LIG tydksrif het bietjie aan Vita Nova se deur kom klop rakende die kwessie van ROMANSE; hier is hul vrae en ons antwoorde: Sommige mans help wasgoed was of sal die skottelgoed was of help om die kinders aan te trek, al is dit nie sy taak nie. Dít is hulle manier om “romanties” te wees. Wat is nog maniere waarop mans liefde wys behalwe deur ‘n bos blomme of ‘n boksie sjokolade?

 

1. Wat is romanse?

Romanse word algemeen definieer as kerslig, roosblare, sjokolade en sjampanje…maar hierdie algemeen-aanvaarde Hollywood definisie is mynsinsiens baie eng en kan veroorsaak dat ons die romanse-in-die-alledaagse; soms totaal miskyk. Romanse kan omskryf word as die besonderse liefdevolle, omgee- aksies en -emosies tussen twee mense. Hierdie omgee aksies word onderskei van ander alledaagse handelinge, deur die diepere emosionele konneksie wat dit tussen twee mense tot gevolg het. Geen twee mense is presies dieselfde nie en daarom is dit ook so dat wat jy as romanties beskou, dalk mag verskil van wat jou vriendin as romanties ag. Dieselfde geld ook vir die verskille in behoeftes en verwagtinge van verskillende verhoudings/paartjies. Ek glo vas dat elke paartjie oor tyd hul eie romanse-definisie vir hul verhouding kan saamstel.

2. Is dit waar dat alle mans bloot net nie blomme en sjokolade tipe mans is nie, of is hulle maar net te lui (selfsugtig?) om hulle liefde te wys?

Daar kan tonne redes wees waarom dit vir ‘n vrou voel of haar man nie romanties is nie. Ons moet heel eerstens besef en onthou, dat mans en vrouens totaal verskillend aan mekaar gesit is. Wanneer ons deurlopend van ons lewensmaats verwag om te dink soos ons dink, sit ons alklaar, sommer van die staanspoor af; die pot mis. Die kuns is om te besef dat jou lewensmaat nie in jou kop en jou hart is nie; dat hy nie kan ruik wat jy graag sal wil hê nie.

‘n “Hy is veronderstel om te weet” tipe benadering is nie die antwoord tot ‘n gelukkige verhouding nie! As jy nie jou behoeftes kommunikeer nie, is jy die een wat fouteer. As jy dalk nie blomme of sjokolade kry nie, beteken dit hoegenaamd nie dat jou man te lui is of dat hy te seflsugtig is om sy liefde te wys nie. Om daardie afleiding te maak sal ‘n groot fout wees. Kanse is bitterlik groot dat hy sy liefde elke dag, op ‘n totaal ander manier aan jou probeer bewys. Een van die hoekstene van ‘n gelukkige verhouding is gesonde en effektiewe kommunikasie. Dit sal vir julle van groot waarde wees om oor julle verskillende definisies van romanse te gesels en mekaar se liefdestale te leer ken en verstaan. Wanneer ons mekaar se harte verstaan, begin ons eerstens waarde heg aan mekaar se intensies en tweedens begin ons besef watter tipe aksies en handelinge vir die ander persoon liefde en omgee spreek.

3. Hoekom is dit so moeilik vir mans met ‘n meer “logiese” persoonlikheid om emosies of erger … affeksie te wys?

Jong, oor hierdie punt kan ek boeke vol skryf! Daar is n hele paar oorsake vir die feit dat sommige mans bietjie emosioneel afgestomp is; een daarvan is sosialisering en opvoeding. Dink ‘n bietjie aan hoe verskillend ons as dogtertjies en seuntjies, grootgemaak is. (Sommige ouers doen dit steeds!) As ‘n dogtertjie val en seerkry, is dit pleisters en salfies en soentjies en trooswoordjies…sy kan haar hart uit huil; dis alles reg en aanvaarbaar. As ‘n seuntjie sou val en net so seer sou kry, is dit ‘n ander storie. Daar word vinnig vir hom gesê dis nie so erg nie, seuns huil nie, wees sterk, “toughen up”, skud jou reg, sluk daai trane, jy’s ‘n man…

’n Paar dinge gebeur hier. Seuns leer dat om emosies te wys, nie aanvaarbaar is nie. Hulle leer ook tot ‘n mate om nie hul eie emosies te vertrou nie – “ek het seer, maar my pa sê dis nie so erg nie, so ek is seker verkeerd…” Op die ou end sit ons met ‘n hele generasie, of drie, mans wat eerstens nie oor die emosionele woordeskat beskik om hulself uit te druk nie, maar ook nooit geleer het hoe om daardie deel van hule ervaringe te “access” nie.

Sommige mans het ook deur hul groot word proses geleer om hulsef te alle tye te verdedig en hulle nie in kwesbare omstandighede te bevind nie; en wat is nou meer kwesbaar as ‘n emosioneel-intieme verhouding? Omdat hulle nooit geleer het hoe om sulke situasies te hanteer nie, vermy hulle dit om te emosioneel-intiem betrokke te raak of oop te maak.

4. Is hulle regtig net so lief vir hulle vroue soos hulle meer romantiese genote?

Ek kan nou nie vir alle mans praat nie, maar oor die algeeen – verseker! Moenie die fout maak om liefde en romanse met mekaar te verwar nie. Iemand wat ‘n onvermoe of ‘n vrees vir n diepere konneksie het, of iemand wat net bloot uit onkunde dit nie regkry om ‘n romantiese verhouding te help skep nie, is nie noodwendig iemand wat nie lief is vir sy/haar lewensmaat nie.

5. Wat is ander maniere hoe hierdie tipe mans hulle liefde betoon?

Vir baie van die mans in my sessies, is hul finansiele versorging van hul huisgesinne hul primere manier om hul liefde te bewys. Die feit dat die skoolgelde betaal is, die huis se uitgawes gedek word, die kar betaal word…Dit het ongelukkig, baie keer tot gevolg dat hulle lang ure werk en soms baie van die huis af weg is. Vir die meeste vrouens is die tekort aan tyd saam as paartjie en as gesin, ‘n groot verlies en dit word baie negatief ervaar; in teenstelling met die man se intensies.

6. Het jy al soortgelyke probleme teegekom in jou huweliksberading? Is dit ‘n algemene probleem dat paartjies bloot mekaar nie heeltemal verstaan nie?

O, absoluut. Vir die mens gaan dit alles om behoefte bevrediging.  Ons het emosionele, kognitiewe, sosiale, fisiese, spirituele en finansiele behoeftes en tot ‘n groot mate is die geluk van my verhouding direk gekoppel aan die mate waartoe my behoeftes binne my verhouding bevredig word. Een van die grootste bydraende faktore tot huwelikskonflik, is ‘n tekort aan gesonde en effektiewe kommunikasie; waarsonder begrip vir mekaar onmoontlik is.

As ons as huweliksmaats nie mekaar se behoeftes en verwagtinge werklik verstaan nie, sal ons nie instaat wees om daarin vir mekaar te voldoen nie. Die afleidings wat dan, ongelukkig soms gemaak word, is dat die persoon nie belangstel om aan die verhouding te werk nie. Noodloos om te sê, lei dit dan op sy beurt tot ‘n paartjie wat stelselmatig al verder en verder van mekaar af weg beweeg, as gevolg van seer en teleurstelling.

7. Het jy enige raad vir vroue wat getroud is met nie-so-romantiese mans?

As ons as vrouens besef ons mans dink nie soos ons nie. As ons onself uitdaag om bietjie dieper te kyk, as die oppervlakkige Hollywod-definisie van romanse, mag ons dalk net verbaas staan oor die mans met wie ons getroud is. Die waarde lê nie noodwendig in die bosblomme of die kersligete nie…dalk lê dit in die koppie koffie wat hy vir jou maak in die oggend. Of die feit dat hy jou kar vir jou vol petrol maak, of die manier waarop hy laat aande werk om seker te maak dat julle finansieel okay is.

Dalk is dit wel nodig om so ‘n bietjie te gesels oor sommige van die goedjies wat vir jou tekort skiet.

Een definitiewe hulpmiddel is die boek; “Die vyf tale van die liefde” deur Gary Chapman. Dit is dalk iets wat jy op jou eie kan deurlees, of iets wat jy en jou man saam kan deurwerk. Gary Chapman verduidelik dat daar vyf verskillende maniere is waarop meeste mense liefde gee en graag sal wil ontvang; naamlik:

  • Opbouende woorde
  • Kwaliteit-tyd
  • Geskenke
  • Diensbaarheid
  • Fisieke aanraking

Om jou eie en jou maat se liefdestale te leer ken en te verstaan is alklaar ‘n baie goeie begin punt.

Maak hierdie valentynsdag ‘n punt daarvan om jul behoeftes en verwagtinge op ‘n oop, eerlike en liefdevolle manier te deel en moenie dink dat om liefde aan mekaar te betoon, slegs vir dae soos valentynsdag gebere moet word nie!

Elke dag is ‘n unieke geleentheid om vir jou lewensmaat te wys hoe spesiaal hy/sy vir jou is.