Published on Monday, February 19, 2018

Verhoudings verg harde werk

Verhoudings verg harde werk

So 'n rukkie terug het LIG vir Vita Nova kom raadpleeg oor wat dit verg om 'n huwelik gesond te hou. Hier volg ons antwoorde: 

1. Hoekom se ons juis dat paartjies aan hulle huwelik moet werk? Hoekom werk?

“Dit is nie veronderstel om sulke harde werk te wees nie!” Is ‘n sinnetjie wat ek gereeld in huweliksberadingsessies hoor en ek glo dis hier, veral, waar meeste paartjies die pot heeltemal mis sit. Gesonde, stabiele, standvastige, goeie verhoudinge kos werk! Dit is nie iets wat sommer maar net vanself gebeur nie.  Ek dink meeste mense stap totaal onvoorbereid in huwelike in. Daar is ‘n verwagting dat dit gaan maklik wees. “Trou is nie perde koop nie, maar ons is anders…hierdie stelling geld nie so seer vir ons nie”. Soos wat die tyd aanstap, vind individue binne die verhouding dat hul verwagtinge en hul realitiet nie lekker ooreenstem nie. Hulle het ‘n sekere prentjie in hul kop gehad van hoe dit gaan wees om getroud te wees; nommer een, hoe dit gaan wees om met jou getroud te wees; nommer twee en wat die rol van ‘n man of ‘n vrou binne die verhouding is, nommer drie. En die werlklikheid waarin hul hulself in hierdie fase bevind, is nie altyd so maklik of so prentjie mooi nie.

 Nie net dit nie, maar ons word bombardeer met Facebook-verhoudings. Foto’s van heerlike vakansies, lekker oomblikke saam, oë wat blink en brëe, gelukkige glimlagte, vul sosiale media op ‘n uurlikse basis. Hierdie bombardering skep by meeste mense ‘n totale vals persepsie van hoe huwelike werk en hoe “gelukkig” almal om hulle is. Daar is ‘n algemene tendens tussen meeste mense om hulself, hul verhoudinge en hul lewens te vergelyk met die brokkies inligiting en gedokterde foto’s op sosiale media. Die afleiding of gevolgtrekking wat dan hier gemaak word is dat daar fout is met hulle as paartjie. Die feit dat, dit ‘n split sekonde verg om ‘n foto te neem en dat meeste mense baie maklik, baie fake kan glimlag vir daardie split sekonde, word hoegenaamd nie in ag geneem nie; dis makliker om die valse prentjie wat geskep word as die waarheid te aanvaar.

Dink ook, net vir ‘n oomblik, aan al die geliefkose kinderstories, die ou-bekendes waarmee elke kind groot word: in elkeen van die fantasie verhale, wentel die hele storie oor die stryd wat gevoer word om die prinses te red en wanneer die bose oorwin is en die prinses veilig is, eindig die verhaal met ‘n “and they lived happlily ever after”. Selfs die volwasse flieks wat ons graag na kyk volg dieselfde storie lyn. Dit is een ontsettende stryd vir die twee hoofkarakters om bymekaar uit te kom en sodra al die struikelblokke uit die weg geruim is, eindig die fliek. Indien iemand wel ‘n fliek maak oor ‘n storie wat nie daar eindig nie, word dit meestal as ‘n Drama of ‘n Riller geklasifiseer, in teenstryd met die ligte, genaklike romantiese komedies.

Dit is belangrik om te besef dat ons as mense behoefte gedrewe is; ons het emosionele, spirituele, finansiele, fisiese, kognitiewe behoeftes en as ek in ‘n verhouding is waar die meerderheid van my behoeftes bevredig word, is ek gelukkig binne die verhouding. Indien ek in ‘n verhouding is waar my behoeftes grotendeels nie bevredig word nie, ervaar ek ontevredenheid en ongelukkigheid. Al mag dit dalk soos ‘n eenvoudige wenresep klink vir goeie verhoudinge, is dit alles behalwe maklik.

 ‘n Verhouding bestaan uit twee diverse indivdue. Elkeen het ‘n unieke stel verwagtinge, unieke lewensuitkyke, unieke behoeftes en agtergronde. My idee van “hoe ‘n vrou behoort te wees en hoe ‘n man behoort te wees” word beinvloed deur my agtergrond, my voorbeelde, my keuses en my ervaringsleer. Al trou twee mense van baie enerse agtergronde met mekaar, is die klein verskille wat daar wel bestaan, steeds meer as voldoende om groot probleme te kan veroorsaak. En nou plaas ons hierdie twee, unieke mense onder een dak en ons sê “wees nou gelukkig” – dit is nie net so eenvoudig nie.

Baie mense in my spreekkamer kom ook op ‘n punt waar hulle sê: “ek dink nie ek is meer lief vir hierdie persoon nie”. Wanneer ek dan uitvra hieroor, kom ek vining agter dat liefde gedefinieer word as ‘n gevoel teenoor iemand anders. Iets wat ek nie kan beheer nie, iets wat of daar is...of dan nie daar is nie. Dit is so belangriko m te verstaan dat daar ‘n groot verskil tussen verliefdheid en liefde is. Verliefdheid sou ‘n mens wel kon beskryf as hierdie gevoel wat jou as’t ware eintlik beheer en jou beinvloed. Dit is in hierdie verlief-fase waarbinne behoefte bevrediging as’t ware sommer vanself gebeur; dis “effortless” om mekaar te laat belangrik voel, om klein dingetjies vir mekaar te doen, om tyd saam te spandeer en op-offeringe te maak. Dis wanneer hierdie verliefdheid vervaag, waar die toets vir hierdie verhouding inkom.

Die mooiste en beste definisie vir Liefde wat ek kon opsoor is te vinde in 1 Korintiërs 13:

“4Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. 5Dit handel nie onwelvoeglik nie,

soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.

6Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid.

7Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

8Die liefde vergaan nooit nie,”

 Ek dink nie daar is een persoon op hierdie aarde wat vir my kan sê om hierdie liefde in jou huwelik toe te pas is eenvoudig en maklik nie. Hierdie definisie van liefde verg ‘n doelbewuste handeling. Dit is ‘n keuse, dit is ‘n werkwoord, dit is nie ‘n gevoel nie. Ons is getroud met mense, per definisie maak dit my lewensmaat alles behalwe perfek…net soos wat ek alles behalwe perfek is. Maar as ons ‘n ingesteldheid het waar ons hierdie werkwoord-definisie van liefde in ons verhouding inbou, is ons alklaar besig om ‘n “doelbewuste ons” te skep. Ek sê graag vir paartjies; daar is ‘n rede waarom ek ‘n bestaan maak uit huweliksberading…want gesonde huwelike is nie maklik nie.

Die verskil, vir my; tussen ‘n paartjie wat dit maak en ‘n paartjie wat dit nie maak nie, lê nie in of ‘n mens gaan kwaad maak, of seermaak nie. Dit lê nie in of ‘n mens mekaar gaan teleurstel, of irriteer of dalk dink ons het ‘n fout gemaak om te trou nie…dit lê in: wanneer hierdie dinge gebeur, wanneer ons nie baie van mekaar hou nie, wat gaan ons kies om daaromtrent te doen. Ons as lewensmaats moet besef dat ons nie bloot uitgelewer is aan ons verhoudinge nie, maar dat ons aktief kan bou aan ‘n verhouding. En wanneer ons die invloed hiervan besef en verantwoordelikheid hiervoor neem, dis dan wanneer ons kan bou aan ‘n verhouding waarbinne beide van ons kan veilig voel

2. Dink jy die verskillende fases van ons lewens stel spesifieke en eiesoortige uitdagings aan ons huwelik? Hoekom? Brei asb uit.

O verseker. As ons weer terug kyk na die stelling “mense is behoefte gedrewe”, dan maak dit sin. Niks in die lewe is 100% staties nie; in elke fase van ‘n mens se lewe, vervaag sekere behoeftes en ander raak meer prominent. Ek kry baie te doen met mense wat kla dat hulle nie meer hul lewensmaat ken nie; dat die persoon verander het. Ons moet besef dat verandering ‘n gegewe is. Ek self, is op die ouderdom van 23 getroud. Indien jy die 23 jarige Anri, langs die 36 jarige Anri sou plaas en die twee sou vergelyk, is dit mos onmoontlik om een honderd present dieselfde twee mense te verwag. Soos wat die lewe aanbeweeg en sy eise stel, soos ons ervaringe vergroot, leer en groei ons ook; op baie gebiede.

Daarom is dit so belangrik om; te midde van die verskillende lewensfases, seker te maak dat ons “connected” bly met mekaar. Dat ons ‘n doelbewuste punt daarvan maak om saam te groei en mekaar op alle vlakke te bly “ken”. Indien ‘n paartjie nie saam groei nie, gaan hulle uitmekaar uit groei. Soos ek genoem het, groei en verander ‘n mens se behoeftes saam met die lewensfase waarin jy jou bevind. ‘n Paartjie wat op ‘n jong ouderdom getroud is, beide se eerste huwelikke, sonder kinders, het ‘n totale ander lewensuitkyk en ander eise wat aan hulle gestel word en daarom dan ook ander behoeftes en verwagtinge van mekaar as daardie selfde paartjie ‘n paar jaar later met ‘n babatjie in die prentjie, of nog later met meer as een kind en onderandere groter finansiele druk. Hierdie paartjie se behoeftes en verwagtinge van mekaar, gaan bly groei, verander en ontwikkel soos wat hulle die verskillende lewensfases betree.

3. Wat kan paartjies wat in die volgende fases van hulle lewens is, verwag van die eise wat aan hulle huwelik gestel gaan word?

 A) Ouers met klein kinders,

Jong, ouerskap is nie vir sissies nie! Dit is seker een van die moeilikste take en een van die grootste verandwoordelikhede asook een van die grootste lewensveranderende momente ooit, en dieselfde geld vir die impak op ‘n huwelik. Waar dit altyd net die twee van julle was, is daar nou ‘n hulpelose, derde, lyfie wat aandag en liefde en versorging verlang. Kinders is so ‘n wonderlike, God-gegewe blessing; maar dis nie maklik om alles bymekaar te hou nie. In my eerste sessie saam met ‘n paartjie, vra ek gewoonlik ‘n reeks vrae om ‘n bietjie meer insig in hul spesifieke situasie te bekom. Geen paartjie trou met die idee om eendag voor ‘n huweliksberader te kom sit nie; so een van my vrae is “waar, dink julle, het dinge begin verander?” Tussen seker ongeveer 90% en 95% van alle paartjies met kinders, sal vir my sê “toe ons oudste gebore is”.

Aandag en tyd vir mekaar

Die hele dinamika van die paartjie se bestaan verander. Verwagtinge verander. ‘n Mamma verwag dat die Pa sal verstaan dat hierdie lyfie al haar aandag en versorging, al haar tyd en liefde nodig het. ‘n Paar vroue het al, in soveel woorde genoem: “hy is ‘n volwasse man, wat na homself kan kyk, hierdie lyfie het my nodig en kan niks sonder my doen nie”. Die man, aan die ander kant, het nooit verwag dat dinge so drasties gaan verander nie. Eweskielik is sy plek in haar lewe, so voel dit vir baie, in totaliteit vervang. Baie nuwe pa’s voel totaal uitgesluit en weggestoot. Wanneer die klein babatjie-fase verskuif na die klein kindertjie fase, is tyd en aandag vir mekaar ook ongelukkig een van die eerste goed wat opsy geskuif word om die kinders se goed te kan inpas. Die paartjie se fokus is, in baie gevalle, totaal op hul ouerskapsrol gerig en alles wentel om seker te maak dat daardie rolle bevredigend vertolk word.

 Tekort aan slaap

In die baba fase is ‘n moontlike tekort aan slaap ‘n groot faktor wat huwelike negatief beinvloed. Daar is ‘n rede waarom “sleep deprevasion” as ‘n “torture method” gebruik word. Moontlike gevolge hiervan sluit in, ooremosioneel, vergeetagtig, verhoogde konflik en irritasievlakke en die lys gaan aan en aan.

 Verskillende verwysingsraamwerke en ouerskapstyle

Soos reeds genoem, is elke individu se agtergrond en se ervaringsleer uniek en ons ouerskapstyle word verseker hierdeur ook beinvloed. Indien daar groot verskille in ouerskapstyle is, is die kans vir huwelikskonflik baie groot. Dit gaan ook dan beinvloed hoe ons dissipliene en die toepassing daarvan sien. Baie egpare kom dan juis ook vir hierdie rede vir berading om ‘n eenheid te vorm rondom ouerskap. Berading help hulle om die verskillende ouerskapstyle te verstaan, hulle kinderdae se invloed raak te sien en te verstaan waarom hulle op sekere ouerskapstyle besluit. Dit help werklik om die konflik uit te sorteer.

 Finansiele druk

Soos wat die kinders se behoeftes vernader, verander die finansiele behoeftes van die gesin ook. Van doeke en bottels na skoolfonds en buitemuurs, na universiteitsfooie en motors en koshuisgelde.

 Fisiese en emosionele “disconnect”

Enige kombinasie van al die bogenoemde eise wat aan ‘n huwelik gestel word, kan daartoe lei dat paartjies emosioneel en fisies van mekaar “disconnect”. Dit gebeur nie noodwendig in ‘n eenmalige gebeurtenis nie…in meeste gevalle is dit ‘n stadige proses wat oor jarre verloop. Teen die tyd dat hulle besef iets moet daaromtrent gedoen word, is die emosionele afstand tussen mekaar al redelik groot.

 B) Ouers met tieners

My ma het altyd grappenderwys gesê; hoe kleiner jou kinders, hoe kleiner die probleme…hoe groter jou kinders, hoe groter die probleme. Een van die spelterapeute saam met wie ek ‘n rukkie terug gewerk het, het altyd gesê: Rules without relationship results in rebellion. Dit is uiters belangrik om ‘n goeie verhouding met jou kinders, van kleins af, te bou sodat wanneer hulle by die tiener fase kom, julle as ouers die beste moontlike kans tot goeie verhoudinge met jul kinders behou, het.

Soos kinders ouer word, verander hul behoeftes ook. Een van hierdie behoeftes wat verander is die aan vriende. Die invloed van die vriende op die kinders vergroot ook. Dit kan groot invloed hê op die gesinsdinamiek en ook die huweliksverhouding.

 C) Paartjies wie se kinders uit die huis is.

In baie gevalle gebeur dit maar dat, soos die lewe aanstap, man en vrou maar stadigaan uit mekaar begin beweeg. Wanneer daar kinders betrokke is, kan dit nog makliker gebeur dat man en vrou, al is dit hoe subtiel, eintlik maar aparte lewens begin leef. Een se fokus is dalk grotendeels op die kinders en die ander een se fokus op werk. Die tyd wat ons tot ons beskikking het word dan ook deur al ons verantwoordelikhede en verpligtinge verdeel en as huweliksmaats, trek ons maar soms aan die kortste end. 

Hierdie nuwe leë nes fase bied eintlik vir die paartjie ‘n geleentheid om mekaar opnuut weer te vind en te geniet. So baie van die faktore wat die paartjie verhoed het om bymekaar uit te kom, is eintlik nou grotendeels uit die weg geruim. ‘n Mens se tyd is jou eie, jou verantwoordelikhede is soveel minder, die finansiele verpligtinge is nou anders as wat dit was met kinders in die huis. ‘n Totale fokus verskuiwing raak nou moontlik.

En ...die negatiewe impak daarvan?

Simptome van leënes sindroom sluit in: depressiewe gedagtes, gevoelens van hopeloosheid, minderwaardigheid, onsekerheid, verlies, ‘n onvermoë of onbereidwilligheid om aan aktiiteite deel te neem of om aktiwiteite te geniet. Terugtrekking en afsondering is nog eienskappe wat hier van toepassing kan wees. As mens deur hierdie lysie lees, kan mens verstaan hoe die impak hiervan op ‘n huwelik moontlik baie negatief kan wees. Veral in gevalle waar een ouer dalk uitgesien het en emosioneel voorbereid was op hierdie nuwe lewensfase, terwyl die ander dit vreeslik negatief ervaar, kan dit groot huweliksprobleme veroorsaak. Al is jou kinders dalk uit jou huis uit, bly hulle steeds jou kinders. En ongelukkig is daar dan ook huwelike wat baie negatief deur hul volwasse kinders beinvloed word. Jou kinders se huweliksmaats, hul ouerskapstyle, hul finansies…dit beinvloed jou tog.

 4.Wanneer moet paartjies gaan hulp soek? Watter tekens is daar dat julle harder moet werk?

Ongelukkig is dit nou maar so dat daar steeds baie mense is wat beraders en of sielkundiges as die absolute laaste uitweg sien en dis so onnodig. Dit gebeur soms dat paartjies al reeds so ver van mekaar verwyder is teen die tyd dat hulle by my aankom, dat die pad terug na mekaar toe een ontsaglike opdraende stryd is en ongelukkig is daar dan wel ook paartjies, of dan individue binne die verhouding, wat net hoegenaamd nie daarvoor kans sien nie.

Ek haal my hoed af vir jong getroudes wat binne die eerste twee jaar van getroude lewe ‘n afspraak by my maak – dis fantasties dat hulle, juis in daardie fase waar die verliefdheid bietjie begin verminder en die realtieit ‘n bietjie harder begin inskop, die guts het om te kom hulp vra. Ek sou dit vir alle jong getroudes aanbeveel! Die redes waarom hulle mekaar gekies het, die mooi wat hulle in mekaar raakgesien het, is steeds nog vars genoeg om die waarde van die huwelik hoog te ag en die beradingsproses met ywer aan te pak. Berading is nie slegs vir wanneer julle op moed verloor se vlakte staan nie. Vita Nova en baie ander beraders, bied dwarsdeur die jaar verreikingswerkswinkels aan; vir huwelike sowel as ouerskap, met tema’s soos “Gesonde en effektiewe kommunikasie, “Fighting fair”, Positiewe Dissipliene, en nog vele meer. Wanneer julle voel dat daar ‘n onerliggende krapperigheid is wat net nie wil verdwyn nie, of wanneer julle nie lekker saamstem oor iets in jul huwelik of jul ouerskapstyle nie, wanneer julle bietjie “stuck” voel en net so ‘n bietjie rugting nodig het, kom maak ‘n draai by ‘n huweliksberader in jou omgewing. ‘n Vars oog, iemand wat op ‘n daaglikse basis juis met die soort van goed te doen kry, kan dalk net vir julle ‘n nuwe rigting aandui of help om ‘n situasie vanuit ‘n nuwe perspektief te benader.

 

 

 

Rate this article:
4.0
Comments (-)Number of views (1230)

Author: Anri Account

Categories: Relationships, Afrikaans

Tags:

Print
Anri Account
>

Anri Account

Other posts by Anri Account
blog comments powered by Disqus

Search

Workshops

New article email