Hier by Vita Nova is gesinne vir ons baie belangrik. Ons glo in verhoudings en in die vermoë wat jy het om ‘n verskil in jou eie lewe te kan maak. Ons verhoudings met ons gesinslede kan ook ons interpersoonlike verhoudings met ander beinvloed en daarom is dit belangrik om die nodige tyd en aandag aan jou gesin te spandeer. Dit is waar goeie gesinsgewoontes en tradisies ‘n verskil kan maak. Alle gesinne het hulle eie tradisies wat hulle spesiaal maak. Om die nuwe jaar te begin wil ek graag ‘n paar van hierdie tradisies en gewoontes bespreek wat 2015 saam met jou gesin spesiaal kan maak. Probeer om van hierdie gewoontes ‘n daaglikste deel van jou gesinslewe te maak.
  

Eet ten minste een ete per dag saam as gesin

Om as gesin saam te eet bied die geleentheid om met jou gesinslede te gesels en om op hoogte te bly van wat in hulle lewens gebeur. Aangesien mense so besig is, is dit maklik om verby mekaar te begin lewe. Maak dit dus ‘n daaglikse instelling in jou gesin.
   

Maak dit so maklik as moontlik vir jou kinders om met jou te praat

Hierdie gewoonte gaan gepaard met die eerste tradisie. Jy as ouer moet dit maklik maak vir jou kinders om met jou te praat. As hulle nie met jou kan praat nie, met wie kan hulle praat. Wees die tipe ouer wat eerlikheid motiveer deur jou kinders toe te laat om eerlik te wees met jou. Gee vir hulle jou onverdeelde aandag wanneer jy luister en onthou om oogkontak te maak; jy sal eendag die vrugte daarvan pluk.

Be-oefen stokperdjies saam

Die internet is vol stokperdjie idees – gaan kyk wat daar is en pak ‘n projek saam as gesin aan. Dit bevorder kreatiwiteit en samewerking. Maak elke gesinslid deel van die besluitnemingsproses, soedoende hou mens dit regverdig en kry elke lid van die gesin n beurt om n aktiwiteit te kies.  

Leer jou kinders van liefdadigheid (mense en diere)

Ek beveel alle ouers aan om met hul kinders oor die welstand van kinders en diere te gesels. Dit is belangrik dat hulle weet en eerstehands kan ervaar dat hulle bevoorreg is en dat hulle ‘n verskil kan maak in die wêreld. Gaan kyk watter organisasies in jou omgewing is en vind uit hoe jy en jou gesin betrokke kan raak.  

Speel met jou kinders

Daar is min dinge so belangrik soos om saam met jou kinders te speel. Jou kinders wil saam met jou tyd spandeer – saam met jou speel. Hoe jonger jou kinders is hoe meer speeltyd het hul nodig. Speeltyd moet pret wees – moenie te veel klem probeer lê op leer tydens speeltyd nie – daar is genoeg tyd vir kinders om te leer. Doen prettige aktwiteite saam met jou kinders, soos koekies bak, met modder speel, bordspeletjies ens. Wie weet, dalk doen dit jou goed om weer ‘n bietjie kind te wees.

Neem tyd om jou kinders in die bed te sit

Van my gunsteling herinneringe as kind, is wanneer my ma ons in die bed gesit het – stories is gelees, wense en drome is gedeel en soene is uitgeruil. Bedtyd kombineer vier van die liefdestale in een aktiwiteit – aanraking, tyd, woorde en dade. Vat die tyd om bedtyd deel van jou gesin se roetine te maak. So gee jy strukuur aan jou kinders se dag en die dag kan positief afgesluit word.

Laat jou kinders help met take rondom die huis

Laat jou kinders toe om jou te help met take in en rondom die huis. Betrek jou kinders wanneer jy kosmaak, skoonmaak en regmaak. Dit leer jou kinders verantwoordelikheid en laat hulle voel dat hulle ‘n bydrae lewer. 

Die bogenoemde is maar slegs ‘n paar goeie gewoontes wat jy en jou gesin in 2015 kan aanpak. Begin jou eie gesinsgewoontes en tradisies en maak 2015 ‘n jaar om te onthou. Onthou dat tyd saam belangrik is en dat mens ongelukkig tyd moet maak vir mekaar. Mens moet nooit te besig raak om saam te eet, saam te speel en net saam te wees nie.

Die wonderlikste aspek van gesinsgewoontges is dat jou kinders dit ook eendag in hulle eie gesinne kan toepas. Dit word dus oor die generasies heen voortgedra en dra by tot jou generasie se funksionaliteit. Neem ‘n oomblik om te gaan dink aan moontlike goeie gewoontes en tradisies wat jy as kind geleer het en pas dit toe in jou gesin. Dit sal positief bydra daartoe dat jy goeie gesinswaardes in jou kinders bou wat hulle na hulle eie kinders kan oordra. Maak dit deel van ‘n gesinsaktiwiteit en laat al die gesinslede toe om ‘n bydra te lewer. Sodoende koop jou gesinslede in op die idee en dit is meer waarskynlik dat hulle dit sal toepas.

Sterkte met 2015 en maak dit ‘n jaar van liefde, geloof en hoop.

“Let us make one point, that we meet each other with a smile, when it is difficult to smile. Smile at each other, make time for each other in your family.” 
― 
Mother Teresa