Daardie oomblik waar jy jou kleuter by die nuwe juffrou moet afgee is een ding wat elke ouer se hart laat staan. Skool tassie is gepak, ekstra kleertjies en miskien ‘n klein bederfie om die dag makliker te maak – maar hoe berei jy jouself en jou kind emosioneel voor vir daardie afgee-oomblik? Hoe kan jy dit probeer makliker maak vir jou kind om te skei van jou, sonder ‘n groot tranedal?

Kom ons begin deur te noem dat skeidingsang onder babas, peuters en kleuters ‘n baie normale en gesonde voorkoms is. Babas kan van die ouderdom van 6/7 maande tekens van skeidingsangs begin toon as hul primêre versorger hul verlaat. Vir meeste babas is skeidingsangs op sy piek by ongeveer 10-18 maande, en behoort weer te begin afneem rondom 2/3 jarige ouderdom. Skeidingsangs maak sy verskyning as gevolg van die binding (attachment) tussen ‘n kindjie en sy primêre versorger, asook die kindjie se kognitiewe vordering en ontwikkeling. Dus is ‘n mate van skeidingsangs tog ‘n goeie teken, maar ons wil nie hê die wiele moet heeltemal van die appelkar afval nie…

Hoe kan jy jou kind help?

  • Indien jy jou kind na ‘n nuwe omgewing (bv dagsorg, kleuterskool) neem, spandeer ‘n tydjie saam met hom daar voor jy van hom skei. Sodra jou kindjie besef jy is gemaklik in die omgwing, en vertrou die persoon by wie jy hom los, voel hy veiliger en mag dit dalk die skeidingsproses vergemaklik.
  • Stuur ‘n voorwerp van die huis af saam, bv ‘n beertjie, kombersie of selfs ‘n item wat eie is aan jou as ouer. Hierdie items mag jou kind help om veiliger te voel wanneer hy nie by jou is nie. Jy kan dit geleidelik uitfasseer wanneer die angstigheid afneem.
  • Lig jou kind se dagsorg, kleueterskool of verantwoordelike persoon in van die skeidingsangs, sodoende kan ander persone in jou kind se omgewing ook ondersteuning uitleen.
  • Gee vir jou kind genoegsame ‘oefenlopies’ om te skei van jou, waar hy goeie ervaringe kan opdoen met die skeidingsproses. Dit is belangrik om vir hom positiewe ervaringe te voorsien van skeiding en hereninging. Om skeiding te vermy mag dalk die proses net vererger.
  • Al is jou kind nog ‘n baba, verduidelik dat jy moet gaan, maar dat jy gaan terugkom om hom te kom haal. Probeer ‘n vinnige ontsnap, sonder ‘n groet, vermy – dit mag dalk die skeidings-ervaring negatief maak.
  • Vestig ‘n kort ritueel of roetine wanneer jy totsiens vir jou kind sê, en hou daarby.
  • Probeer konstant bly in jou oggend roetine en aflaaityd by die skool. Kinders voel veilig wanneer hulle in ‘n voorspelbare omgewing funksioneer.
  • Die belangrikste van alles: hou jouself kalm en beheerd! ‘n Kind kyk na sy ouer se reaksie om die mate van bedreiging te bepaal. As hy sien jy is duidelik omgekrap, emosioneel en huilerig, gaan hy ook so reageer. Probeer kalm, ontspanne en vriendelik bly wanneer jy en jou kind skei, dit sal hom automaties meer kalm en veilig laat voel.

Indien dit voorkom of jou kind meer as die normale/ouderdomsvanpaste skeidingsangs gedrag toon, dat die angstigheid tot ‘n mate eskaleer dat dit sy daaglikse funksionering beinvloed, sal daar aanbeveel word om profesionele hulp te bekom. Nagmerries, gedragsverandering en psigosomatiese simptome wat ontwikkel as gevolg van skeidingsangs kan moontlik tekens van ‘n skeidingsangs versteuring wees, of ander onderliggende kwessies, wat met profesionele hulp aangespreek kan word.