Dit is iets wat ek geen ouer toewens nie. Ons as ouers wil tog die beste vir ons kinders hê, ons wil hê dat hul gelukkig moet wees en moet uitsien na ‘n rooskleurige toekoms waarin hulle hul drome kan verwesenlik. Die realiteit is egter dat baie kinders voel asof hul nie meer wil lewe nie en dink daaraan om selfmoord te pleeg –ten spyte van ouers se beste poging om hul kinders gelukkig te hou.

Kinders het verskillende redes waarom hul nie meer wil lewe nie, maar meeste voel moedeloos, hulpeloos en is in ‘n diep donker gat waaruit hul nie kan kom nie. Dit is belangrik om te probeer vas stel wat daardie gevoelens veroorsaak sodat dit aangespreek kan word, dit kan verskeie dinge wees bv. boelie, ‘n traumaties ervaring, ouers se egskeiding, geweld in die gesin of selfs iets soos ‘n swak selfbeeld. In my ervaring het hierdie kinders depressie wat baie keer nie gediagnoseer is nie en ontvang hul dus nie die regte hulp om uit die donker gat te kom nie.

Maar, hoe gemaak as jy weet jou kind wil nie meer lewe nie?

Daar is hope mites rondom selfmoord wat ouers baie keer weerhou daarvan om dit reg te hanteer:

Mite 1 – As ek die selfmoord ideasies met my kind bespreek gaan dit my kind aanpor om selfmoord te pleeg.

Dit is nie waar nie, vir meeste kinders is dit ‘n groot verligting om die selfmoord gedagtes met iemand te kan bespreek. In my ervaring is dit ‘n baie moeilike gesprek vir ouers om met hul kinders te hê omdat dit so baie emosies by beide ontlok. Ouers word soms kwaad of so hartseer dat die kind nie weer die moed het om dit met hul ouers te bespreek nie. So ‘n gesprek sal jou kind en jul verhouding goed doen en kan emosionele verligting vir jou kind bring.

Mite 2 – Selfmoord dreigemente hoef nie ernstig opgeneem te word nie.

Baie mense dink dat selfmoord dreigemente net ‘n manier is om aandag te kry. Dit is net ‘n mite en baie kinders los tekens of noem aan iemand dat hulel wil selfmoord pleeg voordat hul dit doen. Indien jou kind sulke dinge sê – moet jy profesionele hulp inkry om jou kind te help.

Mite 3 – Mense/kinders wat selfmoord pleeg is irasSioneel en/of mal.

Selfmoord is baie keer beplan en kom voor as logies en as die enigste uitweg vir die kind.  Vanuit die kind se perspektief sal die wêreld en/of hul ouers werklik ‘n beter plek wees sonder hulle.  Baie keer voel kinders dat hul ouers dit makliker finansieel of emosioneel sal hê indien hulle nie meer daar is nie.

Mite 4 – Indien iemand een keer selfmoord gedagtes gehad het gaan dit nooit weg nie.

Talle kinders en veral tieners dink dikwels selfmoord is die enigste uitweg, hierdie gedagtes indien reg hanteer word deur ‘n profesionele persoon kan weggaan en die kind kan emosioneel gesond word.

Wenke om jou kind wat nie meer wil lewe nie te help:

  • Wees daar vir jou kind, aanvaar die gevoelens en praat daaroor.
  • Kry profesionele hulp!!
  • Help jou kind om weer die lekker in die lewe raak te sien deur spesiale dinge saam te doen wat die  kind geniet.
  • Indien daar selfmoord dreigemente was – moenie jou kind alleen los by die huis nie. Maak seker dat  alle wapens, medikasie ens buite jou kind se bereik is.
  • Indien jou kind sterk daaroor voel dat hy/sy nie meer wil lewe nie is hospitalisering nodig sodat jou  kind die regte medikasie en hulp ontvang.
  • Kyk na jouself – kinders is fyn ingestel op hul ouers se reaksies en emosionele toestand. Sorg dat jy  ook hulp kry.

Vir enige navrae kontak Vita Nova gerus by 0825414357