Published on Wednesday, May 2, 2018

Help - my kind is bang vir die donker!

Help - my kind is bang vir die donker!

Marethat Botes het namens KUIER by Vita Nova kom aanklop rakende kinders en 'n vrees vir die donker. 

Hier is ons antwoorde op Maretha se vrae:

1)  My kind is bang vir die donker! Wat gee aanleiding daartoe dat kinders bang is vir die donker? Is dit ‘n vrees vir die onbekende wat hulle nie kan sien nie, dalk is die oorsaak ‘n diepliggende trauma of word dit gekweek wanneer ouers ander familie hul kinders bang maak?

Heske Sangster (Kinderterapeut) antwoord:

Baie kinders is bang vir die donker; veral kleuters, voorskoolse kinders en soms self skoolgaande kinders.  Dit is vir baie kinders ‘n normale fase wat weer verby sal gaan.  Kinders van hierdie ouderdom het ‘n groot verbeelding en sukkel soms om te onderskei tussen fantasiee en realiteit.  Hul sal dus dink dat die monster wat hul op TV gesien het of waarvan iemand hul vertel het ‘n realiteit is en dalk onder hul bed of in hul kas skuil. Dit is baie belangrik dat ouers nie hierdie vrees wat hul kind ervaar, afmaak as niks nie en probeer eksploreer waar die vrees vandaan kom.  

Ouers moet hulself afvra:

  • Is daar onlangs enige groot veranderinge in die kind se lewe bv. Egskeding, dood van  iemand naby/troeteldier – soms kan angs in kinders manifisteer in die vorm van vrees vir die donker
  • Is daar enige ander kommerwekkende gedrag opgemerk by die kind bv. Het sy akademie versleg, isoleer hy/sy hulself van maats en familie – vrees vir die donker kan soms deel vorm van ‘n ander groter probleem
  • Laat jy jou kind toe om TV programme te kyk wat geweldadig is/horrors?
  • Kry jou kind dalk nagmerries wanneer hy slaap of is daar enige ander rede hoekom jou kind nie wil slaap in die donker nie?
  • Maak iemand jou kind bang met bangmaak stories? Kinders is baie sensitief vir bangmaak stories en omdat hul sukkel om te onderskei tussen realiteit en fantasie is dit ‘n goeie idee om jou kind nie daaraan bloot te stel nie.

2)  Wat kan ek as ouer doen?

  • Erken jou kind se vrees – “ Ek kan sien jy is bang”
  • Moenie dit wegpraat nie – “Jy is nou ‘n groot seun/dogter wat nie mag bang wees vir die donker nie”
  • Vra jou kind wat maak dat hy/sy bang is –“Vertel vir my wat maak jou bang?”
  • Vra jou kind wat dit kan beter maak – “ Wat sal jou laat beter voel of die bang wegvat” en doen iets daaraan bv. Los ‘n liggie aan waarmee jou kind kan slaap, wys vir jou kind daar is niks in sy kas of onder bed nie, kry ‘n troosvoorwerp soos ‘n spesiale teddie of kombersie, sing ‘n liedjie of as jy godsdienstig is kan jy jou kind ‘n gebedjie laat opsê om die Here te vra vir beskerming en om jou kind se hartjie rustig te maak.
  • Indien die vrees jou kind se funksionering beinvloed en bedtoe gaan tyd chaos raak is dit wys om die hulp van ‘n terapeut in te kry om ‘n volledige evaluering te doen en indien nodig terapie.

 Anri van den Berg (verhoudingsberader) antwoord:

Vrees vir die donker is deel van ‘n kind se normale ontwikkeling – meeste kinders gaan wel een of ander tyd deur so ‘n fase. Maar dit behoort mettery tyd iets te wees wat hulle ontgroei.

Trauma word myninsiens gedefinieer as enige iets wat in iemand se lewe gebeur wat ‘n emosionele letsel agter laat. Situasies en omstandighede wat hierin vervat kan word, sluit onder andere groot en/of klein veranderinge in ‘n kind se lewe in, bv ‘n gesin wat trek of konflik by die skool met ‘n maatjie. Selfs ouers wat erg vassit met mekaar kan ‘n traumatise effek op ‘n kind hê. Wanneer ‘n kind met die verwerking van trauma doening is aan sy/haar binnekant, kan dit verseker ook lei tot slaapstoornisse. Dink maar hoe lê ons as volwasennes soms wakker in die aande as ons top oor goed wat pla.

Soms verwoord ‘n kind hierdie emosionele impak op sy/haar slaap roetine as “‘n vrees vir die donker”, bloot omdat hul nie ander woorde daarvoor het nie. Dit is juis daarom baie belangrik dat jy in gesprek met jou kind tree om te probeer verstaan wat rondom die “donker” vrees veroorsaak. Indien dit ‘n ondefinieerbare vrees is, moet ‘n mens wyer begin kyk na die kind se huidige lewenservaring van sy/haar gesin, skool, maatjies ens. Hier kan ‘n kinder assessering deur ‘n goeie kinderterapeut vir jou as ouer van onskatbare waarde wees as jy vasbrand.

Soms as ‘n mens ‘n platform en geleentheid kan skep vir jou kind om saam met jou deur sy/haar kommerstukke te gesels, kan ons as ouers hulle bystaan met die emosionele verwerking van hierdie alledaagse kommerstukke en sodoende die verwerking daarvan help bevorder, wat op sy beurt weer ‘n positiewe impak op die slaaproetine tot gevolg kan hê.

Een van die moontlike redes vir ‘n vrees vir die donker is die oorgang van wakker na slaap, van lig na donker, van dag na nag. Hier is ‘n goeie, voorspelbare aand roetine/slaaptyd roetine verskriklik belangrik. ‘n Vaste, gemaklike, liefdevolle slaaproetine, laat ‘n kind veilig voel en help hulle met hierdie oorgang vanaf wakker tyd (saam met mamma en pappa, besig en aan die gang) na slaaptyd (rustiger, sagter, en alleen). Dit veroorsaak soms groot probleme en emosionele uitbastings indien ouers nie genoeg tyd en moeite spandeer aan ‘n stelselmatige oorgang nie.

Nog ‘n moontlike oorsaak vir ‘n vrees vir die donker is: “donker aanpassing”. Donker aanpassing / “dark adaptation” verwys na die oë se aanpassing by lae lig-intensiteit. Wanneer ‘n mens van ‘n helder-beligte area, skielik in ‘n donker area in beweeg, is daar ‘n periode wat ‘n mens pik-donker sien en ervaar; selfs al is jou oë oop. Dit neem ‘n tydjie vir jou oë om aan te pas by die lae-lig intensiteit. Na die aanpassingsperiode, kan ‘n mens weer bietjie beter sien. Dit gebeur soms dat dit juis in daardie stik-donker oomblik is wat die vrees in kinders se hartjies inkruip.

Ek het op ‘n baie oulike wenk afgekom wat juis kan help met hierdie aanpassing.

Kry jou kind gemaklik in die bed, met die kamer lig aan, en vra vir hom/haar om sy/haar ogies toe te maak en toe te hou. Skakel die lae intensiteit nagliggie aan en skakel die kamerlig en die gang lig af. Jou kind moet steeds sy/haar ogies toe hou. Plaas jou hand oor die ogies om dit nog donkerder te maak en tel stadig tot by tien, voordat hy/sy mag oopmaak.

Wat jy regkry hierdeur is om nie van die helder lig na stik donker toe oor te skakel nie. Maw, die oë hoef nie by die lae intensiteit aan te pas nie. Inteendeel, die ogies gaan van stik-donker (toe met jou hande daaroor) na lae intensiteit beligting toe. Jy skakel dus die absolute blinde gevoel en ervaring wat plaasvind as die lig afgeskakel word, totaal uit.

Slaap en lig:

Ek het self as ouer al in die strik getrap om my dogtertjie se vrees vir die donker te probeer adresseer deur om ‘n lig erens aan te skakel. Die probleem hier is, dat baie kliniese studies al bevind het dat om ‘n kamerlig of ‘n gang lig aan te los erens, daartoe lei dat kinders op die ou end langer neem om aan die slaap te raak en slegter slaap. Die lig wat aan is gee vir die brein die boodskap dat dit nog nie donker is nie en dus nog te vroeg is om te gaan slaap. Die lig affekteer as’t ware die brein se konsep van “tyd”. Melatonien is ‘n hormoon wat deur jou pineale klier afgeskei word soos dit begin donker word om jou. Melatonien veroorsaak dat jy stadig maar seker begin ontspan en afskakel en veroorsaak dat jy makliker en vinniger aan die slaap raak. Indien jou kamer dus nie donker genoeg is nie, word jou pineale klier nie “ingelig” om melatonien te begin afskei nie.

‘n Baie lae intensiteit liggie, wat nie direk in die kind se gesig skyn nie, is wel ‘n baie goeie opsie.

Slaap is uiters belangrik vir gesonde ontwikkeling. maak seker dat jy 'n goeie nagrus, vir jou en jou kinders, 'n prioriteit maak.

Rate this article:
4.0
Comments (-)Number of views (1435)

Author: Anri Account

Categories: Children, Parenting

Tags:

Print
Anri Account
>

Anri Account

Other posts by Anri Account
blog comments powered by Disqus

Search

Workshops

Upcoming events Events RSSiCalendar export

New article email