Geluk is ‘n baie abstrakte konsep. Die antwoorde op die vraag “wat maak jou gelukkig” sal verskil aangesien ons almal verskillende waarde en voorwaardes aan geluk heg. Ons wil dit nie altyd erken nie, maar al ons verhoudings is egter behoefte gedrewe. Ons sal nie met iemand in ‘n verhouding tree, hetsy romanties, vriendskaplik of professioneel as ons behoeftes nie daardeur aangespreek word nie. Alle mense het fisiese, kognitiewe, emosionele, sosiale en geestelike behoeftes. Wat ons presies nodig het sal egter van mens tot mens verskil. Ek sal in hierdie artikel die laasgenoemde behoeftes bespreek ten einde saam te vat wat paartjies werklik nodig het om gelukkig te wees.

Ons wil tog almal as mense veilig voel. Vir ‘n persoon om veilig binne ‘n verhouding te voel, is daar liefde, respek, vertroue en effektiewe kommunikasie nodig. Dit is die basis waarop al die ander behoeftes gesteun kan word. Om werklik gelukkig in ‘n verhouding te wees, het ons onvoorwaardelike liefde en aanvaarding nodig. Dit is egter baie makliker gesê as gedaan. Dit raak soms moeilik om jou maat onvoowaardelik lief te hê en te aanvaar, maar indien dit wel plaasvind, is dit wonderlik. Jy het tog jou maat gekies met sy/haar unieke karaktereinskappe. Ons moet leer om mekaar lief te hê, selfs die slegte dele van ons maat. Ons moet vir mekaar liefde wys op die maniere wat vir ons belangrik is. Wanneer jy jou maat se liefdestaal verstaan en praat, word mens se emosionele emmer sommer vining volgemaak. Ons almal het fisiese aanraking, opboudende woorde, kwaliteit tyd, diensbaarheid en geskenke nodig. Ek beskou dit as die water wat ons “verhoudingsplantjie” laat groei.

Vertroue en respek is twee aspekte wat baie lank vat om te bou, en baie vining verbreek kan word. Wanneer jy nie jou maat vertrou nie, is dit moeilik om gelukkig in die verhouding te wees. Kan vertroue herstel word? Ek is van die opinie dat dit definitief weer herstel kan word. Jy moet egter die keuse maak om jou maat weer te vertrou. Mens kan nie in ‘n verhouding bly en jou maat elke dag straf vir foute wat gemaak is nie. Hier speel vergifnis ‘n belangrike rol. Om jou maat te vergewe beteken nie jy keur goed wat gebeur het nie, maar dat jy kies om nie meer daaraan vas te hou nie.

Wanneer respek en die vertroue nie in jou verhouding teenwoordig is nie, is dit baie belangrik om dit weer terug te sit. Dit begin egter alles met ‘n keuse en die wil om voort te gaan.

Die volgende aspek wat noodsaaklik is vir paartjies om gelukkig te wees is gesonde en effektiewe kommunikasie. Ons moet leer om mekaar te verstaan en hoe om te luister. Dit voel soms vir my asof mense vir mekaar luister met die doel om te verdedig, nie met die doel om te verstaan nie. Ons is heeltyd op ons agterpote en om reg te wees word belangriker as om mekaar lief te hê. Gesonde en effektiewe kommunikasie is ‘n belangrike, praktiese vaardigheid wat ons moet leer ten einde effektief behoeftes, emosies, ervarings en denke ten kan deel met ons maat. Effektiewe kommunikasie is nie maklik nie en kom ook nie natuurlik vir meeste van ons nie, maar kan geoefen word en kan ‘n groot verskil maak in jou en jou maat se geluk. Hiervolgens is wenke wat die kommunikasie tussen jou en jou maat kan verbeter (Soos deur die beraders by Vita Nova voorgestel):

  • Vra vir jou maat “kan ons praat?” voordat jy ‘n ernstige gesprek begin. Soms is mense nie gereed om te praat nie, of dalk te kwaad. Wanneer mens ‘n gesprek afdwing kan dit soms meer skade doen as goed.
  • Dit is baie moeilik om effektief te kommunikeer as ‘n mens baie kwaad of hartseer is. Dit is belangrik dat ons mekaar toelaat om emosies te deel, al is dit soms moeilik om te hoor. Dit word egter nie aanbeveel om probleme te probeer uitsorteer wanneer beide kwaad is nie. Vat eerder ‘n rukkie om te kalmeer en vra jouself “hoekom is ek so kwaad?”en “is dit regverdig?”. Sodra jy die antwoorde hiervoor kry, is dit makliker om jou gevoel te kommunikeer.
  • Wanneer jy ‘n boodskap aan iemand oordra is dit beter om die boodskap so kort as moontlik te hou. Wanneer jy lang boodskappe probeer oordra is die kanse baie groter dat jou maat jou kan misverstaan. Hou jou boodskap in die hede en moenie ou kwessies op bring nie.
  • Wanneer ‘n mens ‘n sin begin met “jy” is die kanse baie groter dat jou maat homself/haarself gaan verdedig, soos byvoorbeeld “jy skeep my af”. Wanneer ons gevoelens, ervarings en/of gedagtes deel word dit aanbeveel om eerder n “ek-stelling” te maak, soos byvoorbeeld, in plaas van “Jy skeep my af” kan jy dalk eerder sê “ek het ‘n behoefte aan meer tyd saam met jou”. So kan jy jou boodskap oordra sonder om aanvallend oor te kom.
  • Ons wil graag almal as mense “gehoor” word. Dit is vir ons belangrik dat ons maats ons verstaan en dat ons veilig is om ‘n gedagte, ervaring en/of emosie te deel. Maak dit so maklik as moontlik vir jou maat om met jou te praat.
  • Moenie reageer op jou maat se boodskap voordat jy nie heeltemaal reg verstaan het wat die boodskap is nie. Die goue reël: “As jy bang is jy verstaan nie die boodskap nie, vra eerder vir jou maat voordat jy daarop reageer.”
  • Ons moet leer om mekaar te vra as ons nie weet nie.
  • Moenie aanneem dat jou maat altyd gaan weet wat jy dink of voel nie. Jy moet dus seker wees van jou eie gevoelens, behoeftes en gedagtes. As jy nie weet nie, sal dit onmoontlik wees vir jou maat om te weet.
  • Ondersteun mekaar se gevoelens, al stem jy nie saam nie of al verstaan jy dit nie. Wanneer jy jou maat se gevoelens respekteer en ondersteun, sal jou maat nie onveilig voel om met jou te praat nie.

Gesonde en effektiewe kommunikasie is ‘n proses; ons almal kan dit leer. Soos reeds genoem kan dit dalk onnatuurlik voel, maar jy kan die keuse maak om dit toe te pas, of nie. Wanneer jy gesonde en effektiewe kommunikasie in jou verhouding het, maak dit al die uitdagings makliker. Dit beteken nie dat ‘n mens nie konflik sal hê nie, want dit is natuurlik dat ons nie oor alles sal saamstem nie. Dit beteken dat indien daar ‘n meningsverskil is, ons dit kan uitsorteer sonder om mekaar emosioneel of verbaal aan te rand (Gaan lees gerus die artikels oor effektiewe kommunikasie onder ons artikels afdeling).

Wanneer ons in ‘n verhouding is, beteken dit nie dat ons nie steeds individuele behoeftes en doelstellings het nie. Ons wil steeds sekere persoonlike doelstellings vervul en ons het nodig om onsself steeds lief te hê. Maak tyd vir jouself in jou verhouding.  Doen steeds takies wat vir jou lekker is. Onthou dat jy ook daarvoor verantwoordelik is om jou eie emosionele emmertjie vol te maak. Net soos wat kwaliteit tyd belangrik is vir die geluk tussen jou en jou maat, is kwaliteit tyd vir jouself ook belangrik. Hierdie is veral van toepassing as jy kinders ook het.

ONTHOU: ‘n Gelukkige persoon maak ‘n gelukkig maat en ‘n gelukkige ouer. Pas jouself mooi op.