Uiteindelik het die dag aangebreek…jou hart se punt gaan grootskool toe! Die nuwe skoolklere is nog bietjie te groot aan die klein lyfies en dit is vir party ‘n groot dag maar baie mammas (en heelwat meer pappas as wat ons dink) gaan met rooi oë by die werk aankom. Sê nou daar is nie ‘n maatjie in pouse tyd nie, wat as juffrou baie vreemd is vir my kind, gaan hy/sy nie oorweldig voel nie?

Hier is ‘n paar wenke vir mamma en pappa om te help sodat hierdie dag, waar die fotos op facebook gaan pryk, ‘n bietjie makliker kan wees op die hartsnare:

  • Die ouers is die “atmosfeer skeppers” vir die emosies daardie oggend en natuurlik voor die tyd. As mamma huil, nog voor ontbyt; skep dit klaar ‘n onsekerheid by jou Graad 1 wat dan onbewustelik dink: “as mamma nou al huil, hoe erg gaan dit dan wees!”. Ek stel nie gewoonlik voor dat iemand hul emosie moet sluk nie, maar vir hierdie oggend sal jy moet. Probeer die trane hou totdat jy in die kar klim.
  • Wees positief, hou die oggend roetine soos wat dit gewoonlik was in Graad R. Ry betyds sodat daar nie enige angstigheid is nie. Speel hul gunsteling musiek in die kar oppad skool toe.
  • Stuur gerus iets saam in hul skooltas (wat in die tas moet bly) soos ‘n gunsteling beertjie sodat hulle voel daar gaan iets bekend saam met hulle agterbly.
  • Neem gerus jou Graad 1 vir ‘n melkskommel wanneer die skool uitkom, of vier dit op een of ander manier. Vertel vir hulle hoe trots jy is op hulle – of dit nou goed gegaan het of nie.
  • Indien daar baie trane was by jou Graad 1’tjie, troos en moedig hulle aan dat dit al hoe beter sal word. Selfs ons as volwassenes neem tyd om aan te pas in nuwe omstandighede. Indien dit nie beter word nie, gesels gerus met die juffrou of gaan sien iemand professioneel om julle net deur die eerste paar tree te help.

Mammas,

  • Moenie te hard wees op jouself nie. Jy het skoolklere gekoop, die kosblik met moeite gepak en die nodige emosionele versekering gebied – jy het jou kant gebring. Hierdie is ‘n normale mylpaal waardeur elke kind moet gaan.
  • As jy oorweldig voel, bel ‘n vriendin en gaan drink koffie en eet ‘n groot stuk koek! ‘n Vriendin of familielid wat kinders in dieselfde skool het kan heelwat inligting verskaf oor wat om te verwag en wat gewoonlik gedurende die eerste weke van Graad 1 gebeur. Maak gebruik van jou ondersteuning stelsel.
  • Berei jouself voor vir die eerste paar weke wat nogal besig is – jy gaan dalk ook oorweldig voel. Briewe kom huistoe, dit is oueraand en atletiek uitdunne. Die hele jaar het gewoonlik nie so ‘n vol program nie; haal net asem-dit is gewoonlik net die eerste rukkie.
  • Sien om na jouself emosioneel en fisies, hoe beter dit met jou gaan, hoe beter gaan dit gewoonlik met jou kind.

Neem foto’s en probeer elke oomblik van daardie dag onthou sodat dit deel is van jou herinnering vir die res van jou lewe.

Sterkte!