Dit is die maand van liefde en oral rondom jou word jy bewus gemaak van hoe belangrik dit is dat jy op die 14 DE FEBRUARIE  vir jou geliefdes wys presies hoe lief jy vir hulle is. Party noem dit ‘n geld maak foefie, die romantiese siele sien dit as ‘n geleentheid om hul liefde uit te druk. Of jy nou daarvan hou of nie, Februarie is die maand van liefde. Maar wat van al die ander dae en maande in die jaar? Is dit nie belangrik om eintlik reg deur die jaar vir jou familie te wys hoe lief jy hul het nie?

Ons mammas wil graag glo dat ons kinders weet hoe lief ons hul het en hoeveel ons vir hul doen en op offer, maar het ons al ooit daaraan gedink of ons kinders regtig ervaar dat ons lief is vir hulle? In my werk met kinders vra ek graag die volgende vraag: “Hoe weet jy jou mamma/pappa is lief vir jou?” Ek kry baie interessante antwoorde! Sommiges antwoord: “want hul koop goed vir my” of ander sê “want hulle sê dit vir my”. Dit is als goed en wel, maar jou kind moet WEET dat jy hul onvoorwaardelik lief het. ‘n Kollega van my; Dr Louise Aucamp, het ‘n gesegde wat sê: ‘n kind moet weet, soos wat hy weet, soos wat hy weet – dat sy ouers daar is en hom lief het, ongeag enige iets.

Mia Keller Pringle het in 1996 kinders se 5 basiese emosionele behoeftes omsrkyf waarvan LIEFDE volgens my die belangrikste is. ‘n Kind wat onvoorwaardelike liefde ervaar, reeds vanaf voor geboorte af, het ‘n emosionele voorsprong op alle vlakke, want kyk as jy weet jy is geliefd by die huis kan die lewe maar kom – ek het ‘n vangnet wat vir my die nodige selfvertroue gee om alle uitdagings te hanteer. Hoe dra ons daardie soort liefde oor?

Almal wat al die 5 tale van die liefde gelees het weet dat ons as mense op verskillende wyse liefde gee en dit ook verskillend ervaar.  Wel, dit is dieselfde met jou kinders, as jy hard werk en kop bo water probeer hou om kos op die tafel te sit ervaar jou kind ongelukkig nie noodwendig dat sy geliefd is nie. Gaan lees gerus op oor wat jou kind se liefdestaal is, vir die wat nie weet nie; daar is 5 (opbouende woorde, kwaliteit tyd, fisiese aanraking, geskenke en diensbaarheid).  Ander maniere hoe jy kan verseker dat jou kind geliefd voel is:

  •  Skep ‘n stabiele en liefdevolle omgewing
  • Spandeer tyd in jou kind se leefwêreld byvoorbeeld: as jou kind hou van lego speel, speel lego
  • Moenie jou kind heeltyd kritiseer nie – spreek positiewe dinge uit oor jou kind
  • Bou verhouding met jou kind deur gereeld uit te vra en belang te stel rondom wat in sy lewe gebeur
  • Bederf jou kind af en toe, sit ‘n briefie en lekkerding in sy kosblik of maak haar gunsteling gereg
  • Fisiese vertroeteling (net as jou kind daarvan hou)
  • Geld is nie liefde nie, kinders soek jou aandag en tyd

Ander emosionele behoeftes wat jou kind het, sluit in:

  • Sekuriteit

Kinders se behoefte aan sekuriteit word bevredig deur stabiele gesinsverhoudings. Een van die belangrikste maniere om sekuriteit vir jou kleinding te gee is om ‘n stabiele verhouding tussen mamma en pappa te handhaaf. Kinders wat groot word met aanhoudende konflik tussen ouers voel later onveilig en angstig in beide ouers se teenwoordigheid. Dit geld selfs wanneer ouers geskei is – solank daar ‘n funksionele verhouding tussen mamma en pappa is en hul ordentlik met mekaar kan kommunikeer en mekaar nie sleg sê nie, is die saak reg. Ander dinge soos konsekwente dissipline en roetines dra ook by tot ‘n kind se gevoel van sekuriteit.

  • Verantwoordelikheid

Kinders moet leer dat jy hul genoeg vertrou om ouderdomstoepaslike takies te doen sodat hul ‘n sin van verantwoordelikheid kan ontwikkel. Jy kan nie ‘n verantwoordelike persoon word as jy nog nooit enige verantwoordelikhede gehad het nie.

  • Erkenning

Meeste mense floreer op erkenning. Dies te meer ons kinders. Ons gee graag erkenning aan kinders wat prestasies bereik het, hierdie tipe erkenning gaan egter nie net oor prestasies nie. Dit gaan daaroor om kinders erkenning te gee omdat hul bv vriendelik was of iemand gehelp het of sommer net erkenning as mens. Jy kan bv se “mamma is so bly dat jy MY seuntjie is”.

  • Nuwe ervaringe

Kinders het nodig om blootgestel te word aan nuwe dinge. Dit beteken nie jy moet elke naweek jou kinders na ‘n nuwe plek neem nie – dit gaan daaroor dat jy jou kind se lewe verryk. Jy kan byvoorbeeld piekniek in jou sitkamer hou of in die aand die sterre vir jou kind wys.

Ouerskap bly maar ‘n tameletjie en ons almal probeer net ons bes. Jou kind hoef nie die mooiste en duurste speelgoed en klere te hê nie. Jy hoef nie die spoggerigste motor te ry of jou kind elke naweek uit te vat vir ‘n ete nie. Ons kinders soek net ONVOORWAARDELIKE LIEFDE.

Vir enige vrae stuur gerus ‘n e-pos na heske@vitanova.co.za