Liefde is een van die sterkste emosies wat ons as mense kan ervaar. Maar wat is liefde? Daar is ‘n groot aantal boeke wat liefde definieer en vir ons voorskryf hoe dit moet werk. Die probleem is egter dat niemand anders liefde soos jy sal voel nie. Aangesien liefde ‘n emosie is, is dit persoonlik en jou persepsie van liefde sal grootliks bepaal hoe jy dit wil hê en ook hoe jy dit gee. Met hierdie artikel wil ek graag my opinie lewer oor wat liefde is en hoe ons dit optimaal vir mekaar kan wys.

Ongelukkig word alle mense nie met dieselfde persepsie van liefde groot nie. Van ons kom uit liefdevolle huise uit wat dit vir ons makliker maak om liefde te wys. Van ons is egter nie so gelukkig nie. Liefde vir hierdie mense kan ‘n onbekende emosie wees, veral wanneer hulle dit moet wys. Hulle persepsie van liefde kan ook baie negatief wees, byvoorbeeld “ek wys vir jou ek is lief vir jou wanneer ek jou beheer”. Maar selfs al het ons nie talle kinder trauma’s nie kan ons persepsie van liefde irrasioneel wees. Gaan kyk byvoorbeeld na al die liefdes sprokies: Die prinses ontmoet ‘n prins wat haar red van die wrede draak en hulle leef gelukkig saam….Dit is baie keer die idee van liefde waarmee ons groot word. Wanneer ons besef dat geen prins perfek is nie en dat mense, al is hulle lief vir mekaar, mekaar soms seer maak, dan is ons baie teleurgesteld en ons verloor hoop in liefde.

In my werk met paartjies, is liefde een van die konsepte waarby ek stil staan. Dit is belangrik om te dink oor wat liefde vir JOU beteken en of jou persepsie regverdig en rasioneel is. Liefde is vir my meer as net ‘n emosie. Liefde moet prakties in jou verhouding ingesit word….dit gaan nie net spontaan gebeur nie. As paartjies mekaar ontmoet dan is dit wonderlik. Wanneer ons verlief is, is alles maklik en ons gee spontaan liefde vir mekaar. Ongelukkig is verlief wees ‘n chemiese reaksie in jou brein en dit gaan weg na ‘n ruk. Dit is hier wanneer baie paartjies ongelukkig en ontevrede voel. Maar nadat die verlief weg is, kom die liefde in. Dit is persoonlik, diep en wonderlik maar mens moet hard werk daaraan om dit in jou verhouding te hou – veral nadat mens getroud is. Omdat ek voel dat liefde prakties in jou verhouding ingesit moet word, verkies ek dit om “Die vyf Tale van die Liefde” (Boek geskryf deur Gary Chapman) te benut om paartjies te help om mekaar lief te hê. Dit is ‘n wonderlike boek  wat paartjies prakties help om hulle liefdeskoppies vol te maak en vol te hou deur mekaar se liefdestale te praat. Jy het gewoonlik een/twee primêre liefdestale. Ek sal dus nou die vyf liefdestale kortliks bespreek en hoe dit benut kan word om die liefde teenwoordig in jou verhouding te hou.

Fisiese aanraking

Fisiese aanraking is een van die belangrikste elemente in ‘n romantiese verhouding. Persone wat se liefdestaal fisiese aanraking is, het dit veral nodig op ‘n daaglikse basis want “Ek voel jy is lief vir my wanneer jy aan my vat”. Wanneer ek praat van aanraking praat ek van:

  • Drukkies
  • Soentjies
  • ‘n Hand op my skouer
  • Massering
  • Liefde maak
  • Mekaar vashou “cuddle”

Ongelukkig is fisiese aanraking nie ‘n gemaklike liefdestaal vir alle mense nie. Vir sommige mense kom dit nie natuurlik nie. Hulle sal dus nie sommer spontaan aan jou raak nie. Maar ongelukkig moet jy leer om hierdie liefdestaal te kan praat. Fisiese aanraking as liefdestaal kom meer algemeen onder mans voor. Ons as vrouens moet dus besef hoe belangrik aanraking vir ons mans is. Aanraking is koesterend en kan mens ontspanne en veilig laat voel end it is belangrik vir beide geslagte. Dis altyd vreemd dat fisiese aanraking die eerste ding is wat ons weerhou van mekaar as ons kwaad is – dit is egter juis wanneer ons dit die meeste nodig het. Maak dit dus ‘n reël in jou huis om elke dag aan mekaar te vat – soen mekaar, druk mekaar en moet nooit die mag van aanraking onderskat nie. Onthou dat liefde nie geweldadig is nie. Negatiewe aanraking soos stamp, slaan en skop kan jou verhouding baie sleg maak (veral vir die persoon wat se liefdestaal aanraking is).

Opboudende woorde

Woorde is die tweede liefdes taal: “Ek voel geliefd wanneer jy dit vir my sê, wanneer jy my vertel hoe belangrik ek vir jou is, wanneer jy vir my erkenning gee vir wat ek reg doen”. Persone wat se liefdestaal woorde is, is afhanklik van positiewe woorde om gelukkig te voel. Die negatiewe kant van hierdie liefdestaal is egter dat negatiewe en kritiese woorde vir jou baie sleg is en jy vat dit baie persoonlik op. Mens moet dus leer hoe om hierdie liefdestaal te praat as dit nie natuurlik kom vir jou nie. Opboudende woorde kan die volgende insluit:

  • Ek is lief vir jou
  • Jy beteken vir my baie
  • Dankie dat jy my lief het
  • Dankie dat jy ‘n goeie ouer is
  • Jy is vir my aantreklik
  • Jy maak sulke lekker kos

Die uitdaging met woorde is dat almal nie ‘n opboudende woordeskat het nie – veral wanneer jy uit ‘n baie kritiese huisgesin kom. In hierdie geval moet jy jou woordeskat verbeter deur uit te kyk vir opboudende woorde en te leer hoe om dit toe te pas. Indien jou maat se liefdestaal woorde is, kan hy/sy jou ook uithelp met watter opboudende woorde vir hulle belangrik is om te hoor.

Kwaliteit tyd

Vir persone wat kwaliteit tyd as liefdestaal het is jou onverdeelde aandag baie belangrik: “Ek voel geliefd wanneer jy tyd saam met my spandeer”.

Ek dink egter dat dit in alle verhoudings belangrik is vir paartjies om kwaliteit tyd saam te spandeer. Met kwaliteit tyd bedoel ek dat jy en jou maat saam dinge moet doen wat julle geniet. Hierdie is tyd sonder selfone en TV waar ons op mekaar kan fokus. Wanneer paartjies nie kwaliteit tyd saam spandeer nie gaan hulle konneksie met mekaar verloor wat die liefde uit jou verhouding uitsuig. Hier is voorbeelde van kwaliteit tyd:

  • Om saam uit te gaan op ‘n “date night”
  • Om saam te bad
  • Om saam te gaan stap
  • Om rustig om die tafel te sit en te gesels oor jouself
  • Om aktiwiteite saam te doen wat pret is
  • Om iets saam met jou maat te doen wat vir hulle lekker is

Wanneer jou maat nie kwaliteit tyd by jou kry nie, gaan hulle dit begin “demand” en dit is gewoonlik nie toepaslik nie. Jou maat kan begin besitlik en jaloers raak op jou want hulle soek jou tyd. Jy moet dus jou maat se behoefte aan kwaliteit tyd vervul voordat hulle begin vra daarvoor. Soos jy jou maat se liefdeskoppie begin vol maak sal hulle dit begin minder verwag.

Dienste

Dienslewering is die vierde liefdestaal: “Ek voel jy is lief vir my wanneer jy vir my iets doen”. Ek onthou as kind het ek gereeld vir my ma gesê “Mamma ek is lief vir jou” en ek onthou sy het altyd terug gesê: “Wys vir my hoe lief jy vir my is”. My ma se liefdestaal is dus dienste. Vir hierdie mense is dit belangrik en spesiaal wanneer jy vir hulle iets doen. Voorbeelde kan die volgende insluit:

  • Was die skottelgoed
  • Help my die huis skoon maak
  • Kyk na die kinders
  • Maak vir my kos/koffie
  • Help my met take wat jy weet ek nie geniet nie
  • Help my met take wanneer jy kan sien ek is oorweldig/moeg

In ‘n verhouding is dit dus belangrik om vir mekaar goedjies te doen – dit is ‘n baie ondersteunende liefdestaal. Die dienste hoef nie groot te wees nie – die kleinste taak kan ‘n groot verskil maak en jou maat geliefd laat voel.

Geskenke

Geskenke is die laaste liefdestaal: “Ek voel geliefd wanneer jy vir my iets gee”. Hierdie liefdes taal kom baie algemeen onder kinders en vrouens voor, alhoewel dit ook by mans kan voorkom. Geskenke is ‘n baie konkrete voorbeeld van liefde. Geskenke hoef nie duur te wees nie – maar bloot die idee dat jy aan my gedink het toe jy dit gekoop het, maak my liefdeskoppie vol. Voorbeelde van geskenke is:

  • Klein geskenkies elke week
  • Maak ‘n lys van verrassings waarmee jy jou maat kan bederf
  • ‘n Geskenk elke maand kan baie beteken – soos ‘n bos blomme
  • Wanneer jy kinders het kry hulle hulp om jou te help om ‘n geskenk te maak vir jou maat

Onthou egter dat geskenke nie omkoop is nie. Moenie wag tot jy in die moeilikheid is om vir jou maat ‘n geskenk te gee nie. Doen dit spontaan en sonder enige verwagtinge. Dit sal die wêreld vir hulle beteken.

Nou wil ek graag voorstel dat jy moet gaan kyk wat jou primere liefdestaal is en bespreek dit met jou maat. Gebruik hierdie as ‘n geleentheid om mekaar beter te leer ken en sien dit as ‘n nuwe avontuur vir jou en jou maat. Gaan kyk hoe jy jou maat se liefdestaal kan praat en pas dit elke dag toe. Wanneer jou liefdeskoppie vol is, is die kommunikasie, respek en vertroue in jou verhouding makliker en jy voel tevrede en gelukkig.

Ek wil graag dus hier opsom wat liefde vir my beteken: Liefde is ‘n baie sterk emosie maar dit meer as dit. Liefde is aanraking, dit is koesterende woorde, dit is tyd saam met jou maat, dit is die klein goedjies wat ons doen vir mekaar en die geskenkies wat ons vir mekaar gee. Liefde moet in jou verhouding ingesit word. Wanneer jou maat se liefdestaal nie natuurlik vir jou kom nie moet jy leer hoe om dit te praat. Ons moet elke dag liefde vir mekaar gee – dit is onvoorwaardelik en ons kan dit nie van mekaar weerhou nie, self al is ons kwaad vir mekaar. Onthou dat jy vir jou maat liefde moet gee op die manier waarop hulle dit nodig het (nie wat jy nodig het nie). Iets wat dalk nie vir jou baie beteken nie kan die wêreld vir jou maat beteken. Wanneer paartjies sukkel om mekaar se liefdestaal te praat moet hulle mekaar help en leer. Dit is ‘n bewustelike poging wat jy aanwend om jou verhouding sterk te hou. Moet dus nie verwag dat jou maat net bloot gaan weet hoe om liefde vir jou te gee nie – help en lei mekaar. Onthou dat liefde fundamenteel in jou verhouding moet staan – sonder liefde is dit onmoontlik om ‘n gesonde verhouding te handhaaf. Liefde moet ook deurlopend aan gewerk word. Moet dus nie verwag dat dit net spontaan en sonder moeite gaan gebeur nie.

Vat bietjie tyd en leer mekaar se liefdestale ken. Gee vir mekaar liefde elke dag en dit sal jou verhouding voed soos water ‘n plantjie voed. Gee dit onvoorwaardelik en sonder om altyd iets terug te verwag. Vat aan mekaar, praat met mekaar, maak tyd vir mekaar, doen goed vir mekaar en aanvaar mekaar. Dit is wat liefde is…. Onthou BAR ONE – bemin mekaar, aanvaar mekaar en respekteer mekaar – dan sal ons altyd EEN wees.