Ons almal ken dit; die rondgeskarrel in die oggend om almal aangetrek, gevoer en met geborselde tande by die deur uit te kry. Intussen vind jy so terloops uit dat boeta ‘n familie foto moet saamvat skooltoe en sussie wil nou vanoggend haar los tand trek om vir al die maatjies en die nuwe juffrou die haasbekkie te gaan wys… Teen die tyd dat jy almal; uiteindelik; in die kar het en vasgegordel het…vir die tweede keer – want een van hulle het ‘n kosblik of ‘n boek in die huis vergeet – het jy letterlik 10 minute om die oudste by die skool te kry. Jy jaag by die hek uit en besef – jy het nooit eens jou man behoorlik gegroet nie, so jy waai maar ‘n soentjie so in die verbyry.

Ek hoef niemand te oortuig daarvan dat ons ‘n gejaagde en ‘n uiters oorlaaide lewe lei nie. Die middae is nie veel beter nie. As jy geseënd genoeg is om in die middae by jou kinders te wees, is dit taxi speel na al die buitemuurse aktiwiteite toe, dis huiswerk nagaan en kosblikke pak, dis aandete voorberei, kinders gebad kry, en tussendeur nog al die huistakies en aankope en werksgoete wat gedoen moet word. Ek moet bieg; ek is een van daardie mense wat maklik oorweldig kan voel as daar so baie hooi op my vurk is. Wanneer ek so voel, vat ek hier en los daar, maak helfde van ‘n takie hier klaar, onthou dan van ‘n ander een waarmee ek gou begin, los daar om een van die kinders se goed uit te sorteer. Ek neem gou ‘n oproep terwyl ek terselfdertyd ‘n e-pos beantwoord en my oë kwaai maak vir die kinders wat baklei…al wat hierdie gaos my in die sak bring, is ‘n klomp onafgehandelde take, ‘n rondgehollery van die een punt na die ander en ‘n baie ernstige hoofpyn. Ek voel moedeloos, geirriteerd, gejaagd en gedaan.

Hoekom is ons so besig?

– Ons samelewingsvereistes

Dit voel vir my of daar ‘n tendens onder mense is om te “brag” oor hoe besig hulle is, hoe minder  tyd hulle het en hoe meer hooi daar op hul vurk is; hoe belangrik voel hulle. Dis asof daar ‘n algemene gevoel onder mense heers dat, as jy ‘n nie besig is om jou half dood te jaag van die een afspraak of verantwoordelikheid na die volgende toe nie, is jy nie…ek weet nie…dalk nie waardig nie…? Hoe belaglik is dit nie!?

– Tegnologie

Nog ‘n rede waarom ek dink ons so besig is, is die feit dat ons werk ons; weens tegnologie oral heen saamvolg. Ek kry al my eposse op my foon. Kliente bel, sms, whatsapp of epos my enige tyd van die dag. En omdat dit my werk en my inkomste is, het ek – tot baie onlangs toe nog – gevoel dis my verantwoordelikheid om onmiddelik te antwoord of te reageer op ‘n boodskap; selfs al beteken dit ek onderbreek my seuntjie wat besig is om my van sy dag te vertel, selfs al beteken dit ek stap uit my dogtertjie se ballet klas uit en sien nie hoe sy dans nie. Tegnologie regeer ons doen en late in baie gevalle.

– Ja en Amen

Baie van ons as vrouens veral, maar sommige mans ook; sukkel vreeslik om “nee” te sê.  Jou standaard antwoord as iemand vra of jy asb sal uithelp of iets sal reel of organiseer is ‘n “geen probleem nie” of ‘n “natuurlik”; vriendelike glimlag op die gesig en al. Maar diep hier binne in jou is jy omtrent besig om ‘n paniek-aanval te kry, want hoe op aarde gaan jy dit alles inpas?! Ons het om die een of ander onverklaarbare rede, ‘n super-vrou verwagting van onsself. Ja ons kan ontsaglik goed multitask, maar selfs die meesproduktiefste seekat het net 8 pote!

Baie keer is dit ook ‘n onvermoë van ons om vir ons kinders nee te sê. Ons voel sleg as ons die teleurgestelde gesiggies sien. En ons voel skuldig. En hier wil ek dit waag om te sê, ons voel skuldig, tot ‘n groot mate, omdat ons so besig is en omdat dit ons laat voel dat ons ons kinders op die een of ander manier afskeep.

– Kinders

Ons kinders hou ons besig; geen tweifel hieroor nie. Maar, kom ons wees nou maar eerlik… hoeveel van die druk en die gerondhollery word deur onsself veroorsaak. Hoeveel buitemuurse aktiwiteite kan ‘n graad eentjie hê!? Is dit ons as ouers wat ons kinders probeer druk, wat met ons kinders probeer spog – sien weer “samelewingsvereistes” hierbo…of is dit ‘n opregte begeerte van die kind om by al hierdie aktiwiteite betrokke te wees…En indien dit werklik die kind is wat alles wil doen…sien “Ja en Amen” hierbo; veral as jy nie die tyd of die finansies het nie!

My huwelik

Ek is seker daarvan ek kan nog honderde redes vir ons besige bestaan lys, maar kom ons kyk vir ‘n oomblik na die invloed wat hierdie gejaagdheid op ons huwelike het.

Ongelukkig het enige gegewe dag slegs 24 ure beskikbaar. As jy die wiskunde doen, is die antwoord eintlik baie logies en eenvoudig. As jou dag tot oorlopens toe vol is met dinge soos werksverpligtinge, kinderverandwoordelikhede en -aktiwiteite, sowel as al die ander goed waarvoor jy nie kon nee sê nie, voor jy nog jou minimum van ses ure se slaap moet inkry (ses!? …haha); wanneer kry jou huwelik ‘n kansie?

Soos enige verhouding, vereis ‘n gelukkige huweliksverhouding tyd en moeite. Moenie die fout maak om te dink, “my huwelik moet net vir die oomblik bietjie opsy geskuif word, want ek het nou te veel wat aangaan” nie. Dis in te veel gevalle daardie eerste treetjie na die afgrond toe.

Maak jou verhouding met jou lewensmaat, naas jou verhouding met God; prioriteit nommer een. As jy ‘n lewensmaat het wat jou ondersteun, wat jou liefhet en wat saam met jou die “battles” van die lewe “fight”, is dit tog soveel makliker as om dit alleen te doen. Maar julle gaan nie daardie huweliksmaats vir mekaar kan wees as julle nie tyd maak om bymekaar uit te kom nie! Al moet jy ‘n afspraak in jou dagboek insit teneinde ‘n volle uur, ononderbroke tyd saam met jou huweliks maat te kan spandeer, doen dit dan! En reel die res van jou dag daar rondom. Dis te maklik om, as dinge druk gaan, daardie afspraak te kanseleer en opsy te skuif, maar maak vandag ‘n harts- en ‘n kopbesluit om dit nie toe telaat nie.

Herevalueer

Miskien is hierdie die jaar waarin ons dinge bietjie herevalueer. Watter dinge, aktiwiteit en “verpliginge” is werklik belangrik en van waarde…en watter is doodeenvoudig ‘n mors van jou tyd. Hoe kan jy die nodige takies in jou dag, herskeduleer en rondskuif of inpas om jou dag gladder te laat verloop, of om vir jou huwelik tyd te maak.

Ek sal persoonlik, graag hierdie jaar meer tyd wil bestee aan; op die gras sit saam met my kinders en die miere dop te hou. Om in die vroeë aand, sodra my kinders aan die slaap is, saam met my man buite te sit en die sterre te bewonder voor ek my eposse beantwoord…

Dis alles in my hande; in myne en in joune. ‘n Jaar bied jou slegs 8765.81 ure…waarmee gaan jy jou tyd vul?