Seks; n vier letter woord wat party mense skarlaken-rooi laat bloos as hulle dit net erens raaklees, n woord wat ander weer sonder enige skroom sommer sal rondgooi; maar die feit bly staan hierdie vier letter woord vorm n kardinale deel van enige huwelik.

Seks word bitter selde as onderwerp opgebring in n huweliksberadingsessie, maar sodra ek die deur oopmaak, is dit n stortvloed van inligting wat deurkom.

Die vrouens voel mans het net seks op die brein, maak nie saak of hulle n ontsaglike argument gehad het vroeer die dag nie, vanaand sal manlief sy “luck probeer”. Mans voel weer hulle loop op eiers en moet heeltyd die “water toets” – is dit nou okay vanaand of nie. En omdat hulle gehoor het dat vrouens nie soos n ligskakelaar net aan skakel nie, probeer hulle sommer al die onderwerp vroegoggend aanspreek om sodoende hopenlik teen vanaand die skakelaar al so semi aan te hê (met totaal die teenoorgestelde uitwerking).

Min weet hierdie paartjies dat:

Mans seks nodig het om te voel en te ervaar dat hulle emosioneel aanvaar word deur hul vrou. Seks bied vir hulle emosionele sekuriteit en gee vir hulle die gevoel van aanvaarding, respek en liefde. Dus, as dit nie goed gaan met n verhouding nie, is n man se behoefte aan intiem verkeer met sy vrou in baie gevalle soveel groter.

n Vrou daarteenoor het emosionele sekuriteit, intimiteit, liefde en aanvaarding nodig alvorens sy aan seks kan dink. As dit nie goed gaan met die verhouding nie, is om seksueel te verkeer vir n vrou baie moeilik.

Ek het nie nodig om te verduidelik in watter verknorsing dit paartjies plaas nie!

Elke individu is uniek geskape en ons almal werk en dink verskillend. Jul mag dalk al gehoor het dat daar gesê word die grootste seksorgaan is die brein en hiermee stem ek saam. Oor die algemeen; veral in n vrou se geval, speel hoe sy oor die situasie dink en wat in haar kop aangaan, n baie groot rol in die aan of afskakel van die “ligskakelaar”. Mans is weer meer visueel ingestel.

Om hierdie probleem aan te spreek, word daar gereeld aanbeveel dat vroue vir hulle erotiese materiaal aanskaf om te lees. Sodoende kry hulle hulle gedagtes en hulle grootste seksorgaan aan die gang, sodat wanneer manlief sy “luck probeer” sy kanse tot n groot mate verbeter. En vir baie paartjies werk dit wondere. Veel beter as manlief wat hier teen 15h00 se kant al vir jou begin smse stuur met allerhande kode woordjies en vraagtekens…

Maar ek kan nie help om myself af te vra nie:

n Paartjie se sekslewe is vreeslik nou gekoppel aan die emosionele stand van hul verhouding. Soos vroeer genoem blyk dit n totaal onoplosbare probleem siklus te wees – emosionele sekuriteit wat aanleiding gee tot n gesonde sekslewe vir vroue en intieme seks wat aanleiding gee tot emosionele sekuriteit vir mans…Maar ek dink God het ons juis so geskape om te verseker dat ons konstant werk aan ons verhoudings, dat ons kan besef hoe belangrik it is om op n gesonde emosionele vlak met mekaar te wees. As ons as vroue/paartjies dan gebruik maak van eksterne hulpmiddels om ons te help om aangeskakel te word, is ons nie net besig om van seks n bloot fisiese ding te maak, eerder as n intieme ervaring tussen man en vrou nie?

 As seks bedoel is vir man en vrou om te geniet, en as God bedoel het dat ons mekaar moet aan en af skakel…is dit dan okay as buite faktore hierdie rol oorneem? As n vrou se brein die grootste seksorgaan is, en die is gevul met n denkbeeldige “scene” en n fiktiewe karakter in haar man se plek, is dit dan steeds man en vrou, as die unieke persoon, wat intiem met mekaar verkeer?

Ek dink erotiese materiaal mag dalk help om die fisiese aspek van die verhouding aan die gang te hou, maar mag dalk juis daartoe lei dat die emosionele aspekte agteruit gaan, dat die intieme emosionele konneksie tussen man en vrou as twee individue verlore gaan.

Daar is wel van my kliente wat beweer dat erotiese materiaal hul verhoudings tot nuwe hoogtes aangehelp het; omdat die fisiese aspekte nou makliker is, beinvloed dit hule emosionele sy meer positief.

Ek is seker daar kan n sterk saak gestel word vir beide die voordele en die nadele van die effekt van erotiese materiaal op n paartjie se sekslewe. Op die ou end moet jy en jou maat gemaklik wees met wat julle in die slaapkamer inbring, moet mens nooit vergeet dat seks n God-gegewe deel van n verhouding is nie en dat dit juis daar gestel is om man en vrou as twee individue emosioneel aan mekaar te verbind nie.