. Dit is dan maklik om dinge te sê wat jou maat se gevoelens kan seer maak en na die afloop van die Kersdag is jou verhouding nie net met jou skoonmense wankelrig nie maar ook met jou maat. Wanneer dit die geval is, gee ‘n tree terug. Kyk na wat is werklik belangrik en neem jou maat se gevoelens in ag. As dit haar/sy behoefte is om tyd met sy mense te spandeer, respekteer dit. Bespreek mekaar se behoeftes rondom dit en maak ‘n plan om beide gelukkig te hou.

Sien dit as ‘n geleentheid om te vergewe

Ek het onlangs op sosiale media die volgende waarheid teegekom. “Anger is the punishment we give ourselves for someone else’s mistakes”. Dit is so waar, mense maak foute en doen en sê dalk goed wat ons seer maak en dan verknies en straf ons onsself daarvoor.  Veral familie, party familielede dink mos dit is hul plig om jou in te lig oor alles wat fout is met jou en jou lewe. Om kwaad te raak en as gevolg daarvan jou Kerstyd te versuur is nie die moeite werd nie. Maak hierdie jaar ‘n ander keuse besluit om hul te vergewe en aan te gaan.

Ek hoop dat hierdie Kerstyd vir jou vol vrede en vreugde sal wees… sonder ‘n gekners van tande!